|
|||||||||||
|
| VIND: |
Opinie
KOMMENTAAR: Chaos in die SAPD se bestuur
02/07/2009 08:12:14 PM - (SA)
Die rampspoedige impak van die land se gebrek aan ’n funksionerende nasionale polisiehoof, is vandeesweek opnuut in die ope gebring. Die SAPD se topbestuur is na die parlement ontbied om onder meer te verduidelik oor wesenlike leemtes in die funksionering van die polisiediens.
Toe die SAPD-bestuur gepeper word met vrae van die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), het die afvaardiging rondgetas soos onbeholpe skoolkinders.
Gegewe die erns van die misdaadprobleem in die land is dit volledig onaanvaarbaar dat die polisie se topbestuur nie eers die nodige professionaliteit aan die dag kan lê om behoorlik voor te berei vir ’n sessie met ’n uiters belangrike waghondkomitee nie.
Twee belangrike aspekte kom ter sprake. Eerstens is die gebrek aan leierskap in die polisie nogmaals ’n voorbeeld van hoe die ANC se eie interne stryd doeltreffende landsbestuur verlam het – en meer belangrik in dié geval, die veiligheid van gewone Suid-Afrikaners op risiko geplaas het.
Kyk jy na die skandalige vertoning van die polisie se topbestuur voor Skoor, is dit eintlik ’n wonderwerk dat daar polisiekantore is wat hoegenaamd nog hul werk doen. Wat dít betref is die toewyding van gewone polisiemanne en -vroue iets wat die bestuur maar kan nastreef.
Die episode dui opnuut op die noodsaak van ’n kundige bestuurder aan die hoof van die SAPD, eerder as nóg ’n swak politieke aanstelling wat geen hond haaraf maak nie.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |