|
|||||||||||
|
| VIND: |
Me. Amy Ostroff van Pennsilvanië wys vir Onela Makaluza (4) van die Siyaphambili-weeshuis die visse by die Twee Oseane-akwarium. Die egpaar het 35 weeskinders eergister akwarium toe geneem nadat hulle verlede jaar die weeshuis besoek en die kinders in hul harte gekruip het. Foto: edrea cloete
Nuus
VSA-egpaar neem 35 weeskinders akwarium toe
02/07/2009 10:25:21 PM - (SA)
Kaapstad. - Die Siyaphambili-weeshuis in Langa het verlede jaar die harte van twee Amerikaners só geraak dat hulle nou teruggekeer het om die weeshuis se kinders ’n bietjie te bederf.
Mev Amy Ostroff, haar man, Jon, en hul drie kinders van Pennsilvanië het eergister 35 inwoners van Siyaphambili, almal tussen 4 en 20 jaar oud, op ’n uitstappie na die Twee Oseane-akwarium in Kaapstad geneem en geskenke aan hulle uitgedeel wat in Amerika ingesamel is.
Die dag is egter effens versuur weens die diefstal van ’n skootrekenaar wat vir die weeshuis bedoel was.
Die egpaar het verlede jaar tydens ’n besoek aan Kaapstad saam met ’n toergroep die weeshuis besoek.
“Ons het daar vir Ndileka (Xameni, die bestuurder) ontmoet en was so oorweldig deur die werk wat sy doen dat ons gevoel het ons kan nie anders as om hulle op een of ander manier te help nie,” het mev. Ostroff gesê.
Hulle het die afgelope paar maande in Amerika hul vriende en familie oorreed om geld te help insamel en het vandeesweek T-hemde, lekkergoed, tandeborsels, jassies en ’n skootrekenaar vir die weeshuis gebring.
“Ons voel so gelukkig dat almal net wou help. Al ons vriende en familielede wou ’n bydrae maak en die hotel waarin ons tuisgaan, die Cape Royale Luxury Hotel, het die kinders gratis met ’n bus na die akwarium aangery,” het mnr. Ostroff gesê.
Die kinders het by die akwarium ’n klas oor seelewe geniet.
Me. Ndileka Xameni, bestuurder van die weeshuis, is baie dankbaar vir die toeriste se betrokkenheid. “Baie toeriste kom maak by ons ’n draai en sê almal hulle sal definitief ’n volgende keer help, maar hulle kom nooit terug nie. Behalwe dié twee.”
Die skootrekenaar wat die Ostroffs vir die weeshuis gekoop het, is uit die bus gesteel terwyl hulle in die akwarium was.
Mnr. Ostroff het versoek dat enigiemand met meer inligting oor die diefstal of oor waar hy spoedig ’n nuwe skootrekenaar kan bekom, hulle by die hotel by 086 1227 3769 kontak.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |