|
|||||||||||
|
| VIND: |
Sport
Saru vra prokureur om Luke se bewerings te bekyk
14/10/2008 07:23:44 AM - (SA)
Kaapstad. - “Ek stel nie daarin belang om myself te verdedig nie, want ek het niks afbrekends teenoor enigiemand gesê nie.”
Só het Luke Watson gister by monde van sy pa, mnr. Cheeky Watson, gereageer op die herrie wat om sy kop losgebars het.
Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het gister die Durbanse prokureur mnr. Dekker Govender aangestel om bewerings te ondersoek dat Watson in ’n toespraak teen Afrikaners as “Dutchmen” uitgevaar en ’n uitlating gemaak het dat hy homself moes weerhou om op die Springbok-trui te braak.
Indien Watson Saru se gedragskode oortree het, sal hy voor ’n tugverhoor moet verskyn.
Die Burger het ’n transkripsie bekom van Watson se toespraak by die Ubumbo-rugbyfees by die Universiteit van Kaapstad op 3 Oktober en die woord “Dutchmen” word nêrens gebruik nie. Daar is gerugte dat dit in ’n vraag-en-antwoord-sessie ná die toespraak gebruik is, maar hiervoor is daar nie bewyse in Die Burger se besit nie.
“Ek het nog nooit gesien dat iemand só deur die media aangeval word nie,” het Watson sr. oor dié bohaai gesê.
“Die hele ding is op ’n bandopname gebaseer en nou is daar gevind daar is niks afbrekends in die opname nie. Nou word daar ’n ander manier gesoek.”
Daar is wel ’n verwysing in die transkripsie dat Watson homself daarvan moes weerhou om op die Springbok-trui te braak. Dit word geskets teen die agtergrond van mense wat moes opofferings maak om hom te kry waar hy is.
Hy spreek ook sy afkeer uit in die omgewing waarin hy homself bevind het toe hy verlede jaar teen die wil van die vorige afrigter, Jake White, by ’n oefengroep ingesluit is.
Intussen het Ubumbo se uitvoerende komitee hul berou in ’n brief aan Watson uitgespreek dat sy toespraak oor transformasie in die hande van die media beland het.
Daar word gesê dat die media se aanbieding daarvan nie ’n ware prentjie van die gebeure skets nie.
’n Lid van die komitee, wat nie sy naam genoem wil hê nie, het ook in ’n inligtingstuk oor Ubumbo-rugby gesê die forum is privaat en die bedoeling was nie dat dit in die openbaar uitkom nie.
Die joernalis wat eerste oor dié debakel geskryf het, Jan de Koning van rugby356.com, vertel ’n ander storie. “Ek kan bevestig dat lede van die media genooi is.”
Die WP wag om te sien wat Saru se ondersoek oplewer voor hy self moontlike stappe oorweeg.
SA Rugby kon nie gister sê teen wanneer Govender se ondersoek afgehandel sal wees nie.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |