|
|||||||||||
|
| VIND: |
Nuus
Nóg vrae oor griepdood
04/08/2009 10:59:36 PM - (SA)
Kaapstad. - Daar is steeds heelwat meer vrae as antwoorde rondom die dood van ’n Matie wat die eerste sterfte weens Mexikaanse griep in Suid-Afrika is.
’n Internis wat Ruan Müller (22) behandel het en anoniem wil bly, het die bevestiging dat Müller Mexikaanse griep – oftewel die H1N1-virus of varkgriep – gehad het, as “toevallig” beskryf.
“Ek het die afgelope twee jaar ses mense behandel wat op presies dieselfde manier aan ’n bakteriële longinfeksie dood is. Mexikaanse griep was ’n toevallige bevinding en hoeveel dit tot die dood bygedra het, sal ons nooit weet nie.”
Me. Tertia Kruger, woordvoerder van Medi-Clinic, het gesê Müller het nie tipiese simptome van Mexikaanse griep getoon nie.
Die internis het daarop gefokus om ’n aggressiewe, atipiese soort bakteriële longontsteking te behandel en Müller is eers ná sy dood op 28 Julie vir varkgriep getoets.
Intussen het kenners gesê nog sterftes weens Mexikaanse griep is nie uitgesluit nie.
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se amptelike syfers het meer as 1 000 mense wêreldwyd reeds weens die siekte gesterf.
Reuters berig die WGO het gister weer beklemtoon tot twee miljard mense kan teen die einde van die pandemie reeds Mexikaanse griep opgedoen het.
Volgens prof. Wolfgang Preiser, ’n viroloog en infeksiekenner van die Universiteit Stellenbosch se sentrum vir infeksiesiektes, gaan daar definitief nog sterftes wees.
Volgens Preiser is dit ongelukkig dat die eerste sterfte dié van ’n gesonde en fikse jong man was en dat dit nie soos verwag in die hoërisiko-groepe soos bejaardes en mense met swak immuunstelsels geval het nie.
“Ons moet onthou jong mense is sosiaal meer mobiel as bejaardes. Bejaardes vlieg nie sommer vir vakansies na die VSA nie. Ons moet dit in ag neem,” het Preiser gesê
“Daar was geen aanduidings dat sy immuunstelsel ingeperk was nie en niemand sou dié uitkoms vroeg tydens sy siekte kon voorsien het nie.”
Hy het in die lig van die eerste sterfte gesê mense wat aan chroniese hart- en longsiektes en diabetes ly en griepsimptome toon, moet so gou moontlik antivirale middels neem.
“ ’n Dokter moet eers die diagnose bevestig en so gou moontlik met behandeling begin om vertragings uit te skakel. Laboratoriumtoetse neem te lank,” het hy gesê.
Ook prof. Robert Bragg, ’n mikrobiochemikus en infeksiekenner aan die Universiteit van die Vrystaat, meen die H1N1-virus was tot dusver “vriendelik teenoor ons”. “Maar die jongste sterfte beteken ons sal ons oog op die virus moet hou. Dit is wel nie ’n baie venynige virus nie, maar die situasie kan nog verander. Daar kan nog sterftes wees.”
Die Wes-Kaapse departement van gesondheid het gister weer beklemtoon daar is nie rede tot paniek nie. Volgens me. Faiza Steyn, woordvoerder van die departement, is slegs matige gevalle tot dusver in die provinsie aangemeld wat met normale griepmedisyne behandel kan word.
Dr. Lucille Blumberg, ’n epidemioloog van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes, het gesê dit is steeds so dat die meeste mense met matige varkgriepsimptome nie vir die virus getoets hoef te word of antivirale medisyne hoef te kry nie.
Sy het gesê Mexikaanse en seisoenale griep veroorsaak soms komplikasies en sterftes by babas, bejaardes en mense met onderliggende siektes, maar Mexikaanse griep kan ook gesonde jong mense ernstig siek maak of laat sterf.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |