|
|||||||||||
|
| VIND: |
Nuus
Klimaatsgesprek ‘gaan taai wees’
04/08/2009 11:00:52 PM - (SA)
Johannesburg. - Vir Suid-Afrika en Afrika is geen klimaatsooreenkoms einde vanjaar beter as ’n afgewaterde een.
Só het mnr. Alf Wills, Suid-Afrika se hoof-klimaatsonderhandelaar, gesê in ’n bespreking van klimaatsverandering en internasionale onderhandelings om die koers daarvan te stuit.
Verteenwoordigers van staatsdepartemente, nie-regeringslui en akademici het gister hier besin oor Suid-Afrika se rol in terme van VN-klimaatsonderhandelings. Maniere om die koers van klimaatsverandering te stop en by die verwagte effek daarvan aan te pas, was onder die soeklig.
Suid-Afrika steun onder meer die daarstel van ’n bindende meganisme in onderhandelings om heersende dooiepunte in klimaatsonderhandelings te help oorkom, is gesê. ’n Meganisme is nodig wat saam met die Kioto-protokol onder die VN se raamwerkkonvensie oor klimaatsverandering kan voortbestaan. Dele daarvan kan bindend wees en dit moet Amerika en ontwikkelende lande (wat tans nie aan bindende kweekhuisgasinkortings hoef te voldoen nie) kan betrek.
Internasionale onderhandelings oor ’n nuwe klimaatspakt vir 2012 en daarna (wanneer die Kioto-klimaatsverdrag se eerste fase ten einde loop) is onderweg.
Die mikpunte vir kweekhuisgasinkortings (in absolute terme) van die groep lande wat reeds ingevolge die Kioto-protokol aan bindende kweekhuisgasinkorting moet voldoen, moet op mediumtermyn wees om hul vrystellings teen 2020 met 25% tot 40% (van 1990-vlakke) te besnoei. Op lang termyn sal die groep ontwikkelde lande hul kweekhuisgasvrystellings nog dieper moet besnoei.
Terselfdertyd moet ontwikkelende lande na hul kweekhuisgasvrystellings kyk. Suid-Afrika steun die daarstel van ’n klimaatsbedeling waarin die meetbare, naspeurbare en rapporteerbare ingrypings waarmee ontwikkelende reeds besig is, erken word.
Volgens prof. Harald Winkler van die Universiteit van Kaapstad se energienavorsingsentrum kan Suid-Afrika die onderhandeling gebruik om kweekhuisgasinkortings met sy ontwikkelingsdoelwitte te versoen en in die proses oor te skakel na ’n toekoms wat minder koolstofintensief is.
Adv. Sandea de Wet, regsadviseur van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, meen dit gaan al moeiliker word om die soort brugbouersrol te vervul wat Suid-Afrika tot dusver in klimaatsonderhandelings gespeel het. Suid-Afrika moet veral voortaan nouer saamwerk met ander Afrika-lande hieroor, het sy gesê.
Suid-Afrika is tans gemoeid met ’n beleidsontwikkelingsproses wat klimaatsverandering betref. ’n Groenskrif hieroor word ontwikkel. Die proses bou voort op langtermyn-scenario-ontledings (die LTMS-oorsig) oor klimaatsverandering wat vroeër deur die regering uitgereik is.
Wills het gesê die onderhandelings is uiters kompleks en dit bly ’n uitdaging om die uiteenlopende belange van rolspelers in die G77+China te balanseer.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |