|
|||||||||||
|
| VIND: |
![]() Boeke
Kabarettis laat ou temas nuut herverskyn
05/10/2008 07:50:16 PM - (SA)
Poësie: VLAMSALMANDER
Hennie Aucamp
****
Vlamsalmander is verstegnies en tematies Hennie Aucamp se veelsydigste digbundel tot dusver. Die twee voorafgaande bundels – Hittegolf van 2002 en Dryfsand van 2005 – was beide versamelings sonnette wat gekonsentreer het op die erotiese, die mitologiese en die artistieke. Dié temas verskyn weer in Aucamp se jongste, maar nou in ’n verskeidenheid versvorme aangevul met wat ’n mens liedtekste, kabarettekste (“Die Wederkoms - Variasies op Temas in Raka”) en ’n prosagedig (“Blues vir ’n Verdronke stad”) sou kon noem. Wat die bundel verloor aan konsentrasie wen dit aan verskeidenheid.
Die pragtige natuurverse in Dryfhout word voortgesit in die derde en vierde afdelings van Vlamsalmander. In afdeling drie word die see én die mense van Seepunt beskryf, en afdeling vier getuig van Aucamp se ekologiese besorgdheid. Ten minste twee gedigte – ’n haikoe en ’n kwatryn – verwys na die treffende bandfoto, “Roots of the Richterveld” deur Mark van Coller. Die kwatryn het die titel “Witgatboom”:
Dié witgat met geknotte spiere
verman hom teen die bergwoestyn,
maar mettertyd – sy wal kalf in –
sal hy, oudstryder, ook verdwyn.
Hennie Aucamp is natuurlik ’n meester van die vierreëlige vers, soos wat reeds geblyk het uit sy kwatrynbundels Die Blou Uur (1984) en Koerier (1999), asook uit sy liedtekste. In Vlamsalmander durf hy nou ook die driereëlige, 17-lettergrepige haikoe aan. Die een oor die gefotografeerde witgatwortelboom gaan so:
boom in die woestyn
span sy tentseil teen die son
eerste bedoeïen.
’n Japannese haikoe rym uiteraard nie, tog skep Aucamp dié illusie deur die n-klank waarop al drie reëls eindig. Vir die Westerse oor en oog is dit onbewustelik besonder bevredigend.
Van die natuurgedigte wil ek ook uitsonder “Die Visarend”, “Herfs” (met sy weerspreking van NP van Wyk Louw: “Dié dae is reeds heilig / en vra om geen gebed”), “Die Bittereinders” en veral “Winterdag”.
In die laasgenoemde gedig word die Neerlandistiese en argaïese woorde wat soms by Aucamp pla (in “Die Visarend” staan byvoorbeeld die woord “TV-ploeg”), besonder funksioneel aangewend. Die frase “van ongemene prag” pas perfek by die metaforiese verwysing na die 17-eeuse edelsmidsgilde. Tipies van die kabarettis Aucamp vind mens ’n anachronistiese naasmekaarstelling van die Afrika-woord “tjaila” en die oud-Europese woorde “gilde” en “grag” in die slotstrofe. Hier is die hele gedig:
Die witgoud van ’n winterdag
– uiteindelik is daar son –
word voor jou oë omgesmee
tot iets van ongemene prag.
’n Kaapse stuk, bokaal of kom,
met eie binnegloed –
maar nee, laat ons regverdig wees,
tóg deur die son gevoed.
Teen vieruur word getjaila,
’n gilde het sy eise
en in die stadskom vul die skadu’s
die strate gragsgewyse.
Sommige gedigte (soos “Daardie Dag in April” en “Die Neefs”) klink na lirieke, en die beste een, “Straatbank, Esplanade”, is reeds baie suksesvol deur Amanda Strydom getoonset en gesing. Dit is ’n liedteks waarop ’n Bertolt Brecht trots sou gewees het.
Die eerste afdeling van die bundel bevat gedigte oor kunswerke. Die digter tree hier as ’n kunskritikus op wat beskryf, interpreteer en evalueer. Hy is nogal krities oor ’n beeld van Rodin (“L’enfant prodigue”) en beskuldig hom van oordrewe romantiek.
Wanneer die digter bloot beskryf, soos in “Piet Mondrian (1872-1944)”, het dit ’n minder bevredigende gedig tot gevolg. Daarenteen is die verklaring wat hy gee waarom een van Rembrandt se selfportrette onvoltooid gebly het besonder boeiend, want Aucamp doen dit self beeldend. Die “grondering” vir die portret is naamlik gedoen met “bloederige rooie”, met die moontlike gevolg dat Rembrandt teruggeskrik het toe hy homself “in eie plasma” wou gaan soek.
Van hierdie beeldgedigte is ek die meeste beïndruk deur die kwatrynreeks “Die Bulle – By Sewe Litografieë van Picasso”. Aanvanklik hinder die Nederlandse woord “lul” (penis) in die vierde kwatryn ’n mens, totdat jy besef dat dit in die slotkwatryn – oor ’n afstand heen – rym op “bul”. In Picasso se litografieë word die bul al hoe skematieser voorgestel.
Ten slotte bly daar niks meer oor van sy “seksgevaar” nie. In die slot roep die woord “bul” sy rymeggo op en daarmee word dié reëls dubbelsinnig: “en soek jy bul, / moet jy hom vir jouself ontdek”.
Vlamsalmander is ’n omvangryke bundel wat getuig van Aucamp se intense belangstelling in die skeppende mens en sy omgewing.
My enigste beswaar is juis dat die bundel té omvangryk is. Daar is te veel gedigte van mindere allooi opgeneem wat liewer in die laai moes bly lê het.
) PROTEA BOEKHUIS, PRETORIA. (SAGTEBAND, 115 BLADSYE, ISBN 9 781 86919 246 4.)
) DANIEL HUGO is ’n digter en uitvoerende direkteur van die huis der nederlanden.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |