|
|||||||||||
|
![]() Graeme Smith
Sport
Kepler het plan vir dié swak vennootskappe
28/12/2007 09:30:37 PM - (SA)
PORT ELIZABETH. – Daar moet ’n plan met Suid-Afrika se aanvangskolwers beraam word.
Só het ’n voormalige nasionale krieketkaptein, Kepler Wessels, gesê.
Wessels is ’n man wat weet wat dit verg om die glans van die nuwe bal af te haal.
Die statistieke van hoe Suid-Afrikaanse aanvangsvennootskappe dié seisoen lyk, skets ’n baie somber prentjie.
Net een keer in 5 toetse is meer as 50 lopies aangeteken. Dit was in die eerste beurt van die eerste toets teen Pakistan in Oktober toe Graeme Smith en Herschelle Gibbs 87 lopies aangeteken het.
Daarna kon hulle dit nie weer regkry nie en het hulle 41, 24, 34 in die ander kolfbeurte teen Pakistan aangeteken.
Teen Nieu-Seeland was dit nóg swakker en was die aanvangsvennootskappe net 1, 8 en 2 – en dit op tuisbodem.
Eergister het die Smith-Gibbs-kombinasie net 1 lopie aangeteken voordat Gibbs in die eerste beurt van die eerste toets hier teen die Windies uitgehaal is.
Wessels het gesê dit skep ’n probleem, want Suid-Afrika se beste kolwer, Jacques Kallis, moet té gou die nuwe bal aandurf. Wessels glo daar moet ernstig aan die tegniek van Smith én Gibbs geskaaf word.
“Smith is nou maar eers 26 en daar is oorgenoeg tyd om met ’n nuwe en korrekte tegniek welslae te behaal.
“Wat met Gibbs gedoen kan word, weet ek nie juis nie,” het Wessels gesê.
Wessels glo daar kan gerus na Neil McKenzie gekyk word as aanvangskolwer vir die nasionale span.
“Ek glo Neil is iemand wat kan aanpas, al moet hy op nommer drie kolf, wat hy verkies,” het hy gesê.
Die 32-jarige McKenzie klop hard aan die deur van die Proteas.
Hy vaar dié seisoen puik vir die Lions en het ook vir Suid-Afrika A teen Nieu-Seeland en die Windies uitgeblink.
Wessels was die afrigter van die A-span wat verlede week teen die Windies in Oos-Londen gespeel het.
Hy glo McKenzie is ’n kolwer wat nog baie kan bied en dat hy die logiese keuse is om meer stabiliteit aan die top-orde te verleen.
“Jy het beslis stabiliteit nodig wanneer ons aanstaande jaar na Engeland en Australië toer. Daar swaai die nuwe bal baie meer en vir die eerste vier kolwers gaan dit moeilik wees om die eerste klompie beurte te trotseer,” het Wessels gesê.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |