|
|||||||||||
|
| VIND: |
Nuus
Party probeer Lynda Odendaal oorreed om terug te keer
09/07/2009 10:26:19 PM - (SA)
Kaapstad. - Cope het die deur oopgelos vir me. Lynda Odendaal, tweede adjunkleier van die party wat vandeesweek skielik bedank het, om terug te keer.
’n Gesprek is belê tussen haar en mnr. Mosiuoa Lekota, die leier van Cope, oënskynlik om haar te oorreed om in die party aan te bly.
Dít het gister op ’n nuuskonferensie by die parlement deurgeskemer, waar die partyleierskorps – Lekota, dr. Mvume Dandala, parlementêre leier, en mnr. Mbhazima Shilowa, eerste adjunkleier – ’n verenigde front voorgehou het.
Cope sal ná afloop van ’n leierskorpsvergadering vandag duidelikheid verskaf oor vandeesweek se twee skielike hoëvlak-bedankings uit die party. Aanduidings van ’n leierskapskrisis in Cope het die afgelope ruk toegeneem. Dit is versterk toe ’n dokument van mnr. Simon Grindrod, nasionale verkiesingshoof, waarin uitdagings in die party blootgelê is, aan die media uitgelek het.
Odendaal, ’n oudsakevrou, het Dinsdag skielik as partylid en LP bedank. Grindrod het op dieselfde dag ook sy bedanking uit Cope se leierstrukture aangekondig. Hy bly aan as ’n gewone lid.
Die kwessie word vandag deur die nasionale komitee van die party bespreek. Lekota het gesê Odendaal het ’n “baie kort” brief aan hom gestuur. “Sy het nie enige redes aangevoer vir haar besluit nie. Ek wil nie graag namens haar praat nie. As sy redes aangevoer het, sou ek met gesag oor die kwessie gepraat het.”
Shilowa het gesê al het Odendaal en Grindrod bedank, is hulle na vandag se vergadering genooi. “Nie om verslag te doen of beswadder te word nie, maar omdat die kwessies wat hulle opper die party dalk kan help om vorentoe te beweeg. Ons sal ná die vergadering in ’n beter posisie wees om lig te werp op die kwessie.”
Lekota het gesê hy sal bevoorreg wees as Odendaal en Grindrod daar kan wees. “Afhangende van of hulle die uitnodiging sal aanvaar en afhangende van wat uit dié interaksie kom, sal die nasionale komitee besluit wat die volgende stap sal wees.”
Shilowa het gesê die party het Woensdag op ’n bestuursvergadering besluit dat selfs al het Odendaal bedank en sy outomaties op die party se kandidatelys vervang kon word, is dit nie gedoen nie.
“Ons moet nooit die indruk wek dat ons feesvier wanneer een van ons geloop het nie. Ons het ooreengekom dat die partyleier haar sal ontmoet . . . ons sal kyk hoe dit ontwikkel.”
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |