|
|||||||||||
|
| VIND: |
Nuus
Twee McGregor-verdagtes staatsgetuies
21/08/2008 08:06:47 AM - (SA)
TULBAGH. – Twee van die drie verdagtes wat met die moord op mnr. Robin McGregor (79), bekende sakeman en skrywer, verbind word, het staatsgetuies geword.
Die enigste verdagte wat tans nog ná dié voorval op Tulbagh aangehou word, is mnr. Cecil Thomas (31) van Saron.
Voordat die hofverrigtinge gister begin het, het die aanklaer, mnr. Lex van Heerden, laat blyk dat mnr. Llewellyn Tobias (28) van Bellville ook ’n staatsgetuie gaan word. Die ander staatsgetuie se naam is nie bekend nie omdat hy nooit in die hof verskyn het nie.
Tobias, in ’n wit-en-blou sweetpakbaadjie en blou denimbroek, het die hof met krukke binnegekom. Landdros Pieter Klaazen wou by hom weet of die krukke enigsins iets met die polisie te doen het. Tobias het ontkennend geantwoord.
“Ons wil nie hê jy moet vandag voor getuies sê dit het niks met die polisie te doen gehad en dan stel jy môre ’n eis teen hulle in nie,” het die landdros gesê.
Kort daarna het hy die saak teen Tobias teruggetrek.
Thomas het die hof in handboeie en geklee in ’n blou sweetpak binnegekom, waarop die ondersoekbeampte sy boeie vir die duur van sy verskyning verwyder het.
Sy prokureur, mnr. Elton Shortles, het gesê hy wil dit op rekord stel dat sy kliënt vroeër deur Bellville-polisiebeamptes aangerand is. Shortles het gesê dat hy gereed is vir ’n borgtog-aansoek, maar dat die staat genoem het hy is nie.
Van Heerden het dit bevestig en uitstel gevra vir verdere ondersoek. Die saak is tot 6 Oktober uitgestel.
Voordat die hofverrigtinge gisteroggend begin het, was die openbare galery reeds stampvol nuuskieriges.
Geoordeel aan die krete ná die verdaging, het verskeie mense Thomas kom ondersteun.
“Dit is so f—n onregverdig, hy is dan onskuldig. Hy kan nie so lank aangehou word nie,” het een man luidkeels gesê terwyl hy om die gebou gestap het om ’n blik op Thomas te kry voordat hy gevangenis toe geneem word.
Die drie verdagtes is die oggend van 12 Augustus in Neethlingstraat, Bellville, deur die polisie in McGregor se voertuig aangekeer.
Die Tulbagh-polisie is in kennis gestel en McGregor se lyk is kort daarna in sy badkamer met verskeie mes-steekwonde gevind.
McGregor was onder meer verantwoordelik vir gesaghebbende sakepublikasies soos Who Owns Whom, Privatisation in SA en Who Made South Africa.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |