|
|||||||||||
|
| VIND: |
Boeke
ONNOEMENSWAARDIG
19/04/2009 06:25:35 PM - (SA)
Die buiteblad van Johann de Lange se eerste nuwe digbundel sedert 1995, Die Algebra van Nood, illustreer iets van die tema en toon van die bundel. Wat veral opval, is die ets van ’n droewige, gekwelde gesig, met hande in die (min) hare. Agterop is daar ’n gekrabbel agter syfers (soos algebra?), en ’n skets vir ’n gedig wat in die bundel verskyn, “Rembrandt”:
Rembrandt het sy doeke met donker
verlig, sy soeke na klaarheid
met skadu’s verdig
Soos Rembrandt deur donker en skadu in sy werk helderheid gesoek het; so streef die digter deur woorde – “wat maar klank en teken is” – na betekenis. In albei kunsvorme is daar beperkings en teenstrydighede in die middele tot representasie.
Saam met ’n afdeling ars poetica is daar ’n twintigtal gedigte – of fragmente van gedigte – oor die maak van die gedig, oor woorde, oor taal. Dan ook nog motto’s, parodieë, opdragte en herinnerings aan ander digters, en verse op die wysie van ander digters se verse ook by die twintig.
Die middele waardeur betekenis sou kon kom, word soms sinvol gebruik. Daar is metafore wat slaag, intuïtief beelde skep. Soos skape geassosieer met wol: “ . . . kop aan heup in ’n ry / staanslaap die skape gebrei”. Ook beelde oor ’n gedig, soos: “wat hier staan, is geen gedig / veel eerder ’n kopreis / deur die ja-nee van ’n beeld . . . ” ; en: “Die beeld buig bronstig /oor sy aarde gekrom / soos oor ’n minnaar / maar sy ekstase bly stom”.
Daar is egter ook beelde wat te uitgedink is, eerder kognitief as intuïtief. Soos in die gedigte “Duimsketse”, “Oggendlied vir die Vissers”, “Sketsboek”, “Bloem in die Karoo”. Soms oordoen, retories dekoratief. ’n Voorbeeld is enkele reëls waarin alliterasie en assonansie net te veel word – miskien gepas as voorlees-satire. Dit kom uit “Bolandse Tafereel”: “Dan: onder rankroos-boë deur / tot by die oase: bottels / & blikkies drank wat klots / & rinkel tussen slinkende ysskotse, / & die geklets van gesinne, / verliefdes & verloofdes, / huislike krakele vir eers vergete. / In die agtergrond die plaasdam: / krakeluur van water met eende / & stink groen slym . . . ”
Miskien ook te lank. Ek wonder ook of die bundel nie te veel is nie. Miskien sou dit strenger geredigeer kon word?
’n Opvallende verskynsel uit die aangehaalde stuk ook deel van die kuns van die poësie hier is die gebruik van die “&” vir “en”, maar ook soms vir ’n komma; of dit kan doodgewoon uitgelaat word. Die “&” word dus ’n teken, soos woorde tekens is, en soos algebra wat met tekens werk.
’n Kort afdeling (VII: “Wat Sag is”) word gewy aan opdragte, waarvan die een vir my raaiselagtig is. Dis opgedra aan Hennie Aucamp, en dit is ’n beskrywing in die fynste besonderhede van ’n disseksie, wat by die “skrander kop” begin, en eindig ná die ontbloting van die bloederige ingewande waar alles “onnoemingswaardig” is met “Maar jy is meer as die som van jou dele. / Jy is meer as wat kloofbaar is”.
’n Aanduiding van die motivering vir hierdie oopkloof van ’n liggaam lê miskien in die mededeling dat die hart in orde is; en “Hy is nooit / deur jou bemin nie”. Is die gedig dan ’n ver-beelding van iets wat sou kon gebeur het?
Iets soortgelyks – die indringing in die liggaam van ’n ander – is die “Palinode” in die styl van Van Wyk Louw (veral in Tristia), en dus gerig aan hom:
Nog een maal wil ek in jou mond kom
onbevange en sonder vrees, sonder kondoom diep
in jou gorrel my vlees
forseer & fluister, al is jy seer & dof,
met elke druppel
wat uit my donker in jou donker plof.
Haat en liefde, of ook ’n soort wraak? Ek sou sê: verkragting /ontkragting. Eintlik behoort ’n mens jou nie te ernstig aan dié gedig te steur nie.
Buiten die verskeie fragmente van De Lange se poëtiese bespiegeling oor die ars poetica is die meeste ander gedigte in die bundel onnoemenswaardig.
Maar De Lange het dit waarskynlik ook aangevoel; daarom begin hy die bundel met dié byna laaste, droewige woorde van T.S. Eliot se The Waste Land:
“These fragments I have shored against my ruins”.
Human & Rousseau, KAAPSTAD. (SAGTEBAND, 128 BLADSYE, ISBN 9 780 79815 048 4.)
AMPIE COETZEE IS EMERITUS-PROFESSOR IN AFRIKAANS AAN DIE UNIVERSITEIT VAN WES-KAAPLAND.
Poësie
DIE ALGEBRA VAN NOOD
Johann de Lange
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |