|
|||||||||||
|
| VIND: |
Nuus
Doodskoot vir Springbok sal nie transformasie bevorder, sê Nkanunu
12/11/2008 11:13:17 PM - (SA)
Kaapstad. - Die Springbok-embleem is óók deur swart en bruin spelers gebruik voor eenwording in Suid-Afrikaanse rugby en dit is ’n miskenning van die geskiedenis om dit aan slegs ’n wit identiteit te koppel.
Dít was gister die boodskap van mnr. Silas Nkanunu, voormalige president van die Suid-Afrikaanse Rugbyvoetbalunie.
Hy het gister in ’n onderhoud met Die Burger sy kommer uitgespreek dat die belangrike kwessies waardeur Suid-Afrikaanse rugby in die gesig gestaar word oor die hoof gesien word weens die debat oor die embleem.
“Jy gaan nie die transformasie-agenda bevorder deur die Springbok dood te skiet nie,” het hy gesê.
“Die verwydering van die Bok gaan ook nie die feit verander dat daar nie genoeg hulpbronne in die ontwikkeling van rugby ingeploeg is nie.
“Rugby word in baie swart skole nie meer gespeel nie. Jy kan transformasie deur middel van ondersteuning aan skole en klubs bevorder,” het hy bygevoeg.
Hy meen geskiedkundige faktore moet in ag geneem word wanneer dit by die Bok-embleem kom.
“Die Nasionale Sportkongres het ná eenwording ’n vergadering in Vanderbijlpark gehou waar ’n resolusie geneem is dat rugby die Bok-embleem kan gebruik,” het Nkanunu gesê.
“Daar is geen rassistiese draad in dié ding nie. Ek wonder of mense die geskiedkundige kwessies in ag neem as hulle daaroor praat.” Nkanunu het daarop gewys dat die Springbok óók voor eenwording in rugby deur die nie-rassige Saru gebruik is.
“Die nie-rassige Saru se embleem was ’n protea met twee Springbokkoppe aan die kant.
“Daar is voor eenwording deur die Suid-Afrikaanse Sportkongres op ’n vergadering in Port Elizabeth besluit die Bok sal nie die nasionale embleem wees nie.
“Die simbool (met die kombinasie van die Bok en protea) ná eenwording was ’n tydelike maatreël.
“Daar is egter by die Vanderbijlpark-vergadering in die gees van versoening besluit rugby kan die Bok-embleem gebruik.”
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |