|
|||||||||||
|
| VIND: |
Nuus
Amptelike verslag: Só ruk SAUK jou sak
05/07/2009 09:47:49 PM - (SA)
In ’n poging om sy leë koffers te vul het die SAUK onder meer vorendag gekom met ’n plan om ’n “gratis’’ meevaller-inkomste te verdien uit byvoorbeeld die instel van lisensiegeld vir selfoon-TV in die land.
As die regering so ’n lisensieplan vir die SAUK toestaan, sal dit miljoene rande vir die openbare uitsaaier kan laat inrol, veral met die Wêreldbeker-sokkertoernooi aanstaande jaar. Miljoene Suid-Afrikaners en buitelandse besoekers gaan na verwagting op hul selfone daarna kyk.
Dít blyk uit ’n amptelike SAUK-verslag wat Die Burger bekom het. Die uitsaaier is R839 miljoen in die rooi. Hierdie planne deur die SAUK se finansiële hoof, mnr. Robin Nicholson, sluit in nuwe en dramatiese jaarlikse verhogings in TV-lisensiegeld en om die regering te probeer oorreed om vir van die uitsaaier se wit uitsaai-olifante te betaal.
Die SAUK begeer ook om MultiChoice se kliëntedatabasis in die hande te kry of dit vir inkomstegewin te “bestuur’’. Die SAUK wil sien watter huishoudings DStv besit, maar nie tans SAUK-lisensies het of betaal nie – of wil MultiChoice inspan om sommer namens die SAUK lisensiegeld van DStv-intekenare in te samel.
“DStv se databasis-bestuur’’ sal etlike miljoene vir die uitsaaier laat inrol. MultiChoice, wat Saterdagoggend vir kommentaar hieroor gevra is, het teen druktyd gister nie gereageer nie.
Die SAUK wil tussen 2011 en 2014 ook jaarliks meer uit TV-lisensiegeld verdien deur beter invordering en beplande lisensiegeldverhogings. Die uitsaaier wil ook die regering vra vir ’n bykomende “lisensiegeldsubsidie’’ vanaf 2012 omdat die heel armste huishoudings wat wel TV kyk nie lisensiegeld kan bekostig nie.
Lisensiegeld verteenwoordig 17% van die uitsaaier se jaarlikse totale inkomste.
Die uitsaaier se groot plan is egter om selfoon-TV-lisensies in te stel. Die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) het Vrydag in die Staatskoerant die jongste regulasies rakende selfoon-TV, oftewel mobiele-TV-operateurs, gepubliseer.
Daarin sê Okosa die plan is om voor die einde van die jaar mobiele-TV-operateurs aan te wys sodat hulle met volgende jaar se Wêreldbeker-sokkertoernooi reeds op selfone kan uitsaai. Die SAUK wil dié nuwe lisensiebron ontgin.
Volgens die SAUK se berekenings sal verpligte selfoon-TV-lisensies vir mobiele-TV-operateurs die SAUK ’n bykomende inkomste van R1,3 miljoen besorg.
Hoewel die SAUK al voorheen gevra en die regering geweier het, gaan pogings voort om die regering sover te kry om 50% van die totale bedryfskoste en uitsaai-uitgawes van die nuuskanaal SABC News International te dra.
SABC News International is deur die uitsaaier se voormalige nuushoof, dr. Snuki Zikalala, geskep. Dié nuuskanaal word teen miljoene rande per maand bedryf en saai na ’n uiters beperkte kykersgehoor op die aparte Vivid-satellietplatform van Sentech uit. SABC News International word allerweë as ’n wit olifant beskou wat die uitsaaier te trots is om te staak.
Verder wil die SAUK Okosa oorreed om sekere uitsaairegulasies te verander sodat alle sport as plaaslike inhoud tel.
Sodoende hoef die SAUK minder plaaslike TV-inhoud te vervaardig en uit te saai, wat ook geld sal bespaar.
Sportuitsendings kos die SAUK reeds R284 miljoen per jaar.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |