|
|||||||||||
|
| VIND: |
![]() Reddingswerkers probeer om twee lyke uit die verfrommelde wit Volkswagen Polo te kry. In die sloot lê die bedekte lyke van die ander twee slagoffers. Foto: malani venter
Nuus
Vier op slag dood toe trein motor by Spier tref
05/01/2009 11:33:52 PM - (SA)
Stellenbosch. - Hy het net skielik gesien hoe ’n wit motor in die lug uitmekaar- skiet, het ’n erg geskokte treinpendelaar gistermiddag gesê.
Kort tevore het die trein waarin hy gereis het ’n wit Volkswagen Polo getref. Amper gelyktydig het twee liggame deur die lug getrek.
Twee mans en twee vroue, besoekers van Gauteng wat in ’n Kaapstadse hotel tuisgegaan het, is na verneem word omstreeks 15:05 op slag dood toe die trein hul gehuurde voertuig by die Vlaeberg-kruising getref het.
Dié oorgang is op die Vlaebergpad, ’n afdraaipad vanaf die R310 naby die landgoed Spier buite Stellenbosch.
Die vier oorledenes, van wie drie iets in die vyftig was, was vermoedelik op ’n wynproe-toer.
Met Die Burger se aankoms op die toneel het twee bedekte lyke ’n paar meter van die kruising in ’n sloot langs die verfrommelde voertuig gelê. Dit was dié liggame wat mnr. Donovan Jansen deur die lug sien trek het.
Jansen, van Cloetesville, wat in die derde wa van voor gesit het, het weens die hitte sy kop by die treinvenster uitgesteek.
Hy het ooglopend geskok op die ongelukstoneel beskryf hoe die trein die motor getref het.
“Ek het my oë toegemaak vir die wind. Toe ek dit oopmaak, sien ek net die wit kar en die trein wat dit in die middel tref.
“Die kar het die volgende oomblik uitmekaargeskiet.”
Nie ver daarvandaan nie het reddingswerkers nog twee lyke uit die voertuig probeer kry.
Twee kragbokse, kragpale en kragdrade het op die toneel stukkend gelê. Dit blyk die voertuig het ná die impak die kragbokse getref en toe tussen ’n sloot en die treinspoor tot stilstand gekom.
Volgens Jansen het die trein onmiddellik rem aangeslaan. “Die hele trein het gebewe tot ons stil gaan staan het.”
Dit is die tweede ongeluk in drie weke by dié kruising.
’n Man en vrou het in Desember uit die wrak van ’n silwer Toyota Yaris geklim nadat ’n trein die motor daar getref het.
Die polisie kon teen druktyd nog nie die name van die slagoffers bekend maak nie.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |