|
|||||||||||
|
| VIND: |
Nuus
Dassie-mishope ‘is kleinode’
05/07/2009 08:13:38 PM - (SA)
Dassie-“toilette” behoort soos kleinode bewaar te word, maan ’n groep akademici wat gekant is teen die vooruitsig van mense wat probeer munt slaan uit “dassiepis” wat gebruik word in die vervaardiging van medisyne en selfs parfuum.
Prof. Louis Scott van die Universiteit van die Vrystaat se departement plantwetenskappe, asook plaaslike navorsers soos me. Lynne Quick, waarsku die “oes” van dassie-mishope kan die mensdom beroof van onskatbaar waardevolle inligting oor onder meer klimaatsverandering.
Van die hope is tot 40 000 jaar oud en word so hoog as 70 cm of meer, volgens navorsers.
“Die mishope bou op oor jare. Dis amper soos ’n tydkapsule waarin jy kyk,” verduidelik Scott.
“Jy het ’n rekord van die klimaat en die plantegroei, want dis ’n sop van oorblyfsels uit daardie tyd.”
Hyraceum, of versteende dassie-uitskeiding, word gebruik vir die tradisionele behandeling van epilepsie, volgens die November/Desember-uitgawe van die South African Journal of Science. Maar ook vir “blerrie parfuum”, het ’n omgekrapte Scott gister vertel.
Scott is deel van ’n drukgroep wat ontstaan het nadat daar berig is oor onder meer die finansiële moontlikhede van die lewering van “dassiepis”.
Volgens Quick, wat ’n M-graad aan die Universiteit van Kaapstad behaal het vir haar bestudering van mishope agtergelaat deur geslagte dassies (Procavia capensis) in die Cederberge, word stuifmeel van verskillende plante oor die eeue in die hope vasgevang en bied dit ’n blik op ’n streek se plantegroei-geskiedenis en hoe dié verander het.
Die hope bestaan gewoonlik uit hare, ontlasting, stof, stuifmeel en die dassie se kenmerkende hoogs gekonsentreede urine.
Dit is veral dassiemishope wat dié inligting verskaf omdat dié sonbakkertjies die gewoonte het om dieselfde ablusies van geslag tot geslag te behou.
Quick sê hoewel sy nie bewus is van enige “oes” van dassie-urine in die Cederberge nie, ondersteun sy bewusmaking teen die “gevare” wat dit vanuit ’n bewaringsoogpunt sou inhou.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |