|
|||||||||||
|
| VIND: |
’n Polisiebeampte en ’n lid van die Delft-buurtwag is gisteraand in Philippi-Oos in ’n polisievoertuig doodgeskiet. Foto: DENZIL MAREGELE
Nuus
Polisieman en buurtwaglid doodgeskiet
04/08/2009 11:28:46 PM - (SA)
Kaapstad. - ’n Polisiebeampte en ’n lid van die Delft-buurtwag is gisteraand koelbloedig in Philippi-Oos doodgeskiet.
Volgens supt. André Traut, ’n polisiewoordvoerder, het die beampte (34) omstreeks 18:40 in sy gemerkte polisievoertuig by die verkeerslig op die hoek van Sheffield- en Lansdowneweg gestop toe ’n wit taxi langs hom stilgehou het.
“Drie verdagtes het uit die taxi gespring en verskeie skote op die polisiebeampte en buurtwaglid, wat saam met hom in die voertuig was, gevuur. Hulle is noodlottig gewond,” het Traut gesê.
“Die verdagtes het vermoedelik die polisiebeampte uit die voertuig geruk, hom gesig eerste op die pad gegooi en sy vuurwapen gevat. Hulle het te voet van die toneel gevlug.
“Die taxi het in die rigting van Delft weggejaag,” het Traut bygevoeg.
Adv. Lennit Max, provinsiale minister van gemeenskapsveiligheid, het gisteraand se voorval as ’n tragedie bestempel.
“Sulke voorvalle kan nie geduld word nie. Dit is maklik om vingers na die polisie te wys (as hulle ’n fout begaan), maar sulke tragedies wys dat misdadigers voel hulle het ’n license to kill,” het Max gesê.
Hy het die gemeenskap versoek om na vore te kom met inligting oor die verdagtes.
“Die misdadigers is deel van ’n gemeenskap en ek glo iemand is wel bewus wie hulle is. Hulle het duidelik geen respek vir reg en orde nie.”
Die polisiebeampte het by die Delft-polisiekantoor gewerk.
) In ’n ander voorval eergisteraand is mnr. Rashaad “Charra” Abrahams doodgeskiet nadat hy glo by ’n huisbraak betrokke was.
Volgens insp. Carin Loock, ’n polisiewoordvoerder, is ’n sekerheidsmaatskappy na ’n huis in St. Michael’sweg in Tamboerskloof ontbied nadat die huis se alarm afgegaan het.
“Die huiseienaar is ingelig en het saam met die sekerheidsmaatskappy daar opgedaag. Hulle het twee mans met klapmusse uit die huis sien hardloop.”
Een van die verdagtes het die sekerheidsbeampte aangeval en die beampte het hom geskiet,” het Loock gesê.
Abrahams het op die toneel gesterf en die ander verdagte het gevlug. Abrahams was deel van die bestuur van die nagklub @mospheer in Lansdowne.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |