|
|||||||||||
|
| VIND: |
’n Brief wat die dood van ’n geliefde herdenk is vermoedelik op Kersdag op Bloubergstrand geskryf en aan ’n tros ballonne gebind en losgelaat. Dit is agt dae later op ’n plaas buite Matjiesfontein gevind. Foto: MATTHEW JORDAAN Foto:
Nuus
Brief ‘sweef’ 250 km ver
05/01/2009 09:56:17 PM - (SA)
Kaapstad. - ’n Brief wat vermoedelik op Kersdag op Bloubergstrand geskryf is en waarin die dood van ’n onbekende herdenk word, is dae later en sowat 250 km verder deur ’n vakansieganger naby Matjiesfontein gevind.
Mnr. Dirk Smit van Kaapstad, wat saam met sy gesin op die plaas Keurkloof buite Matjiesfontein vakansie gehou het, het op die plaas op die brief afgekom. Dit was vasgemaak aan linte en ’n bondel wit ballonne wat gebars het.
“Ek het op 28 Desember foto’s geneem van die lig tydens sonsondergang toe ek ’n klapgeluid gehoor het.”
Volgens Smit het hy egter eers op 2 Januarie kans gekry om te gaan kyk wat die geluid veroorsaak het.
Daar, tussen die gebarste ballonne, het hy die brief gesien.
Die brief is gerig aan ene Elma of Elmo (41). “Jou agtste Kersfees sonder ons.”
Dit wil ook voorkom of die aangrypende brief in Bloubergstrand geskryf is.
Die skrywer verwys na Bloubergstrand as die oorledene se gunstelingplek en sê ook in die brief hoe goed dit voel om daar te wees.
“Ek dink nie een van ons gesin het nog die brief deurgelees nie omdat dit te emosioneel is,” het Smit gesê.
Volgens mnr. Carlton Fillis, ’n weervoorspeller van die Suid-Afrikaanse Weerdiens, is dit onwaarskynlik dat die brief op Bloubergstrand “losgelaat” is omdat dit sowat 250 km verder gekry is.
“Ek sê nie dit is onmoontlik nie, maar ons weerballon wat met helium of waterstof gevul word, maak dit gewoonlik net so 30 km uit Kaapstad uit.”
Volgens Fillis hang dit af van die windrigting, spoed en waarvan die ballonne gemaak is en hoe groot dit opgeblaas is.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |