|
|||||||||||
|
![]() Jacob Zuma
Nuus
Zuma weerspreek Mbeki
18/04/2008 09:59:08 PM - (SA)
JOHANNESBURG. – Mnr. Jacob Zuma, ANC-leier, het gister in teenstelling met pres. Thabo Mbeki die vertraging in die bekendmaking van die verkiesingsuitslae in Zimbabwe as ’n krisis bestempel.
Verder was sy antwoord op die vraag of hy as bemiddelaar sal optree: “Nee, omdat ’n ANC-kader (Mbeki) reeds deur die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) gekies is.”
Zuma het gepraat op ’n gesamentlike mediakonferensie met die Noorse premier, mnr. Jens Stoltenberg. Die twee leiers het gisteroggend by die ANC-hoofkwartier in Johannesburg, Luthuli-huis, ontmoet om onderwerpe soos Zimbabwe en klimaatsverandering te bespreek.
Met betrekking tot Mbeki se stelling verlede naweek dat daar “geen krisis” in Zimbabwe is nie, het ’n diplomatiese Zuma gesê hy verkies om nie kommentaar daarop te lewer nie. Hy glo Mbeki het die kwessie reeds opgeklaar.
Mbeki het eergister gesê hy het die stelling, wat hom swaar kritiek op die hals gehaal het, in reaksie op ’n vraag oor die verkiesing in Zimbabwe gemaak. Hy het nie verwys na die sosiaal-ekonomiese probleme van die land nie.
Zuma het gister gesê die verkiesing self het baie glad verloop veral in vergelyking met vorige verkiesings. “Dat die uitslae nog nie bekend gemaak is nie – dít is ’n krisis.” Zuma meen verder die geweld wat as gevolg van die vertraging plaasvind, is ’n “verdere krisis”.
Stoltenberg kon nie so ver gebring word om die situasie in Zimbabwe ’n krisis te noem nie. Volgens hom is die situasie in Zimbabwe “baie ernstig en rede tot kommer”. Stoltenberg het gister met die MDC-leier mnr. Morgan Tsvangirai vergader om gebeure in sy land te bespreek.
Intussen is Zuma se hofsaak in Mauritius tot 7 Mei uitgestel (lees berig elders). Hy het gister gesê hofverrigtinge in die korrupsie-saak sal nie keer dat hy aan die ANC-veldtog vir volgende jaar se algemene verkiesing deelneem nie. “Ingevolge die Grondwet is iemand onskuldig totdat hy skuldig bevind word. Ek sien nie dat die hofsaak my enigsins sal keer om deel te neem aan die verkiesingsveldtog van die ANC nie.”
. Zuma lei aanstaande week ’n ANC-afvaardiging op besoek aan die hoofstede in Duitsland, Engeland en Frankryk. Die afvaardiging, wat mnr. Kgalema Motlanthe, onderleier, dr. Mathews Phosa, tesourier-generaal, en ander lede van die nasionale uitvoerende komitee insluit, sal gesprekke voer met onder meer politieke partye, nieregeringorganisasies en sakelui in dié lande.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |