|
|||||||||||
|
| VIND: |
Nuus
‘Min Suid-Afrikaners hou leiers aanspreeklik’
25/05/2009 10:57:57 PM - (SA)
Media24-Afrika-kantoor. - Net 12% van Suid-Afrikaners – heelwat minder as in baie ander Afrikalande – glo dit is kiesers se plig om die president en verkose leiers aanspreeklik te hou.
Hoewel Suid-Afrikaners geen benul het wie hulle in die parlement verteenwoordig nie – net 3% kon in 2008 sê wie hul LP is – praat hulle meer as in byna enige ander demokrasie op die vasteland die taal van protes: sowat 19% van Suid-Afrikaners het verlede jaar plakkate geswaai, getoi-toi of gestaak.
Dít is van die bevindinge van die jongste Afrobarometer-peiling, wat die stand van demokrasie teen die einde van 2008 in 19 Afrikalande gemeet het.
Meer as 105 000 mense het onder meer sedert 2000 aan Afrobarometer-navorsers gesê of hulle demokrasie bo diktatuur verkies (70% steun in 2008 demokrasie; 75% verwerp militêre regering), hoeveel keer die laaste jaar hulle sonder kos was (18% van Suid-Afrikaners was in 2008 altyd of meestal honger), en wie hulle vir hul probleme verkwalik.
Die navorsing deur die demokrasie-instituut Idasa onder 2 400 Suid-Afrikaners en ook in 18 ander lande wys Botswana is nader as enige van die ander peilinglande aan die volle konsolidering van demokrasie. Dit beteken baie mense steun demokrasie (85% in Botswana en 67% in Suid-Afrika), en baie glo ook hulle kry dit (91% in Botswana teenoor slegs 48% in Suid-Afrika).
“Afrikane verkies al hoe meer demokratiese regerings teenoor die alternatiewe,” het prof. Robert Mattes van die Universiteit van Kaapstad, wat die navorsing help doen, gister gesê.
Die swartskape is vanjaar Lesotho en Madagaskar, waar onderskeidelik net 37% en 36% van die bevolking reken hulle leef in ’n demokrasie.
In albei lande steun minder as die helfte van die bevolking boonop demokrasie as regeringsvorm.
Weens die opvatting dat “Afrikakultuur mense meer geneig maak om gesag te aanvaar”, volgens Mattes, is ook bevind 62% van Afrikane glo meer behoort gedoen te word om hul leiers se optrede te bevraagteken – solank hulle dit nie self hoef te doen nie.
Sowat 60% van alle respondente beskou hul regering immers meer as ’n “ouer” en hulself as die “kind”.
Hoewel 61% van Suid-Afrikaners glo burgers behoort hul leiers meer aktief te bevraagteken (teenoor slegs 42% in Lesotho), sê slegs 12% van Suid-Afrikaners dit is kiesers wat dié waghondrol moet speel.
In Malawi is dit so hoog as 70%.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |