Webwerf Foto's
Argiewe Netads
WEER » Kaapstad 13º / 24º | Worcester 8º / 25º | George 8º / 22º | Port Elizabeth 10º / 21º Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com
TUIS NUUS SPORT VIDEO FOTO'S SAKE24 OPINIE BRIEWE BLOGS
VERMAAK BOEKE SPOTPRENT PEILINGS NETNAWEEK MOTORS STYL REIS BY
LANDBOU LESERSFOTO'S WÊRELDBEKER 2010 VIND: MOTORS POSTE EIENDOM
VERSEKERING
Spaar by OUTsurance.  Kliek hier vir huisinhoud-, besigheids- en motorversekering.
Floris Brown
Floris Brown
Boeke
Brown het mededoë vir medemens, passie vir God, hartstog vir poësie
25/05/2009 09:31:39 AM - (SA)

Hoe vat ’n mens die veelsydige Floris Brown saam? Skaakspeler, musiekmaker, hartstogtelike ywe­raar vir Afrikaans, en digter – veral digter. Noem hom struggle-digter, want dit is hy wel, met reg immer opstandig teen apartheid.

Maar ook opstandig teen die klimaat van geweld in die land, veral geweld teen vroue en kinders. Woes beskermend is hy wat die bruin volk betref waaraan hy ­behoort, kampvegter vir hul ­kulturele regte – eers deur wit en nou deur swart ontneem. Teer is hy ook, vol liefde en mededoë vir sy medemens, en passievol vir sy God. En alles vind neerslag in sy ­poësie.

Floris Abraham Brown is in 1948 in Worcestor gebore. Hy ­bekwaam hom as onderwyser en hou skool tot sy uitdienstrede in 1999; tans is hy betrokke by die Instituut vir Blindes. Hy’s musikant met ’n eie orkes waarvoor hy die musiek komponeer; gedugte skaakspeler, dien hy in die ­Bolandse skaakvereniging.

Hartstogtelik lief vir poësie – “die digkuns is die juweel van skryfkuns,” verklaar hy – stig hy in 2002 Die Breedevallei Dichters wat voornemende digters aanmoedig deur hul werk te publiseer.

Die vierde versameling van dié digtersgroep het verlede jaar verskyn. Dit heet 7de Reënboog, is deur Brown saamgestel, opgedra aan Joz ­Brummans, “Stadsdichter van Harderwijk”, Nederland, en bevat die werk van sowel Afrikaanse as ­Nederlandse digters.

Die bundel is van wisselende ­gehalte, maar getuig van ’n ­opregte begeerte om gevoelens van haat en wrok en lyding in taal om te sit, opregtheid wat direk tot die hart van die leser spreek.

“Skryf dit uit jou uit,” adviseer Brown, “en eendag skryf jy dalk soos die jonger geslag oor sommer gewone goed soos die liefde . . .”

Hy gee sy bundels self uit, ­verlang na die dag wanneer bruin uitgewers op die toneel sal ­verskyn; dig meewarig in Ankerland Khoisanland (2007):

“Dit is die jaar 2004 / uitgewers in Suid-Afrika / het stil geword / is reeds vir jare poësiestil / ’n sinergie word vertroetel: / ‘Ons hang slegs stêrre / aan die hemelruim om te skyn’ / O wee / wat nou gemaak met vuurvliegies / wat in die niet verdwyn ? / maak dit dan saak as vuurvliegies / in die niet verdwyn ? / as vuurvliegies in die niet verdwyn . . .”

Brown het ’n lang en verrykende verbintenis met Nederland. Hy glo dat Afrikaans net kan baat by skakeling met die stamland en etlike van sy bundels bevat Nederlandse vertalings van die ­gedigte, onder andere ook deur ­Alfred Schaffer.

Brown se jongste digbundel (in samewerking met Michel Martinus) verbaas deur die uitsonder­like mooi aanbieding daarvan. Dis uitgegee deur Uitgeverij Triggertree BV, Harderwijk, en is in A4-formaat, maar dwars gedraai ; op die voorblad twee hande, wit onder, bruin bo, wat drie gespikkelde ­eiers asof in ’n nes koester.

Die twee hande is dié van die digters: Brown self en Martinus, skuilnaam van ­Brummans. Die Afrikaanse verse is swart op wit ­gedruk, die Nederlandses wit op swart. Die titel is Die Hand wat ons Voed is Weg.

Die bundel is ’n boeiende twee­gesprek tussen (volgens die foto op die agterblad) die kaalkop Brown en die digbesnorde Martinus. En dit geld ook hul benadering.

Kaalkop pak Brown die probleem van mans wat hul vrou verlaat, hul kinders agterlaat. Hy skryf uit die blikhoek van die veronregte vrou en haar stryd om alleen die mas op te kom. Haar ­uiteindelike oorwinning oor haar omstandighede word deur haar deurlopende verlange na haar man versuur.

Martinus se gedigte vorm ’n sonore, melankoliese ­deskant. Sonder om vertaling te word of dit te wil wees, speel sy ­verse in op Brown se tema, haak aan by sy wyse van aanbieding. So vind die twee stelle verse weerklank in mekaar. Brown se gedigte is rouer, tref seerder; Martinus s’n gee afstand, digterlike perspektief. Die bundel is tegelyk onmiddelik omdat dit die maatskaplike ­euwel van geweld teen vroue ­aanspreek, en universeel omdat dit van liefdesverlies en -verlange vertel.

Ek is nie sonder kritiek nie. Van die verse sou baat vind by strenger redigering. Maar lees ek gedigte soos “Tot op die Been Gevlek Gestroop”, waarin die stroop van die beddegoed metafoor word vir die gestroopte vrou; of “Jou Reuk ­Teister my”, met sy herkenning van die dwingende mag van herinnerde geure; of “Wanneer Gebed nie meer Saak Maak”, waarvan die skrynende slotbeeld God tot musikant maak, dan herken ek in Brown nie net ’n digter nie, maar (om dieselfde gedig te parafraseer) ’n mens in wie se weerkaatsing ek God sien.

. Stuur e-pos na j.f.leene@solcon.nl om Brown en Martinus se bundel te bestel.

. Cecile Cilliers is ’n Kaapse skrywer.

    
VIND
Mediese Fonds
Reis & Verblyf
Kom ons kliek
Motors
Kontantlenings
Beligting
Eiendomsbelegging
Wegbreeknaweek
Musiekinstrumente
Eiendomme te huur
Leerprodukte
Buitelewe
Werksgeleenthede
Gesondheidsprodukte
Eiendomme te koop
ONS BEVEEL AAN
netNaweek
Nie seker wat om die naweek te doen nie? Kry elke Vrydag netNaweek.com, propvol nuus oor die lekkerste wat die Kaap het om te bied en wen hope pryse. Die gratis e-pos sluit inligting oor flieks, teater, restaurante, uitstallings, wegbreek-naweke en sommer enige iets wat pret is om die naweek te doen in.

Gaan na netNaweek om te registreer.
Inskrywingsvorm vir 2009 se LENTE Vakansieskole
Alle graad 10-, graad 11- en graad 12-Jippers kan uitsien na vanjaar se lenteskool. Skryf nou in vir Die Burger se Lenteskool in Port Elizabeth.
Kliek hier vir inskrywingsvorm
84 dae
tot afskop
2010
Wêreldbeker 2010
VIND
Mediese Fonds
Reis & Verblyf
Kom ons kliek
Motors
Kontantlenings
Beligting
Eiendomsbelegging
Wegbreeknaweek
Musiekinstrumente
Eiendomme te huur
Leerprodukte
Buitelewe
Werksgeleenthede
Gesondheidsprodukte
Eiendomme te koop
NETADS24
Soek ‘n advertensie

Algemeen
Loopbane
Motors
Eiendomme

VIND OU SKOOLVRIENDE
Kies jou skool se provinsie:
En klik op die eerste letter van jou skool:
ABCDEFGHIJKLMN
OPQRSTUVWXYZ
ONS BEVEEL AAN
netNaweek
Nie seker wat om die naweek te doen nie? Kry elke Vrydag netNaweek.com, propvol nuus oor die lekkerste wat die Kaap het om te bied en wen hope pryse. Die gratis e-pos sluit inligting oor flieks, teater, restaurante, uitstallings, wegbreek-naweke en sommer enige iets wat pret is om die naweek te doen in.

Gaan na netNaweek om te registreer.

       
 Kontak ons | Navrae | Teken in op ons nuusbrief | Vrae oor registrasie | Adverteer | gebruikersooreenkoms |