|
|||||||||||
|
![]() ’n Emosionele me. Dannelene Noach, ’n verpleegster wat meer as twee maande in ’n tronk in Saoedi-Arabië aangehou is, is gister deur vriende en familielede op die Kaapstadse Internasionale Lughawe verwelkom. Sy hou haar kleindogter, Nicola Noach-Pienaar, vas en in die agtergrond is haar man, mnr. Wilfred Noach. Foto: YUNUS MOHAMED
Nuus
‘Ek is gebreek,’ sê Noach oor nagmerrie
10/03/2008 09:34:39 PM - (SA)
KAAPSTAD. – “Dit was ’n nagmerrie, meer as ’n nagmerrie.”
Dít was gister die woorde van ’n emosionele mev. Dannelene Noach (53), die Suid-Afrikaanse verpleegster wat vir meer as twee maande lank in ’n tronk in Saoedi-Arabië in aanhouding was.
Noach is gistermiddag deur familielede en vriende op die Kaapstadse Internasionale Lughawe verwelkom.
Vergesel deur haar prokureur, mnr. Clive Hendricks, het sy wuiwend by die deure in die aankomssaal ingestap.
Sy het in trane uitgebars toe sy haar man, dogter, vriende en familielede gesien het.
“Ek is gebreek. Ek het nie woorde om alles te beskryf nie. Ek is net dankbaar vir almal wat my in hul gebede opgedra het,” het ’n betraande Noach gesê.
Die Burger het vroeër berig Noach het in November verlede jaar spoorloos verdwyn nadat sy ongerymdhede by die Koning Abdoel Aziz Mediese Stad-hospitaal in Riaad, waar sy gewerk het, op televisie onthul het.
Noach het weke lank geen kontak met haar familie gehad nie. Sy het hulle later gekontak uit ’n tronk waar sy aangehou is.
Sy is twee weke gelede vrygelaat sonder dat enige klag teen haar aanhangig gemaak is.
Mnr. Wilfred Noach, haar man, het gesê hy het dit nie geglo toe hy hoor sy vrou kom terug nie. “Sy is hier, nou glo ek dit. Ek gaan nou my vrou huis toe neem en chill. Ek weet almal gaan haar nou wil sien en kom groet, maar ek is net baie bly sy is veilig.”
Mnr. Noach het gesê sy vrou lyk goed, maar hy weet die trauma wat sy deurgemaak het, het ’n knou agtergelaat. “Sy lyk goed. Selfs beter as toe ek haar laas gesien het, maar dit gaan lank vat voor sy herstel.”
Me. Sheila Boyd, mev. Noach se oudste suster, het in trane gesê sy is baie verlig dat haar suster terug is.
“Ons was almal rasend van bekommernis. Om haar nou by ons te hê, beteken baie.”
“Ek is baie, baie bly my ma is terug,” het me. Lee-Ann Noach-Pienaar, Noach se dogter, gister gesê.
Noach-Pienaar het vroeër in ’n onderhoud aan Die Burger gesê: “As dit van my afhang, gaan my ma nooit weer terug na daardie plek (Saoedi-Arabië) nie.”
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |