|
|||||||||||
|
| VIND: |
Nuus
Twee in hof ná moord in Tulbagh
14/08/2008 09:20:40 PM - (SA)
Twee van die drie verdagtes wat Dinsdagoggend deur die polisie vasgetrek is nadat hulle na bewering ’n bekende uitgewer-skrywer van Tulbagh doodgesteek het en toe met sy Mercedes-Benz weggery het, het gister in die Tulbagh-landdroshof verskyn.
Die derde een, het Die Burger vertroulik verneem, is nou ’n staatsgetuie.
Mnr. Robin McGregor (79), wat vroeër vanjaar van Rustenburg na Tulbagh verhuis het, is Dinsdagoggend deur die Tulbagh-polisie met steekwonde in sy badkamer gevind. Hy was ’n bekende sakeman en was verantwoordelik vir onder meer gesaghebbende sakepublikasies soos Who Owns Whom en Privatisation in SA.
Mnre. Cecil Thomas (31) van Saron en Llewellyn Tobias (28) van Bellville het gister vlugtig op aanklagte van moord, diefstal en die besit van ’n gesteelde voertuig voor landdros Pieter Klaazen verskyn. Hulle is Dinsdag omstreeks 02:00 deur die Bellville-Suid-polisie in Neethlingstraat in McGregor se voertuig afgetrek.
Thomas, geklee in ’n grys trui en donkerblou sweetpakbroek, het gesê hy gaan sy eie prokureur aanstel. Tobias, in ’n groen-bruin-en-geel trui en rooi-en-wit sweetpakbroek, het regshulp gevra.
Die saak is tot Woensdag vir ’n formele borgtogaansoek uitgestel.
Verskeie belangstellendes was gister in die hof, onder wie McGregor se bure en ’n kontrakteur wat sy huis reggemaak het.
) ’n Gedenkdiens word Sondag om 15:00 in die Sentrum vir die Boek in Koningin Victoriastraat, Kaapstad, gehou.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |