|
|||||||||||
|
| VIND: |
Nuus
Minister moet duur reklame verduidelik
05/07/2009 09:27:31 PM - (SA)
Die ministerie van korrektiewe dienste het gister duur volblad-advertensies in twee Sondagkoerante geplaas, ondanks ’n beroep op staatsdepartemente om koste te bespaar.
In dié advertensies, wat in die Sunday Times en City Press verskyn het, word berig oor die minister, me. Nosiviwe Mapisa-Nqakula, en haar adjunk, me. Hlengiwe Mkhize, se begrotingstoesprake van die afgelope week.
Advertensies van dié aard – volkleur, volblad en vir eenmalige plasing – kan maklik tot R500 000 elk kos. Dit is deur die DA as “onnodige openbare skakeling en ’n vermorsing van geld” bestempel.
Mnr. Manelisi Wolela, woordvoerder, het onderneem om Die Burger met Mapisa-Nqakula se kommentaar terug te bel, maar dit het nie gebeur nie.
Mnr. James Selfe, DA-skaduminister van korrektiewe dienste, wil nou by die minister weet wat die presiese koste van die advertensies was en tot hoe ’n mate dié besteding tot die publiek se voordeel strek.
“Dit kom neer op die misbruik van mag en verseker ook die wanbesteding van openbare geld in diens van wat in wese ’n partypolitieke doelwit is,” het hy gesê.
Selfe glo dit is nou meer as ooit van kardinale belang dat die regering, gegewe die ekonomiese resessie, sy “gebruiklike uitspattige besteding” moet besnoei.
Mnr. Pravin Gordhan, minister van finansies, het dié boodskap baie duidelik gemaak toe hy pas in sy eie begrotingsrede ’n pleidooi gelewer het vir meer gedissiplineerde geldbestuur deur die staat.
Selfe het gesê die departement van korrektiewe dienste is juis een van die departemente wat die swakste presteer. Indien die minister dit dus regkry om die departement binne die volgende vyf jaar beter te laat vaar, sal die advertensies dalk geregverdig kan word, “maar tot dan is daar te veel om gedoen te word voordat die departement sy eie beuel kan blaas”.
) Dit is intussen onduidelik wat presies die rede is vir die lang afwesigheid van die parlement van Mapisa-Nqakula se voorganger, mnr. Ngconde Balfour. Hy is deesdae ’n ANC-agterbanker, maar het nog nie sy verskyning by enige komiteevergadering gemaak nie.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |