|
|||||||||||
|
| VIND: |
![]() Angus BuchanFoto: Michael Hammond
Nuus
Video: Angus Buchan op Nuweland
In sy vaste geloof in God en die toekoms van Suid-Afrika het Angus Buchan die naweek aan duisende gelowiges gevra om “nie weg te hardloop nie”.
“Ek sien oorsee Suid-Afrikaners met trane in hul oë. Hulle verlang terug huis toe.”
Buchan het gesê een probleem is dat baie wil terugkom, maar net eenvoudig nie die geld het nie, nadat hulle alles gebruik het om hulle in ander lande te hervestig.
“Weet jy nie as jy wil weghardloop van jou probleme vat jy dit saam nie? Jou probleme is in jou.
“Weet jy wat my hartseer maak? Ek sien Suid-Afrikaners in Australië wat huil. Eerlikwaar. Ek sien hoe hulle in Londen huil . . . Ek wil jong mense oortuig om hier te bly. Moenie weggaan nie. Ons het julle nodig, ouens.”
Hy het beklemtoon die goeie nuus is dat die land verander. Hy gaan volgende Kimberley toe, daarna Port Elizabeth, Oos-Londen, Heidelberg en Coca-Cola-park (Ellispark).
“Ellispark op 8 November. Dit is reeds vol.”
Buchan het beklemtoon dit gaan nie oor hom nie, maar oor God. Hy is net ’n aartappelboer van KwaZulu-Natal met geen opleiding as predikant nie.
Op ’n nuuskonferensie is Buchan gevra of hy net vir wit mense preek. “Ek is kleurblind,” het hy gesê en uitgewys hy is van Zambië. Hy hoop om sy boodskap na Soweto te neem en gee nie om om 120 000 Zoeloes toe te spreek nie.
Op nog ’n vraag dat daar nie konkrete bewyse is dat Buchan mense wat MIV-positief is, kan genees nie, dat hy mense opsweep en op die rug ry van vrees, het Buchan geantwoord: “Ek is nie die een wat gesond maak nie. Dit is God. Hy kan die dooies lewendig maak. Ek gaan nie ’n bespotting van God maak nie. Dit is nie ’n skouspel nie. Ek haat dit om mense te sien ly. God is die heler.”
Buchan het gesê hy het nie heelpad Kaap toe gekom om mense om die bos te lei nie. Hy wil sien hoe mense van sy optrede wegloop met liefde en hoop.
“Mense raak moeg daarvoor om net te wag . . . Ons het die mannekrag. Ons het die mooiste land. Ons gaan die pas aangee vir die res van die vasteland.”
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |