|
|||||||||||
|
| VIND: |
Nuus
W-Kaapse ANC in twee
24/09/2008 11:14:42 PM - (SA)
’n Reusekrisis staar die Wes-Kaapse ANC in die gesig nadat sowat die helfte van die afgevaardigdes die amptelike provinsiale kongres geboikot en ’n afsonderlike byeenkoms gehou het.
Enigeen wat bewyse sou vra van ’n moontlike skeuring in die regerende party sou gister niks verder moes soek as die Skwatsha-groep se (amptelike) konferensie in die Kaapse middestad en die Rasool-groep se byeenkoms terselfdertyd in Langa nie.
Die amptelike konferensie in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum het op ’n weifelagtige noot – en vier uur laat – begin.
Daar was ’n gedempte atmosfeer, hoewel daar met samesang probeer is om die konferensie se gees te verbeter.
Die Rasool-gesinde provinsiale voorsitter, mnr. James Ngculu, is kil en in volkome stilte aangehoor terwyl hy nouliks versluierde aanvalle op die provinsiale sekretaris, mnr. Mcebisi Skwatsha, gedoen het.
Hy het gewaarsku dat ’n verdeelde ANC in die hande van die DA speel, maar is slegs toegejuig met sy aankondiging dat hy hom nie weer verkiesbaar stel nie.
Die konferensie duur vandag voort en moet ’n nuwe provinsiale leierskorps verkies.
Ngculu is ná sy toespraak reguit na ’n ander groep van sowat 400 mense, grootliks ondersteuners van mnr. Ebrahim Rasool, wat in Langa byeengekom het uit weerwraak teen die “korrupte verkiesingsprosedure” wat die provinsiale kongres glo voorafgegaan het.
Die groep, onder leiding van die streeksekretaris van die Dullah Omar-streek, mnr. Mbulelo Ncedana, het ’n memorandum opgestel waarin die wettigheid van die provinsiale kongres betwis word.
Die memorandum bevat aantygings dat prosesse voor die konferensie gemanipuleer is om ’n oorwinning vir die Skwatsha-faksie te verseker.
’n Afskrif van die memorandum is glo Dinsdagaand aan die nasionale ANC-leierskorps gestuur en daar is gepoog om die memorandum gister aan die provinsiale leiers te oorhandig. Niemand het egter opgedaag om dit te ontvang nie, het Ncedana aan die groep gesê.
Talle in Langa het by navraag gesê dat hulle bewus is van gerugte dat ’n nuwe politieke party binnekort uit ANC-geledere kan ontstaan.
“Ek is deur ’n paar mense daaroor genader,” het ’n jong ondersteuner gesê.
Ander mense het weer laat weet dat hulle nooit die ANC sal verlaat nie, maar dat iets beslis “verkeerd geloop” het.
“Ons weet nie wát nie, maar dít is nie die ANC wat ons ken nie,” het nog ’n ondersteuner gesê.
Organiseerders het gistermiddag laat gesê daar was afgevaardigdes van nagenoeg 102 ANC-takke by die byeenkoms in Langa. “Dit beteken meer as die helfte van die takke op hiér en nie op die amptelike konferensie nie.”
Organiseerders op die amptelike konferensie was egter seker hulle sou wel ’n kworum hê.
Mnr. Sakkie Jenner, Wes-Kaapse OD-leier, het in sy reaksie gesê die ANC sal nooit weer eensgesind wees nie.
“Die ANC is in Getsemane. Ontevrede ANC-lede se vaardighede sal goed te pas kom in die stryd om die Wes-Kaap sonder die ANC te regeer,” het hy gesê.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |