|
|||||||||||
|
| VIND: |
Studente aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie betoog gister op die universiteit se Kaapstad-kampus oor hoë klasgeld vir 2010. Foto: DENZIL MAREGELE
Nuus
Studente eis dat visekanselier bedank
04/08/2009 11:07:42 PM - (SA)
Kaapstad. - Studente aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) se Kaapstad-kampus het gister weer betoog oor beweerde verhoogde klasgeld vir 2010.
Die studente is ontevrede oor hoë klasgelde en het geëis dat prof. Vuyisa Mazwi-Tanga, die visekanselier, weens wanbestuur moet bedank.
Die polisie is na die kampus ontbied omdat dit ’n onwettige betoging was.
Die registrateur van die universiteit het later aan die polisie gesê hul hulp is nie meer nodig nie omdat alles onder beheer is.
Die studente het ’n memorandum oor hul griewe aan die registrateur en voorsitter van die KSUT se raad oorhandig.
Mnr. Alwyn van Gensen, die registrateur van die KSUT, het aan die studente gesê hulle is bereid om te onderhandel.
“Ons sal na jul memorandum kyk en terugvoering gee,” het hy gesê.
Van Gensen het Maandag aan Die Burger gesê die studente wat in die koshuise woon se voorafgeld is van R1 800 tot R3 000 verhoog, maar dié bedrag het niks met registrasie- en klasgelde te doen nie.
Van Gensen het egter gister aan Die Burger gesê die voorafgeld van studente wat nie op kampus woon nie, is van R1 800 tot R3 000 verhoog.
Hy het bygevoeg die voorafgeld van studente wat in die koshuise woon, is van R2 800 tot R5 000 verhoog. “Die verhogings het niks met studente se registrasiegeld te doen nie,” het Van Gensen gesê.
Mnr. Lionel Louw, die voorsitter van die KSUT se raad, het die studente toegespreek en ingestem om na die memorandum te kyk. “Julle hoef nie skade op die kampus aan te rig om gehoor te word nie. Ek het op verskillende geleenthede gesê julle is welkom om met my te praat,” het hy gesê.
Mnr. Norman Jacobs, die KSUT se woordvoerder, het gesê die studente by die Bellville-kampus was nie onbedwingbaar nie. “Die visekanselier was daar en het ook ’n memorandum ontvang. Die studente het hulle goed gedra,” het hy gesê.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |