|
|||||||||||
|
| VIND: |
![]() Elisabeth Eybers, soos Paul Alberts haar afgeneem het vir die boek In Kamera.
Vermaak
Eybers se stem deel van nuwe bundel
12/02/2009 05:51:21 PM - (SA)
’n Digter wat haar eie werk voorlees, bied deur die pouses of versnellings wat sy in versreëls lê, as ’t ware regie-aanduidings van hoe haar gedig moet “klink”.
Só vertel Ena Jansen oor Elisabeth Eybers, van wie 50 gedigte nou as Klinkklaar gebundel is tesame met ’n CD waarop Eybers dié gedigte voorlees. Dit is pas in Nederland en Suid-Afrika uitgereik.
Jansen, lank vertroueling van Eybers in Nederland en professor in Suid-Afrikaanse literatuur aan die Universiteit van Amsterdam, het die keuse gedoen en die voorwoord geskryf.
Sy vertel Eybers self wou nooit optree op poësiefeeste nie en dat haar dogter Marita Wessels soms namens haar moeder opgetree het. “Sy’t toe die idee gekry om ’n CD van haar eie voorlesings te maak en vir my gevra om by uitgewers te hoor of dit aftrek sou kry. In Suid-Afrika is die ervaring met poësie-CD’s maar sleg en daar was nie belangstelling nie. Ek het toe vir Eybers gevra of sy dan nie sommer self haar gedigte wou lees nie en tot ons stomme verbasing het sy ingestem, mits ek die keuse sou maak. Ek het toe ongeveer 50 gedigte gekies uit die ongeveer 900 wat sy in 70 jaar geskryf het.
“Marita het ’n klankman gehuur en op die oggende van 18 en 28 November 2005 het ons vier om Elisabeth se eetkamertafel gesit en die opnames gemaak. Selfs tóé het uitgewers getwyfel, maar Marita wou ná haar moeder se dood hoe dan ook die CD self probeer versprei. Ek het Querido weer genader en hulle wou toe wel baie graag die boekie met CD uitgee. Marita het gesorg vir die redigering van die meesterkopie in Hilver- sum. Op die valreep was Human & Rousseau bereid om ’n gedeelte van die oplaag oor te neem sodat die tradisie voortgesit kon word waardeur ’n Eybers-bundel altyd sowel in Amsterdam as Kaapstad verskyn.”
Oor die bydrae van Eybers se eie stem tot die gedigte, merk Jansen die volgende op: “Om ’n gedig stilletjies vir jouself oor en oor te lees is maar die beste manier om ’n gedig regtig goed te beleef en te interpreteer. Maar goed, dis ’n baie geldige vraag of die CD agter in Klinkklaar iets toevoeg aan ons belewenis van die ‘stillees’ van haar gedigte. Wat ek self treffend vind, is hoe sterk interpreterend sy lees. Tegelykertyd lees sy ’n gedig baie selde opvallend anders as wat ek dit self altyd al ‘gehoor’ het, danksy haar indrukwekkende klankopbou.”
Jansen, skrywer van Afstand en Verbintenis: Elisabeth Eybers in Amsterdam, vertel Eybers was in haar rol as digter tussen Afrikaans en Nederlands ’n baken vir Afrikaans tydens die jare van kulturele boikot-aksies.
“Deurdat sy altyd in Afrikaans bly skryf het, het sy vrou-alleen die plek van Afrikaans in Nederland warm gehou. Wat dít betref, was sy ’n eenpersoonsbaken in moeilike tye, ’n bietjie soos Helen Suzman in die parlement was, ’n leeftydgenoot wat sy bewonder het. Sy’t as’t ware ’n hawe gebou waar ander Afrikaanse digters soos Stockenström, Krog, Naudé, Snyders, Oliphant, Van Niekerk, Pieterse en soveel ander ná 1990 in Nederland kon kom vasmeer.”
Luisterboeke maak in Europa en elders onder meer verkeersknope leefbaarder.
Voorsien sy die CD by die boek sal groot aftrek hier kry? “In plaas van gejaagde radiosenders lyk die versoberende effek van byvoorbeeld ‘Voetjie vir voetjie’ vir my na ’n goeie alternatief tydens die spitsuur! Europëers lees en luister natuurlik veral ook baie as hulle treinry werk toe. Miskien moet Suid-Afrikaanse uitgewers veral probeer inspeel op die treinrymark – dalk maak dit die treinry veiliger en rustiger.”
Oor die keuses vertel sy dit is baie persoonlik: “Ek het gedigte gekies wat ek self goed ken omdat ek hulle so goed vind en wat ek haar daarom baie graag ’n keer hardop wou hoor lees. Maar natuurlik moes ek weens die beperkte lengte van ’n CD so baie ander gedigte weglaat wat ek as ewe belangrik beskou. Agteraf dink ek soms dat ons nog ’n paar oggende lank opnames moes gemaak het, dalk vir ’n volgende CD maar in ieder geval as ‘brokke respyt’ vir tyd en ewigheid!”
Dit is opmerklik om te hoor hoe Afrikaans Eybers gebly het ná al die tyd in Nederland. Tydens die opname in 2005 het sy reeds 45 jaar lank in Amsterdam gewoon; haar laaste besoek aan Suid-Afrika was in 1979, vertel Jansen.
Vir baie van Eybers se Suid-Afrikaanse lesers “het sy altyd iets asketies, geheimsinnigs en baie stil uitgestraal”. “Om haar nou uiteindelik te hóór is daarom vir baie mense ’n ontroerende ervaring. Ek dink dit is juis omdat sy so lank hier gewoon het dat sy die twee tale duidelik as afsonderlike tale beskou het.
“Eybers het dikwels na haar pa se mooi Karoo-Afrikaans verwys en baie nagedink oor Afrikaans in vergelyking met Nederlands. Met haar dogters en met my en ander Afrikaanse vriende het sy altyd Afrikaans gepraat. Sy kon Nederlands goed praat, maar het, soos die meeste Afrikaanssprekendes trouens, haar Afrikaanse aksent behou. Selfs ná byna 50 jaar in Nederland.”
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |