|
|||||||||||
|
| VIND: |
Boeke
Intelligente digterskap bevestig en voortgesit
07/06/2009 06:16:06 PM - (SA)
Poësie
VUURWIEL
Joan Hambidge
Vuurwiel is Joan Hambidge se 20ste digbundel in ’n publikasieloopbaan wat oor 24 jaar strek. Sy het haar reeds op ’n aantal maniere van haar mededigters onderskei.
Eerstens kan sy as een van die belangrikste verteenwoordigers van die lesbiese stem in die Afrikaanse poësie gereken word. Tweedens is sy een van die eerste digters wat nuwe publikasieroetes verken het (vergelyk in dié verband Sewe Sonjas en wat hulle Gedoen het, 2001). Derdens is sy een van die mees geslaagde beoefenaars van die parodie in die Afrikaanse poësie. Vierdens het sy as lid van die sogenaamde “Tagtiger”-beweging ’n aantal postmoderne tegnieke soos selfrefleksiwiteit, die ondermyning van klassieke digvorme en ’n verwerping van konvensionele genrebeperkings sinvol in haar poësie ontgin.
Tot op hede is sy die enigste Afrikaanse digter wat daarin kon slaag om ses digbundels in ’n periode van twee jaar by gesaghebbende uitgewers te publiseer.
Vir Hambidge gaan dit in die eerste plek oor die poësie en niks anders behalwe die poësie nie. Haar poësie noop lesers en literêre kritici om voortdurend die maatstawwe waarvolgens hulle literatuur beoordeel in oënskou te neem en vrae te vra soos: Wat is poësie? Wat is literêre kwaliteit? Wie en wat bepaal literêre kwaliteit?
Om gedigte te skryf is vir Hambidge ’n vorm van oorlewing en gevolglik noodsaaklik.
Die skeppingsproses vorm ’n integrale deel van haar identiteit, soos die volgende reëls uit “Ek is Niks” aantoon: “Ek is niks sonder my woorde / nie. My woorde is niks sonder / my nie. O woorde, stukkende woorde wat ek heel timmer op die roete, / die lang pad na die groot vergeet.” Dit is myns insiens belangrik om Vuurwiel binne Hambidge se totale poësie-oeuvre en haar spesifieke literatuuropvattings te beoordeel ten einde die bydrae daarvan na waarde te skat.
Vuurwiel is ’n bevestiging en voortsetting van Hambidge se intelligente digterskap, maar kan nie as ’n noemenswaardige vernuwing in haar werk beskou word nie. Daarvoor word te sterk op ’n reeds bekende werkswyse en tematiek gesteun, byvoorbeeld die ontginning van moderne rekenaar- en selfoontegnologie, fotografie, die filmkuns, Hollywoodsterre en ander populêre media as metafore van verlies; die aansluiting by ’n vroeëre tradisie; reisgedigte wat dikwels in verband gebring word met ’n mislukte verhouding of wat ’n kunsteoretiese besinning vooropstel; familiegedigte; lykdigte wat gesprekke met afgestorwe vriende aanknoop; en skerpsinnige parodieë wat satiriese kommentaar op die maatskappy en literêre bedryf lewer. Laasgenoemde is vir my die mees geslaagde vorm van parodie wat in afdeling IV (“Toespelings”) van die bundel ter sprake kom.
Die parodieë “Winternag – ’n Parodie” en “Boggom en Voertsek” lewer albei spottende kommentaar op die Afrikaanse literêre bedryf. In eersgenoemde word die spot gedryf met wedersydse beïnvloeding van skrywers en die parodie as literêre modus, soos uit die volgende blyk: “O treurig die wysie / op die napraat se maat, / soos die lied van ’n digter / in haar inspirasie verlaat. / In elk’ antwoord se vou /blink ’n druppel berou / wat vinnig verbleek / tot napraat én trou!”.
“Boggom en Voertsek” spot met gevegte tussen lede van die literêre binnekring. Die lighartige dog spottende toon blyk duidelik in die volgende reëls (veral as dit met die oorspronklike Leipoldt-gedig in verband gebring word): “Boggom en Voertsek het saam getewe / in Die Burger se rubrieke saam / En in die briewekolomme so ewe, / as die misverstand oor alles staan.”
Die gedigte wat in die sesde afdeling van die bundel opgeneem is, fokus sterk op die religieuse of spirituele ervaring en sluit aan by voorafgaande gedigte in die eerste afdeling (en veral “Ek is Niks” in die tweede afdeling) waar ’n dieper besef van individuele verganklikheid ter sprake is.
In “Christus in Rio” word die spot gedryf met die oppervlakkige belewing van die religieuse en die banale vlak van ontheiliging deur middel van moderne tegnologie (in die vorm van digitale fotografie) wat die Christusbeeld in Rio de Janeiro tot ’n verbruiksartikel reduseer, want binne die digitale era is niks meer van waarde, ewigdurend of heilig nie, sodat die spreker in die slotreëls moet verklaar:
“Die spirituele oomblik / gedigitaliseer, vermeerder soos brode, / toe daar visse soos reën oor ons sak.”
Die gedig “Glo” toon ten opsigte van ekspressionistiese beelding, taalgebruik en ekstatiese toonaard sterk ooreenkomste met die religieuse poësie van Sheila Cussons.
Op ’n sekere vlak kan die gedig as ’n nabootsing van Cusssons se styl beskou word, hoewel dit ook as ’n onafhanklike teks gelees kan word. Die treffende beelding is duidelik in die volgende: “Onsigbare laser / snydende swaard / priem deur my blindeoog / tot u oopgaan: / kaleidoskoop van kleure; sandkorrels van genade.”
Vuurwiel sluit nou aan by Hambidge se vorige werk. Kenners van haar poësie sal onmiddellik die kreatiewe taalspel, selfondermyning, speelsheid en uitdaging van gevestigde patrone herken.
Tog bly dit ironies dat Hambidge, as gedugte ondermyner van die konvensionele, met Vuurwiel in ’n voorspelbare patroon verval het.
Miskien het dit tyd geword dat Hambidge besef dat daar ’n tyd vir alles is, ook ’n tyd om van ou weë af te sien ten einde groter hoogtes te bereik.
) HUMAN & ROUSSEAU, KAAPSTAD. (SAGTEBAND, 120 BLADSYE, ISBN 9 780 79815 061 3.)
) neil cochrane doseer afrikaans aan die universiteit van suid-afrika.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |