|
|||||||||||
|
| VIND: |
Nuus
Benoude oomblikke in vliegtuig
02/07/2009 10:29:27 PM - (SA)
Nelspruit. - ’n Groep akteurs het sowat nege uur later as beplan hier aangekom nadat die SA Airlink-vliegtuig waarmee hulle moes vlieg onklaar geraak het en twee keer moes omdraai.
Passasiers was onder die indruk dat twee noodlandings uitgevoer is. SA Airlink ontken dit egter. Die akteurs Pedro Kruger, Frieda van den Heever en Leon Kruger, sowel as van die feesbestuur se gaste soos dr. Niel le Roux, uitvoerende hoof van die Suidoosterfees, en me. Lutfia Vayej, hoof van korporatiewe kommunikasie van Media24, was aan boord van vlug SA 8663. Dit is ’n British Aerospace 146-vliegtuig. Die vlug het om 10:00 van die Kaapstadse Internasionale Lughawe vertrek.
Mnr. Johan van Jaarsveld, bedryfshoof van SA Airlink, het gesê nadat hulle opgestyg het, sowat 5 km van die lughawe af, het die kaptein ’n geluid gehoor.
“Een van die vier kragopwekkers van die vliegtuig het nie gewerk soos dit moet nie en hy het omgedraai,” het hy gesê.
“Dit was nogal erg,” het Le Roux gesê. “Die vliegtuig het geruk. Hulle het ons gevra om in die brace position (met die koppe teen die knieë en die hande agter die kop) te sit.”
Die vliegtuig het omgedraai en geland. Volgens Le Roux het die vliegtuig met die tweede probeerslag nie genoeg krag gehad om op te styg nie. Almal moes afklim en vir ’n ander vliegtuig wag om uit Johannesburg te kom.
Van Jaarsveld het gesê die besluit om ’n ander vliegtuig te laat kom, is geneem omdat die kragopwekkers weer nie almal gewerk het nie.
Kruger het gesê hulle het gisteraand om 19:25 in Nelspruit geland.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |