|
|||||||||||
|
![]() Schalk Brits (agter) ondersteun sy adjudant, Deon Fourie, in Saterdag se stryd teen die Cheetahs. Chris Rossouw (links) probeer hulle stuit. Foto: YUNUS MOHAMED
Sport
Drienasies: Bokke ontbied brits
07/07/2008 12:20:56 AM - (SA)
“As ek die spanne man vir man teen mekaar opweeg, sal ek eerder in die Springbokke as die All Blacks se skoene wil wees.”
Dit was gister die inspirerende boodskap van Schalk Brits, haker van die Westelike Provinsie, kort voordat hy op op die vliegtuig geklim het om die lang vlug Nieu-Seeland toe aan te pak.
Hy oornag vanaand in Sydney, en land Dinsdag in Nieu-Seeland se hoofstad, waar die Bokke tot Donderdag bly voordat hulle na Dunedin vertrek.
Suid-Afrika lek sy wonde ná Saterdag se nederlaag van 8-19 teen Nieu-Seeland, maar kry Saterdag in Carisbrook die geleentheid om sy Drienasies-veldtog in die tweede toets weer op die been te kry.
Brits sal waarskynlik deel van die groep van 22 vir dié wedstryd wees nadat die Bok-kaptein, John Smit, se lies beseer is toe hy vroeg in die eerste helfte deur die All Black-slot Brad Thorn omgedop is.
Thorn is gister ’n week lank vir dié insident geskors, terwyl Smit gister nog in pyn was. Hy sal vandag weer deur die Bokke se mediese personeel ondersoek word. Dis onwaarskynlik dat hy in die tweede toets sal kan speel.
Intussen is Brits, wat sy toetsbuiging teen Italië gemaak het, in sy noppies dat hy nader getrek is.
“Ek het reeds vóór afskop van ons (die Westelike Provinsie) se Curriebeker-wedstryd teen die Cheetahs gehoor dat ek opgeroep is,” het hy gister onthul.
“Dis menslike natuur om onder sulke omstandighede bekommerd oor ’n moontlike besering te wees, maar ek het besef dis juis wanneer jy nie voluit speel nie dat jy die grootste risiko van ’n besering loop.
“Peter de Villiers (Bok-afrigter) het ’n oop gesprek met my gehad voordat die Bokke weg is en ek het geweet dat ek die volgende haker is as enigiets op toer gebeur.”
Brits sluit hom onder moeilike omstandighede by die Bokke aan. Hoewel dit sy mening is dat die Bokke op papier beter as die All Blacks daaraan toe is, het die Nieu-Seelanders ’n groot sielkundige slag geslaan deur die eerste toets te wen.
Boonop staar Brits die moontlikheid van vlugflouheid in die oë en sal hy nie veel tyd hê om met die span te oefen voor die stryd in Dunedin nie.
“Ek sal baie opgewonde wees indien ek die geleentheid kry,” het hy gesê.
“Dis ’n wedstryd teen die All Blacks en die rede waarom ’n mens speel, is immers om jouself teen hulle te toets.”
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |