|
|||||||||||
|
![]() Carlos Tevez en spanmaats by Manchester United sokkerklub het Vrydagoggend in Kaapstad aangeland vir ’n Nuweland kragmeting teen Kaizer Chiefs.
Video
Man U arriveer, Santana verspeel kans om Bafana-aspirante dop te hou
Kaapstad. - VIDEO: Die Bafana Bafana-afrigter, Joel Santana, gaan in sy afwesigheid skitter wanneer die Europese Kampioeneliga-wenner, Manchester United, twee van Suid-Afrika se beste sokkerspanne pak. Intussen het die manne van Manchester Vrydagoggend op Kaapstad internasionale lughawe aangekom.
Die Brasiliaanse afrigter is terug in Brasilië, minder as twee maande nadat hy die leisels by sy landgenoot Carlos Alberto Parreira oorgeneem het. Sy hulpafrigter Jairo Leal is ook in Brasilië.
Santana het nog nie juis baie van die plaaslike talent in aksie gesien nie. Met die nasionale sokkerspan se vriendskaplike wedstryd teen Australië op 20 Augustus en die belangrike kwalifiserende Afrikabeker- wedstryd teen Nigerië op 6 September sou dit voordelig vir Santana gewees het om na Orlando Pirates en Kaizer Chiefs se spelers te kyk.
Behalwe vir een wedstryd, teen ’n gelapte span van Ekwatoriaal- Guinee, was Bafana Bafana baie swak in sy ander kwalifiserende wedstryde. Hoewel dit onregverdig sal wees om Santana vir dié vertonings te kritiseer, het hy sedertdien niks gedoen om die stand van sake te verbeter nie.
Die Vodacom-uitdaagtoernooi sou die afrigter ’n kans gegee het om te sien wie saam met die groot honde kan hardloop. Hoewel dit ’n voorseisoense toernooi is, kom die spelers van gehalte normaalweg teen top-teenstanders na vore en blink uit wanneer dit nodig is.
Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) se kommunikasiehoof, Morio Sanyane, het gister aan Die Burger gesê die afrigter is besig om sy lewe in Brasilië in orde te kry omdat hy nie eens tyd gehad het “om sy sakke te pak nie”.
Santana is besig om, soos sy voorganger, net betrokke te wees as daar ’n vriendskaplike wedstryd gespeel word. Parreira het nooit gereis om plaaslike afrigters raad te gee en oplossings vir die swak afronding te soek nie.
Intussen het United sy groep vir dié toernooi bekend gestel.
Soos beloof, het die legendariese afrigter Alex Ferguson sy sterkste beskikbare span gebring. Net die spelers wat in die Euro2008-toernooi gespeel het, is nie beskikbaar nie.
United sal sy eerste oefening vandag om 15:30 op Nuweland hê voor môre se wedstryd teen Kaizer Chiefs op dieselfde veld.
United se toergroep is: Tomasz Kuszczak, Ben Foster, Nemanja Vidic, Rio Ferdinand, John O’Shea, Ryan Giggs, Michael Carrick, Wesley Brown, Paul Scholes, Owen Hargreaves, Carlos Tevez, Wayne Rooney, Mikael Silvestre, Gary Neville, Darren Fletcher, Daniel Simpson, Lee Martin, Fraizer Campbell, Darron Gibson, Jonathan Evans, Ben Amos, Christopher Eagles, Michael Clegg, Andrew Caveney, Gary Walker.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |