|
|||||||||||
|
| VIND: |
Boeke
FIKSIE:’n Slagterseun met ’n Brilletjie,Tom Lanoye
31/08/2008 08:57:54 PM - (SA)
Tom Lanoye het in 1996 ’n vastrapplek in die hart van Afrikaanse lesers gekry danksy die vertaling, deur Daniel Hugo, van sy trefferboek Kartondose. Dié “literêre popster” van die Lae Lande het verlede Woensdag 50 geword.
Afrikaans kon nie vra vir ’n beter geskenk as Protea Boekhuis se besluit om ’n keur van Lanoye se gewildste skrywes onder die titel ’n Slagterseun met ’n Brilletjie uit te gee nie. Hugo was, met sy besondere aanvoeling vir Lanoye se werk as digter, prosaïs en dramaturg, ’n logiese keuse as vertaler.
Die sjarme van die Lanoye-narratief, wat lesers hier en in Europa in groot getalle oorrompel het, blyk duidelik uit verskillende elemente in die ses verhale wat in Slagterseun opgeneem is.
Die biografiese inslag onderliggend aan van Lanoye se populêrste werk is aanwesig in die helfte van die vertellings in hierdie publikasie.
In die titelverhaal word die skrywer se familiegeskiedenis in die historiese raamwerk van die wêreldoorloë verken. Wanneer die skrywer se moeder las het van sy skoppende fetus in haar buik, openbaar Jean-Baptiste, ’n Lanoye-voorvader, hom in ’n visioen aan haar. As boodskapper uit die dode druk hy dit haar op die hart dat dié telg tog ten alle koste die trotse slagtertradisie van sy voorsate moet voortsit. In 1917 is Noë Lanoye immers deur Duitse soldate gedwing om perde wat in veldslae gewond is, dood te maak en af te slag.
Teen die einde van die verhaal protesteer die pasgebore baba egter luidkeels dat hy eerder ’n digter en “performer” wil word wat in “die gimnastiekklas . . . op elke outjie verlief raak”.
Die surrealisme wat die titelverhaal ten grondslag lê, word deurgevoer na die res van die bundel. Deurgaans is daar ’n spel tussen feit en fiksie, die reële en die absurde, fantasie en werklikheid.
Grense tussen dié sfere word moeiteloos opgehef deur Lanoye se kenmerkende narratiewe drif, sy besondere humor en die aanwending van genre-wisseling. Die visuele aanslag in Lanoye se prosa dien as smeermiddel teen die moontlike vervreemding wat lesers mag ervaar as gevolg van die kreatiewe omgang met tradisionele konvensies.
“ ’n Perfekte Moord (’n Riller)”, “Spek en Boontjies (’n Draaiboek)” en “Onweer in die Trope (Tonele)” bevestig die opvatting dat Lanoye-lesers selde kan waag om die uitkomste van sy vertellings te voorspel. Die verrassende wendings waarmee die intriges telkens ontknoop, illustreer die werksaamheid van ’n meesterlike verbeelding.
Perspektiewe op die Suid-Afrikaanse werklikheid word ontgin in die verhale wat onderskeidelik in Johannesburg en in Kaapstad afspeel – “Johannesburg, Le Bain” en “Gesonde Verstand in die Buiteland”. Die verstrengeling van geweld en erotiek en die rol wat galgehumor speel om die vrese wat Suid-Afrikaners se hartklop bepaal, draaglik te maak, word sielroerend daarin uitgebeeld.
Die sjarme van Lanoye se kuns lê onder meer in die eerlikheid waarmee temas aangeroer word, die vloeibaarheid waarmee stories hul loop neem, die bewuste speelsheid waarmee wêrelde in lesers se koppe oopgeskiet word.
Die Afrikaanse letterkunde kan doen met ’n Tom Lanoye. Die keurige ywer van vertalers soos Daniel Hugo bewys dit.
PROTEA BOEKHUIS, PRETORIA. (SAGTEBAND, 120 BLADSYE, ISBN 9 781 86919 254 9.) Uit Nederlands vertaal deur daniel hugo.
melt myburgh is ’n INHOUDSBESTUURDER VAN DIE WEBWERF litnet
Op die Kunsblad skryf Daniel Hugo oor Tom Lanoye op 50.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |