|
|||||||||||
|
Nuus
Amazon systap Poskantoor
19/06/2008 08:29:52 AM - (SA)
PRETORIA. – Die Suid-Afrikaanse Poskantoor sê hy was verbaas oor die internethandelaar Amazon se besluit om voortaan posstukke slegs per koerier na Suid-Afrika te stuur.
Luidens regulasies wat op Amazon se webblad gepubliseer is, is Suid-Afrika die enigste Afrikaland waar hulle nie per gewone pos of spoedpos aflewer nie. Nigerië is die enigste ander land met ’n beperking deurdat Amazon weier om aankope per gewone pos te versend.
Suid-Afrikaners moet voortaan sowat R265 meer uithaal om daardie spesiale CD of boek tot hier te kry. Een item se posgeld beloop nou R321,90.
Luidens berigte het Amazon dié stap gedoen omdat die Suid-Afrikaanse Poskantoor te veel van hul posstukke verloor.
Dít volg skaars twee weke nadat die Poskantoor tydens Topco Media se jaarlikse nasionale saketoekennings aangewys is as die beste onderneming in Suid-Afrika.
Mnr. Lungile Lose, woordvoerder vir die Poskantoor, het luidens ’n persverklaring gesê Amazon se besluit is “onverwags en betreurenswaardig, aangesien nie hulle óf die Suid-Afrikaanse Poskantoor se buitelandse posdiens-vennote ons gekontak het in verband met die probleme wat hulle met ons diens ervaar nie”.
Luidens die verklaring probeer die Poskantoor nou kontak maak met Amazon om agter die kap van die byl te kom.
Lose het gister in ’n onderhoud op Talk Radio 702 gesê die Poskantoor lewer sowat 6,5 miljoen posstukke per dag af, maar hulle weet van net 1 699 “voorvalle” in die boekjaar 2007/’08 waarin posstukke verlore geraak het of gesteel is.
In ’n meningsopname wat die nuuswebblad News24 gister gedoen het, het 2 181 lesers teen 17:00 gesê die Poskantoor het al van hul posstukke verloor.
Mnr. Neil Smith, bemarkingsbestuurder van die plaaslike internet-handelaar Take2.co.za, het by navraag gesê hulle maak net gebruik van die Poskantoor se spoedpos en het sedert die webblad ses jaar terug begin is, nog net “ ’n handjievol posstukke verloor”.
Take2.co.za versend net pakkies met ’n waarde van minder as R1 000 deur die Poskantoor en gebruik koeriers, wat versekering verskaf, vir enige duurder posstukke.
Amazon het teen druktyd nog nie op Die Burgerse navrae gereageer nie.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |