|
|||||||||||
|
| VIND: |
![]() Me. Hillary Clinton Foto: EPA
Nuus
Hillary Clinton kuier by Mandela tydens haar eerste besoek aan SA as minister
04/08/2009 11:03:24 PM - (SA)
Pretoria. - Me. Hillary Clinton, Amerikaanse minister van buitelandse sake, sal tydens haar besoek aan Suid-Afrika ’n draai by oudpres. Nelson Mandela in Johannesburg maak. Sy kom môreaand in die land aan.
Clinton sal ook projekte in Pretoria, Johannesburg en Kaapstad besoek wat met Amerikaanse geld gefinansier word.
Sy het haar man, oudpres. Bill Clinton, in 1994 by Mandela se inhuldiging by die Uniegebou verteenwoordig. Mandela en die Clintons is sedertdien baie goeie vriende. Dit is Clinton se eerste besoek aan Suid-Afrika sedert sy as minister van buitelandse sake aangestel is.
Sy sal Vrydag by die presidensiële gastehuis in Pretoria met haar Suid-Afrikaanse ampsgenoot, me. Maite Nkoana-Mashabane, gesprek voer.
Benewens die versterking van bilaterale betrekkinge op diplomatieke vlak, sal hulle aandag aan ekonomiese bande gee, het die departement van internasionale betrekkinge en samewerking gesê.
Nepad, die millennium-ontwikkelingsdoelwitte, die stryd teen MIV/vigs en ander oordraagbare siektes en die versterking van onderwys-, wetenskap- en kulturele bande sal ook aandag kry.
Suid-Afrika is naas Nigerië en Angola die VSA se grootste handelsvennoot in Afrika. Suid-Afrika is egter die Afrika-land wat die grootste verskeidenheid produkte na die VSA uitvoer. Die handel tussen die twee lande beloop sowat R100 miljard per jaar.
Clinton sal ook Vrydagaand ’n dinee in Pretoria bywoon wat Nkoana-Mashabane met die oog op Vrouedag aanbied.
Clinton is tot Sondag in die land.
Sy sou gisteraand in Kenia geland het.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |