|
|||||||||||
|
| VIND: |
![]() Vier seges op ’n streep . . . Jenson Button van Brawn GP vier gister in Istanboel sy oorwinning in die Turkse Grand Prix. Dié Brit is nou loshande voor in die jaers se titelstryd. Foto: Clive Mason, Gallo IMAGES
Sport
Button maak dit ses uit sewe in Turkye
07/06/2009 09:09:59 PM - (SA)
Istanboel. – Die 29-jarige Jenson Button van Brittanje het gister die gaping bo-aan die Formule Een-puntelys verder vergroot, toe hy die Turkse Grand Prix met ’n bykans foutlose vertoning gewen het.
Danksy dié sege, Button se vierde agtereenvolgens, het hy nou 61 punte – 26 meer as sy naaste uitdager, Rubens Barrichello.
Dié Brasiliaan en Button se Brawn GP-spanmaat moes hulle, ná ’n vrot begin, in die 12de ronde aan die motorwedren onttrek, toe ’n onderonsie met Force India se Adrian Sutil hom na die kuipe gedwing het.
Button, wat voor vanjaar in ’n F1-loopbaan van bykans ’n dekade slegs een Grand Prix kon wen, het Brawn GP se oorheersing in 2009 se reeks op ’n drafstap voortgesit, deur die sesde keer in sewe wedrenne dié seisoen eerste oor die wenstreep te jaag.
Hy het in 1 uur, 26 minute en 24.848 sekondes gewen en was 6 sekondes vinniger as Mark Webber van Australië.
Button het vroeg reeds die voortou geneem danksy ’n liederlike blaps deur Sebastian Vettel.
Dié Duitse jaer het ’n oordeelsfout om die negende draai begaan en op die gras van die baan geëindig.
Dit was die eerste keer in vyf Turkse Grands Prix dat die jaer wat voor weggespring het, nie kon wen nie.
Vettel kon effens van dié fout herstel om steeds derde te eindig, ná Button en sy Red Bull-spanmaat, Webber.
Die Italianer Jarno Trulli van Toyota was vierde, gevolg deur Duitsland se Nico Rosberg in sy Williams en die Brasiliaan Felipe Massa (Ferrari).
Robert Kubica (Pole) het BMW-Sauber se oplewing, ná ’n teleurstellende begin tot die seisoen, voortgesit deur sewende te eindig. Die wêreldkampioen, Lewis Hamilton, was 13de, nadat hy in die 16de plek weggespring het.
Hy is boonop, die derde keer vanjaar, met meer as ’n ronde deur die uiteindelike wenner geklop.
Benewens Button se sterk posisie in die renjaers se titelstryd, is Brawn (op 96 punte) nou ook loshande voor in die vervaardigers se afdeling, met Red Bull tweede op 56,5 punte.
Die volgende wedren is op 21 Junie in Button se agterplaas, wanneer die Britse Grand Prix op Silverstone beslis word. – Sapa-AFP
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |