|
|||||||||||
|
![]() Kosovo, naby Philippi, was een van die informele nedersettings wat die naweek die ergste deur die vloede getref is. Inwoners moes gister water uit hul wonings skep. Foto: NEIL BAYNES
Nuus
Reën dompel duisende in Kaap in nood
06/07/2008 11:09:19 PM - (SA)
Hulporganisasies moes die naweek duisende mense in informele nedersettings hier te hulp snel nadat swaar reën uitgesak en die gebied oorstroom is.
Die nieregeringsorganisasie Historically Disadvantaged Individuals Support (HDI) het nagenoeg 9 000 vloedslagoffers gehelp.
Die Mustadafin-stigting het bystand gebied aan sowat 4 150 mense van onder meer Freedom Farm, in Belhar, Kosovo, in Philippi, en Boystown, naby Kruispad.
Volgens mnr. André Olivier, van HDI, het die groep komberse en kos verskaf.
“Die getalle vloedslagoffers gaan meer word, want Boystown is onder water,” het me. Shameema de Jongh, van Mustadafin, gesê. Plakkersbuurte in Guguletu en Ruyterwacht word ook deur oorstroming bedreig.
Me. Lulama Mangolothi (34), van die informele nedersetting Kosovo, het gesê inwoners hoop die sand hoog op rondom die informele wonings om die water weg te keer, maar dan raak die sand pap en stroom die water van onder af deur.
Kosovo was een van die informele nedersettings wat die ergste deur die vloedwater geteister word.
Mnr. Human Nghxeke (35), ook van Kosovo, se vriend mnr. Ali Mohammed het gister water uit hul hut geskep.
“Dit is ongunstige omstandighede, maar ons kan nie anders as om hier te bly nie,” het Nghxeke gesê.
Hy het soos talle ander mense sy kind na ’n familielid gestuur weens die oorstromings in die gebied.
Me. Fundeka Siguca het gesê sy is ontsteld oor die omstandighede waarin sy en haar broer Lindile moet woon, veral omdat hy tuberkulose onder lede het.
Volgens me. Theresa Bottoman, raadslid van Khayelitsha Site C (Wyk 87), het sowat 50 gesinne Saterdagaand by die Chris Hani-gemeenskapsaal in die gebied oornag. Die mense het gister na hul wonings teruggekeer omdat hulle oor hul besittings bekommerd was.
Kapt. Gerhard Niemand, woordvoerder van die Kraaifonteinse polisie, het gesê die voetpaadjies in die buurt Mooitrap in Wallacedene was hoogliggender as die huise se vloere.
Die organisasie Lions Internasionaal het finansiële hulp aan dié nedersetting gebied en teerpaaie is verlede jaar daar aangelê. “Daar is nie meer ruwe terrein nie en die gebied word nie meer erg deur vloedwater bedreig nie.”
Klein plakkersbuurte in Kraaifontein word egter steeds deur die water geraak.
Die Vroue-netwerk, wat uit ’n groep Kraaifonteinse polisielede bestaan, samel daagliks klere vir vloed -en brandslagoffers in.
. Vir skenkings skakel 0 021 980 5500.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |