|
|||||||||||
|
Opinie
BRIEWE, 10 Maart: Kerkeenheid oppervlakkig
09/03/2008 08:36:08 PM - (SA)
DIE tragiese heengaan van ds. James Buys het veroorsaak dat ek nog nooit in my lewe so getraumatiseerd en verward gelaat is nie. Dalk is ek ook kwaad.
Die vraag kom seker na vore: Waarom selfmoord? Wat het hy in sy brief geskryf? Maar dit maak ook nie eintlik saak nie. Die feit van die saak is iemand gaan nie tot so ’n stap oor as daar nie iets drasties verkeerd geloop het nie.
Danie Nel sê egter dat James sou skryf “ek het lank probeer om kop bo water te hou, maar tot vanoggend kan ek nie meer” (DB, 6/3).
Daar is so baie beweringe, want word daar nie die bonatuurlike van ons as predikante verwag nie? Die ander bewering, en dit wil ek glo, is dat sy onwrikbare strewe na eenheid in wese, nie net struktuurlik, soos wat die NGK hom voor beywer nie, moontlik een van die redes kon wees waarom hy maar tou opgegooi het nie.
Daarom dat hy hom maar onttrek het uit die breë arena van die VGK en hom maar daar in Wynberg beywer het, wat volgens die media baie goed uitgewerk het. Wesenlike eenheid het hom beslis na aan die hart gelê. So streef baie van ons in die VGK na onwrikbare eenheid.
Maar vertel “’n Wit Lidmaat, Plumstead” (Brieweblad, 7/3) nie ’n ander storie nie? Die refrein wat die skrywer inspan, “kleurling in ’n wit wêreld”, vertel hoe wit mense James nie in die oë kon kyk nie, hoe hulle vinnig die kerk wou verlaat om net nie naby hom te kom nie.
Jammer haar woorde was nie direk aan hom en net ’n bietjie vroeër nie.
Sjoe, vriende, ek weet nie meer wat om te dink nie; help my ook. Maar met my soeke na eenheid op my beskeie manier, loop ek my vas teen dieselfde muur. Moet ons nie maar ons energie gebruik om maar soos in die strugglejare die evangelie onvoorwaardelik te verkondig en maar eers hierdie oppervlakkige eenheid met die NGK te los nie?
Moes James die prys vir die onvermoë tot kerkhervorming betaal? Indien ja, salueer ons hom. Ons verseker sy vrou en kinders ons bid vir hulle.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |