|
|||||||||||
|
| VIND: |
Nuus
Kriminoloog sê aanvaller wou haar vermoor
05/07/2009 09:45:56 PM - (SA)
Prof. Anna van der Hoven wil seker maak haar vermeende aanvaller word ook van poging tot moord aangekla.
Dié bekende forensiese kriminoloog van Unisa is verlede week met ’n tuinvurk by haar huis in Lyttelton, Centurion, aangeval.
Haar vermeende aanvaller (28) was een van die werkers wat besig was om ’n fontein in haar tuin te installeer.
Hy het reeds in die Pretoriase landdroshof op aanklag van huisroof verskyn.
Van der Hoven (64) is die naweek uit die hospitaal ontslaan en sterk nou tuis aan. Sy het gister nog baie pyn verduur. “Hy het my vreeslik seergemaak. Hy het hard met sy hand op my mond en neus gedruk om my te versmoor.”
Haar tande en tong is beseer en haar mond was gister nog so erg geswel dat sy net vloeistowwe met ’n spuitnaald kon inneem.
“Die polisie kom my Dinsdag sien om my volledige verklaring af te neem. Ek wil ’n klag indien van poging tot moord. Ek beskou hom as ’n baie gevaarlike misdadiger.”
Dit is juis omdat hy so vriendelik en gemoedelik voorkom, het sy gesê. Van der Hoven het nie die aanval verwag nie. “Ek het nie juis kontak met hom gehad nie. Ek was die heeltyd agter slot en grendel.”
Dié dag het die man vroeër opgedaag vir werk en haar na buite gelok deur te vra watter plante hy uit die tuin mag haal. Sy het na buite gestap om vir hom te wys. Toe sy afbuk, het hy haar glo met die tuinvurk oor die nek geslaan.
Van der Hoven en die rower het daarna gestoei en hy het haar probeer verwurg. Die rower het gevlug met haar persoonlike besittings, soos haar handsak, skootrekenaar en kontant.
Baie van dié besittings is later teruggevind. “Ek is net bly om by die huis te wees,” het sy gesê.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |