|
|||||||||||
|
| VIND: |
Sport
Was dit dalk dramatiese ommekeer wat Luke so naar gemaak het ?
17/10/2008 09:32:38 PM - (SA)
Raai wie het die volgende gesê: “Dit sal ’n groot eer wees om vir die Springbokke te speel.
“Dit het die potensiaal om een van die kragtigste embleme te word wat die wêreld nóg gesien het. Dit staan vir gelykheid, dit staan vir eenheid, dit staan vir ’n eens verdeelde nasie wat nou saamstaan.
“Dit staan vir als wat die wêreld nie het nie, en als wat die wêreld wil hê. Dit staan vir mense van verskillende kulture en rasse, voormalige vyande, wat saamkom en ’n alliansie vorm.
“Die Springbok verteenwoordig in ’n demokratiese Suid-Afrika baie meer as net 15 rugbyspelers. Dit verteenwoordig ’n nasie, dit verteenwoordig die mensdom op sy beste.”
Skuimkop kan onthul hierdie woorde behoort aan ene Luke Watson (deesdae ook bekend as Luke Kotzé), wat dit twee jaar gelede in ’n onderhoud met Sports Illustrated kwytgeraak het.
Nou lees Skuimkop die Bok-trui maak vir Luke naar.
) Skuimkop wonder wat binne twee jaar só verander het dat Luke wou opgooi op sy Bok-trui?
Gaan Saru ruggraat hê?
Die Westelike Provinsie hou seker maar angstig verwikkelinge op nasionale vlak met die Watson-uitsprake dop.
Op hierdie tydstip lyk dit of daar onsekerheid is oor wat Watson gesê het, want die beweerde galbrakery oor Afrikaners verskyn nêrens in ’n transkripsie van sy toespraak nie.
Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het steeds nie ’n antwoord oor wat die regsbeampte Dekker Govender se ondersoek opgelewer het nie. Dít sal glo eers volgende week voltooi word.
Skuimkop wonder of rugbybeamptes die ruggraat gaan hê om met ’n besluit vorendag te kom.
Met ’n besluit ten gunste van Watson gaan dit laat lyk of iets onder die tafel gevee word, terwyl ’n tugverhoor politieke kefhonde gaan aanhits om nóg omstrede stellings te maak.
) Skuimkop het selde vantevore al só ’n verloor-verloor-situasie gesien!
‘Draad’ en ‘Ligtoring’
Skuimkop hoop maar die Westelike Provinsie se senior professionele afrigter, Rassie Erasmus, het ’n plan om vir aanstaande jaar se Super14-reeks sy diepte op slot aan te vul .
Ross Skeate se besluit om sy loopbaan in Toulon voort te sit, laat Skuimkop wonder wat gaan gebeur indien Andries Bekker of Adriaan Fondse ’n besering opdoen.
Ofskoon Rassie vanjaar met die kombinasie van Fondse en Bekker raakgevat het, kan Skuimkop nie help om hom te bekommer oor wat beplan word nie gegewe dat Rob Linde en Duimpie Theron voorheen in die Kaap as slotte beskou is.
Skuimkop sien daar is nóg ’n Linde op die rugytoneel, met ene “Draad” Linde (glo Rob se broer) wat deesdae vir “Ligtoring” Landman uit die Luiperds se beginspan hou.
) Skuimkop vertrou “Draad” en “Ligtoring” is nie op die WP se inkopielys vir 2009 nie!
Vrystaat se ‘tronkbende’
’n Hele spul provinsiale krieketspelers in Suid-Afrika het verlede naweek lekker in hul moue gelag toe hulle hoor die Eagles is vir net 28 lopies deur die Warriors in Port Elizabeth uitgeboul.
Die Eagles het juis die SuperSport-titel verlede seisoen gewen nadat hulle ’n hele klomp grasgroen kolfblaaie in Kimberley en Bloemfontein voorberei het.
Hulle het wel die titel gewen, maar hulle is beslis nie gewild by die res van die provinsiale spanne nie.
En dit het beslis ook nie hul eie kolwers se ambisies gehelp nie.
’n Speler soos Morné van Wyk was aan die begin van verlede seisoen op die randjie van die nasionale eendaagse span.
Ná ’n seisoen se gesukkel op die groen blaaie, is hy nie eens meer in die gesprek nie.
Skuimkop verstaan ook dat hy gesukkel het om ’n Kolpak-kontrak vir verlede seisoen te kry.
As ’n mens in ag neem hoeveel paloekas in Engeland reeds Kolpak-kontrakte het, verstaan jy hoe sy waarde verminder het.
) Skuimkop hoor ook dat die Eagles, deesdae as die “prison gang” bekend staan. Die 28’s is mos ’n berugte Suid-Afrikaanse tronkbende!
Skraler Kallis klim ranglys
Skuimkop is seker hy is nie die enigste persoon wat verbaas was dat Jacques Kallis die afgelope week ’n plek op die Internasionale Krieketraad se ranglys vir kolwers geklim het nie.
Kallis, deesdae van die Warriors, het immers in Augustus laas toetskrieket gespeel en selfs hy sal erken dat hy nie die wêreld tóé aan die brand gekolf het nie.
Hy het immers net 104 lopies in 7 beurte op die onlangse toer in Engeland aangeteken, maar hy het dié week van die 11de tot die 10de plek opgeskuif.
) Skuimkop hoor in die wandelgange dat Kallis en sy groot pêl Mark Boucher hard aan die oefen is en albei reeds ’n hele paar kilogram afgeskud het vir die nuwe seisoen. Miskien het die manne by die ranglys ook dié nuus gekry.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |