|
|||||||||||
|
| VIND: |
Suid-Kaap
Vraagteken oor George se betrokkenheid by sewestoernooi
02/07/2009 10:28:55 PM - (SA)
Vraagtekens hang oor die voortgesette aanbieding van die Internasionale Rugbyraad se sewestoernooi in George.
Die kwessie is gister op ’n vergadering van die burgemeesterskomitee bespreek.
Ingeligtes het gesê die kans is goed dat dit wel in Desember weer hier aangebied gaan word, maar daar is veral vrae oor die aanbieding daarvan aanstaande jaar en daarna.
Veral Port Elizabeth en Stellenbosch stel glo belang om dit ook aan te bied.
Mnr. Flip de Swardt, George se burgemeester, het ná die vergadering gesê ’n kontrak om die toernooi weer vanjaar in George aan te bied, sou Woensdag tussen die stadsraad en SA Rugby gesluit word.
SA Rugby het egter vroeër ’n versoek gerig dat alle stadions moet wegdoen met staanplek.
Die raad het reeds begroot vir 2 000 ekstra sitplekke wat R4,5 miljoen sal kos. Dit sal aan die suidelike kant van Outeniekwapark aangebring word.
Dit sal die stadion se sitplek-kapasiteit tot 10 000 vergroot. SA Rugby wil egter hê daar moet sitplek vir 12 000 toeskouers wees.
Om tydelike plek vir nog 2 000 toeskouers aan te bring, sal R300 000 kos. Altesaam 1 000 sitplekke en 1 000 staanplekke sal aangebring word
Die stadsraad het nie daarvoor begroot nie en hoop SA Rugby en SWD Rugby sal bereid wees om elk R70 000 beskikbaar te stel.
Dit sal help om ’n bykomende 1 000 toeskouers te kan huisves.
De Swardt het gesê George wil nie graag die toernooi verloor nie omdat dit baie vir die dorp beteken. Die stadsraad probeer om aan die vereistes te voldoen.
Hy het daarop gewys dat die stadsraad nie ’n enkele sent uit kaartjieverkope verdien nie.
Mnr. André Smith, waarnemende munisipale bestuurder, het gesê daar is bereken dat vir elke R1 wat bestee word, word R6 tot voordeel van die sakegemeenskap genereer.
De Swardt het later aan Die Burger gesê hy is vol vertroue dat die stadsraad en SA Rugby tot ’n vergelyk sal kom. Samesprekinge tussen dié twee instellings sal weer plaasvind.
Mnr. Petrus Grobler, burgemeesterskomiteelid vir sport, het aan Die Burger gesê hy doen ’n beroep op die sakegemeenskap om te oorweeg om tot ’n groter mate by die toernooi betrokke te raak. Hy is vol vertroue dat die toernooi wel in Desember hier sal plaasvind.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |