|
|||||||||||
|
![]() Me. Sonia Gandhi
Buiteland
Mense van Indië het kernpakt met VSA nodig – Gandhi
17/07/2008 07:22:18 PM - (SA)
Nieu-Delhi. – Me. Sonia Gandhi, voorsitter van die regerende alliansie van Indië, het gister ’n burgerlike kernooreenkoms met die VSA heftig verdedig.
Sy het gesê dit is in die beste belang van die land en het teen kritici van die ooreenkoms uitgevaar.
Die koalisie, onder leiding van die Kongresparty, staar op 22 Julie ’n parlementêre vertroue-stemming in die gesig nadat sy Kommunistiese vennote in ’n twis oor die kernooreenkoms sy ondersteuning onttrek het.
Dié partye het gesê die pakt sal Indië se strategiese soewereiniteit skaad en die VSA invloed gee oor die land se buitelandse en kernbeleid.
“Ons het oor die land heen toegang tot die jongste kerntegnologie en kernbrandstof van ander lande nodig en dít is wat ons vir ons mense wil doen. Hoe kan ons daarvoor verkwalik word dat ons daarna streef om dit alles aan ons mense te verskaf?” het Gandhi op ’n byeenkoms in die stad Nellore gevra.
“Tog word ons beskuldig dat ons teen landsbelang optree. Daar is geen kwessie dat ons kompromitteer wat betref ons sekerheidsbelange, kernprogram of onafhanklike buitelandse beleid nie.”
Sy het gesê die kernpakt is noodsaaklik vir Indië se energiebehoeftes en toekomstige geslagte sal die belangrikheid daarvan besef.
“Die vraag na elektrisiteit in Indië neem toe en om aan daardie vraag te voldoen, is meer kernkrag-aanlegte nodig.”
Die ooreenkoms sal die VSA toelaat om in splytbare materiale met Indië handel te dryf. Dit beëindig ’n verbod van 30 jaar. In ruil daarvoor sal Indië sy burgerlike reaktors vir internasionale inspeksies oopstel.
Meningspeilings toon die meeste Indiërs is meer bekommerd oor stygende inflasie as die kernpakt. – dpa
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |