Webwerf Foto's
Argiewe Netads
WEER » Kaapstad 13º / 24º | Worcester 8º / 25º | George 8º / 22º | Port Elizabeth 10º / 21º Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com

  TUIS  

  NUUS  

  MULTIMEDIA  

  SPORT  

  SAKE  

  VERMAAK  

  OPINIE  

  BLOGS  

  FEATURES  

  MOTORS  

  VERMAAK  

  BOEKE  

  NETNAWEEK  


VERSEKERING
Spaar by OUTsurance.  Kliek hier vir huisinhoud-, besigheids- en motorversekering.
Dié portret van Elisabeth Eybers is deur die kunstenaar Marlene Dumas en is te sien in die Nasionale Kunsmuseum in Kaapstad.
Dié portret van Elisabeth Eybers is deur die kunstenaar Marlene Dumas en is te sien in die Nasionale Kunsmuseum in Kaapstad.
Vermaak
Tot aan einde deur rym begelei
03/12/2007 09:26:15 PM - (SA)

OP ’n stralende dag in Januarie vanjaar het ek rondgeloop in die buurt in Amsterdam-Suid waar ek in my studentedae ­gewoon het en waar Elisabeth Eybers ook jare lank woonagtig was.

My bittersoet heimwee aan van die ­gelukkigste jare van my lewe is oorstem deur ’n geluks­gevoel dat Eybers nog daar was; ons eerste en seker ons grootste ­digteres wat haar mede-Dertigers en ook vele Veertigers en Vyftigers met baie jare oorleef het.

Uit respek vir haar hoë ouderdom en haar privaatheid waaroor sy jaloers ­gewaak het – al het ek geweet dat ek altyd by haar welkom was – was dit op dié ­wintersdag vir my genoeg om net in haar leefruimte te verkeer. En nou is sy nie meer met ons nie.

Die enigste ontmoeting met haar kan nou, behalwe in die herinnering van ons wat bevoorreg was om haar persoonlik te ken, net plaasvind in die wêreld van die ­poësie. So is dit goed, want dit was Eybers se eintlike leefruimte.

Sy het jare lank in Van Breestraat ­ge­woon, maar is letterlik daar weggedryf deur die rumoer van die buurseun op sy motorfiets en sy “swerm” mede-Suzuki-eie­naars. In die humoristiese vers ­“Terug­keer van Klaas-Hannes” vertel ­Eybers hoe dié “halfwas bantamhaan” sy trawante aanmoedig en die bure laat sidder: “ Is dit die ergste, fluister ons, of sal / sy knalkas kwaaier as die ander knal? ”

Veelbetekenend volg direk op hierdie vers in die bundel Bestand die gedig ­“Verhuising”:

Ná die loswring van rame en deurposte vlug

ek uit burerumoer, onherroeplik bevry

deur die sewe ramshorings van Jerigo kry

ek my oorkant die soveelste smeulende brug

met nog steeds onberedderde puin rondom my,

kortasem maar tog in my woordwêreld

terug.

Hierdie gedig is ’n illustrasie van hoe ’n basiese gegewe keer op keer by Eybers – soos in dié geval iets so alledaags soos ’n verhuising as gevolg van burerumoer – deur die meer waardes wat woorde ­ontwikkel ’n algemeen menslike ­strekking verkry en hom tot meerdere ­interpretasies leen.

Soos by D.J. Opperman setel Eybers se virtuositeit as woordkunstenaar in haar vermoë om alle betekenisnuanses van ’n woord binne die verband van ’n gedig te aktiveer, ook die mees onverwagtes soos “onberedderde” (’n boedel of ’n saak word beredder) by “puin”. Die “onberedderde puin” gaan op sy beurt ’n verbintenis aan met “smeulende brug” (in plaas van ­“verbrande brug”).

Eindelik sal ’n mens kan sê dat dié gedig gaan oor die helende krag van die poësie vir menslike ont­wrigting (vergelyk “loswring”) en pyn.

Eybers was haar bewus van die terapeutiese werking wat van die gedig kan ­uit­gaan op die digter en die leser daarvan, maar sy het ook onteenseglik geweet dat die digter primêr ’n maker is en nie in die eerste instansie vir terapie skryf nie.

Daarom het sy ’n leeftyd lank as die ­maker van verse van tydlose skoonheid die grootste kieskeurigheid aan die dag gelê. In 1963 het sy in ’n lesing in Brussel oor die poësie gesê: “Poësie is nie alleen kommunikasie nie, dit is ook en veral die maak, die voortbring van iets wat uit die digter ontstaan en wat die vreemde ­indruk wek dat dit uniek en onvervangbaar is.”

Dit is een van meerdere skerp­sinnige insigte in die aard van die poësie wat ons te danke het aan daardie ­Brusselse lesing, wat een van die ­introverte Eybers se seldsame openbare optredes was. “Poësie,” het sy verder gesê, “streef na sintese en versoening, na die troos en die sekerheid van iets wat ten spyte van alle vermurwing en alle ­verdriet tog mooi en blywend en heel is.”

In die poësie van Dertig het sterker as ooit voorheen in Afrikaans die stem ­op­geklink van die individu wat sonder skroom sy intieme belewenisse van veral die liefde en die godsdiens bely. Eybers het haar bydrae tot dié vernuwing gelewer deur vir die eerste keer in Afrikaans aan die vrou stem te verleen.

Die omskrywings van die tematiek van haar Dertiger-poësie is so bekend dat dit al gemeenplasig geword het. ’n Mens kan volstaan met die titels van haar bundels uit hierdie periode waaruit reeds die ­verloop van ’n vrouelewe spreek: Belydenis in die Skemering (1936), Die Stil ­Avontuur (1939), Die Vrou en ander Verse (1945) en Die ander Dors (1946).

Ekstatiese verliefdheid vind vervulling in vrouwees en moederskap, maar daarop volg die onvermydelike wete dat daar ­nogtans in elke vrou se lewe die menslike tekort bly; die element van onvervuld­heid.

In 1951 sluit Eybers haar Dertiger-periode af met die dun bundeltjie Tussensang. Die titel het vernuwing in die ­voor­uitsig gestel en dié verwagting het skitterend in vervulling gegaan met die verskyning van Die Helder Halfjaar in 1956, wat nou nog ’n hoogtepunt in haar oeuvre verteen­woordig.

Die titel word gepresiseer deur die ­sub­titel, Verse Geskryf van April tot ­Oktober 1955. Dit gaan dus om ’n halfjaar van intense kreatiwiteit wat sy aanvang neem in die milde herfsmaand April en strek tot in die lentemaand Oktober.

Maar die “helder halfjaar” is ook die ­metafoor vir die vroeë middeljare, waarin die vrou ’n nuwe vreugde aan die aarde en die lewe ontdek.

Waar Eybers moederskap as ’n grootse belewenis geïdealiseer het, kan sy dit nou relativeer en selfs ironiseer.

Maar in die ironie het sy die liefde behou en met ’n blik van buite die jong adolessent treffend ­geteken in “Veertienjarige”, “Slaapwandelende Kind” en “Kind voor die Klavier”.

Waar die eise van vrouwees en moederskap die vroeëre knelgreep losgelaat het, kan sy die noue betrokkenheid by die ­natuur wat sy as kind geken het, herontdek: “kaalvoet spring van klip tot klip /. . . bessie­sade sorgsaam tel /en pluimstertmeerkatjies laat wip . . . ” (“Op die Kruin”).

Eybers het by herhaling na haar kinderjare en vroeë jeug verwys as die gelukkigste periode in haar lewe. Sy het dit deurgebring op die klein Wes-Transvaalse dorpie Schweizer-Reneke, waar haar vader ­predikant van die Nederduits-Gereformeerde kerk was.

In haar sensitiewe jeugskets “ ’n Pastoriedogter” vertel sy van hoe sy en haar twee susters buite op die stoep geslaap het, van die groot pastorietuin as ’n oase, van hoe hulle hul vader op huis­besoek vergesel en die landskap leer ken het. Daarom kon sy later met reg beweer dat ’n digter veral die sintuiglikheid van sy jeug moet behou.

Haar afval as volwassene van die ­Cal­vi­nisme het sy merk op haar ­ver­houding met haar ouers gelaat. In haar ­latere werk het sy besin oor haar ­teen­strydige aard wat sy van hulle geërf het: van haar moeder die “stiletskerp gees”; van haar vader die droom en die woord wat sy uit ’n ander “mistieke bron” as hy geput het (“Oorsig” uit Balans).

As student, joernalis en ongetroude vrou in Johannesburg het Eybers nog dikwels op haar grootworddorp gekom en haar diep­gewortelheid in die Suid-Afrikaanse landskap behou.

Dit spreek vanself dat sy haar emigrasie na Nederland ná haar egskeiding in 1961 baie traumaties beleef het. Behalwe die emosionele pyn wat die beëindiging van ’n huwelik en die ontworteling van ’n ­lands­verhuising meegebring het, het sy maar moeisaam en langsaam ’n liefdes­ver­hou­ding met die stad Amsterdam ­aangeknoop.

Die oorbevolkte Nederland met sy ge­kul­tiveerde landskap het ’n blywende heim­wee na die Suid-Afrikaanse landskap met sy vergesigte en eindelose ruimtes tot gevolg gehad. Maar sy het die skerp ­waar­nemer gebly en nuwe skoonheidsindrukke het naas die heimwee in haar poësie ­neer­slag gevind.

Uiteindelik het sy ­onderdak gevind in ’n nuwe land en ’n nuwe liefde, en sy het van die sterkste ­erotiese verse in Afrikaans geskryf.

Die belangrikheid van Eybers se ­dig­ter­skap is deur haar omvangryke Nederland­se periode bevestig. In dié periode het van haar indrukwekkendste bundels ­ver­skyn. Sy is deur Nederland toegeëien as een van sy belangrikste digters toe sy in 1991 die P.C. Hooft-prys, die hoogste ­Ne­der­landse literêre eerbewys, ontvang het.

In hierdie periode het uit haar pen ­ver­skyn: Balans (1962; met verse wat nog in Suid-Afrika ontstaan het), Onderdak (1968), Kruis of Munt (1973), Einder (1977), Bestand (1977), Dryfsand (1982), Rymdwang (1987), Noodluik (1989) en Nuweling (1994).

Sy sluit haar oeuvre af met vier tweetalige bundels: Tydverdryf/Pastime (1996), ­Verbruikersverse/Consumer’s Verse (1997), Winter-surplus (1999) en Valreep/Stirrup-cup (2005).

Met haar 90ste verjaardag het ­Eybers vir haarself ’n glasie geskink met die oog op haar naderende lewenseinde. Haar merkwaardige oeuvre oorspan ruim 70 jaar en tot aan die einde van haar ingetoë, maar ryk en vol lewe, het, soos sy gehoop het in haar gedig “Opsomming” in haar laaste bundel, die poësie haar tot aan die einde vergesel:

Tot dusver kom dit eenvoudig hierop neer:

jy het verduur wat jy geprogrammeer

was om van die aanvang te deurstaan

en benader nou die einde van jou baan.

’n Skroothoop nietighede skep ballas,

daarmee sou jy ’n hele koffer vol

kon stop om sonder omkyk te verkas,

met rym – indien moontlik – steeds in

’n verfraaiende rol.

    
VIND
Mediese Fonds
Reis & Verblyf
Kom ons kliek
Motors
Kontantlenings
Beligting
Eiendomsbelegging
Wegbreeknaweek
Musiekinstrumente
Eiendomme te huur
Leerprodukte
Buitelewe
Werksgeleenthede
Gesondheidsprodukte
Eiendomme te koop
ONS BEVEEL AAN
netNaweek
Nie seker wat om die naweek te doen nie? Kry elke Vrydag netNaweek.com, propvol nuus oor die lekkerste wat die Kaap het om te bied en wen hope pryse. Die gratis e-pos sluit inligting oor flieks, teater, restaurante, uitstallings, wegbreek-naweke en sommer enige iets wat pret is om die naweek te doen in.

Gaan na netNaweek om te registreer.
Inskrywingsvorm vir 2009 se LENTE Vakansieskole
Alle graad 10-, graad 11- en graad 12-Jippers kan uitsien na vanjaar se lenteskool. Skryf nou in vir Die Burger se Lenteskool in Port Elizabeth.
Kliek hier vir inskrywingsvorm
84 dae
tot afskop
2010
Wêreldbeker 2010
VIND
Mediese Fonds
Reis & Verblyf
Kom ons kliek
Motors
Kontantlenings
Beligting
Eiendomsbelegging
Wegbreeknaweek
Musiekinstrumente
Eiendomme te huur
Leerprodukte
Buitelewe
Werksgeleenthede
Gesondheidsprodukte
Eiendomme te koop
NETADS24
Soek ‘n advertensie

Algemeen
Loopbane
Motors
Eiendomme

VIND OU SKOOLVRIENDE
Kies jou skool se provinsie:
En klik op die eerste letter van jou skool:
ABCDEFGHIJKLMN
OPQRSTUVWXYZ
ONS BEVEEL AAN
netNaweek
Nie seker wat om die naweek te doen nie? Kry elke Vrydag netNaweek.com, propvol nuus oor die lekkerste wat die Kaap het om te bied en wen hope pryse. Die gratis e-pos sluit inligting oor flieks, teater, restaurante, uitstallings, wegbreek-naweke en sommer enige iets wat pret is om die naweek te doen in.

Gaan na netNaweek om te registreer.

       
 Kontak ons | Navrae | Teken in op ons nuusbrief | Vrae oor registrasie | Adverteer | gebruikersooreenkoms |