|
|||||||||||
|
| VIND: |
)
By
Oral geromantiseer, nêrens welkom
03/07/2009 06:02:32 PM - (SA)
Sigeuners (Gypsies) se musiek en kultuur en hul nomadiese bestaan word oral geromantiseer, en tog is hulle nêrens welkom nie. Wat is dit aan die Romani (soos hulle verkies om genoem te word) wat maak dat hulle gehaat word in omtrent elke land waar hulle hulself bevind?
Dié vraag word nou weer gevra nadat meer as honderd Romani vandeesmaand uit hul blyplekke in Belfast, Ierland, moes vlug ná aanhoudende rassistiese aanvalle. Jeugbendes wat neo-Nazi-slagkrete geskreeu het, het hulle geterroriseer en onder meer bakstene deur hul vensters gegooi. Amnestie Internasionaal het verlede week gewaarsku dat aanvalle op Romani oral in Europa aan die toeneem is.
Vir die Romani is dit natuurlik niks nuuts nie. Die Romani is al van die 14de eeu in Europa onderdruk en selfs op groot skaal uitgemoor. In lande soos Spanje en Noorweë was daar onmenslike programme in die agtiende en neëntiende eeue om die Romani se identiteit te verwoes en hulle met die res van die bevolking te assimileer.
In Nazi-Duitsland is hulle saam met die Jode vervolg. Ramings van die aantal Romani-slagoffers wissel tussen ’n halfmiljoen en anderhalfmiljoen.
Ek het al baie daaraan gedink dat die manier waarop mense op die Romani neersien, nogal ooreenstem met die siening wat die eerste Europese setlaars in Suid-Afrika van die Khoi-Khoin gehad het. Dié vermoede is deels bevestig deur van die Romani-leiers met wie ek ’n paar maande gelede in Serwië gesels het.
JJJ
Maar miskien eers ’n bietjie meer oor dié besonderse mense en hul herkoms.
Daar is aanvanklik gemeen die Romani kom uit Egipte, vandaar die naam Gypsy. Tot onlangs was die herkoms van die mense redelik duister, en selfs vandag nog weet baie Romani nie mooi waar hulle vandaan kom nie. Die jongste navorsing wat van linguistiek en DNS gebruik gemaak het, dui daarop dat hulle voorsate oorspronklik in Sentraal-Indië gewoon het en dat die eerste migrasies in die elfde eeu begin het. Daar word wyd aanvaar die Moslem-invalle in Indië was die rede vir hul emigrasie.
Die emigrante het gou oor Asië en Europa versprei. Vandag is daar nog beduidende groepe Romani in Spanje, Roemenië, Hongarye, Bulgarye, Slowakye, Griekeland en die state van die voormalige Joego-Slawië, veral Serwië en Masedonië. Maar daar is ook Romani in Noord- en Suid-Amerika, die lande van die ou Sowjetunie, Frankryk, China, Italië en elders.
Sommige bronne glo daar is maar sowat 5 miljoen Romani oor, maar die Romani se eie organisasies glo dis nader aan 15 miljoen. In al die lande tel die Romani onder die armstes van die armes en is die onderwysvlakke gewoonlik heelwat laer as in die res van die bevolking.
In sommige streke word ook na hulle as die Roma, Roms of Rroms verwys. Die meeste van hulle praat ’n dialek van ’n Indo-Ariese taal (genaamd Romani of Rromani), maar hulle praat gewoonlik ook die taal van die streek waarin hulle woon. Die taal Romani bestaan eintlik net as ’n gesproke taal, hoewel daar deesdae pogings aangewend word om dit ook as geskrewe taal te populariseer.
Die Romani behoort meestal aan die gelowe van die lande waarin hulle woon, insluitende Islam. Die Evangeliese Romani-kerk is egter besig om sterk in Romani-gemeenskappe in veral Frankryk, Spanje, Duitsland, Amerika, Argentinië en Mexiko te groei.
JJJ
Die ongewone ding van die Romani is dat hulle oor al die eeue en ten spyte daarvan dat hulle oor die hele aardbol versprei is, so vasklou aan hul identiteit en kultuur.
Hoewel daar deesdae nogal heelwat kultuurverskille tussen groepe is, het almal ’n houding dat kontak met buitestaanders hul tradisies en etniese integriteit sal aantas. Oor die eeue het merkwaardig min Romani met nie-Romani getrou, en vandag nog word enige Romani wat ’n verhouding met iemand buite die groep het, onder streng sensuur geplaas.
In teenstelling met die reputasie wat Romani oraloor het, het hulle uiters konserwatiewe morele kodes, veral wat seks betref. In die meeste groepe word huwelike nog deur die ouers gereël, veral om alliansies tussen die verskillende clans of families te verstewig, en meisies trou dikwels al op die ouderdom van 12 of 13. Hulle het ’n bruidsprys-kultuur soortgelyk aan die Afrika-gebruik van lobola.
Dit is veral vanweë hul tradisionele nomadiese bestaan waarvoor die Romani bekend is, maar deesdae woon die meeste groepe permanent in een plek – dikwels is dit in plakkerskampe of tentedorpe. Veral in Oos-Europa beoefen hulle steeds die ou beroepe van fortuinvertellery, metaalwerk, leerlooiery en die maak van mandjies.
Tydens ’n onlangse besoek aan die Balkanstate het ek agtergekom dat die meeste bedelaars wat ’n mens teëkom, lyk of hulle Romani kan wees. Uiteindelik het ek met ’n paar Romani-leiers in Serwië kon gesels, en hulle het bevestig dat omtrent al die bedelaars in die streek uit hul geledere kom. Hulle sê die Romani is ’n permanente onderklas in die Serwiese gemeenskap en byna niks word gedoen om hul kinders in skole te kry nie. Die Romani-taal word nie in Serwië erken nie.
Ek het vir hulle gevra hoekom hulle glo die Romani deur die eeue meer as enige ander enkele groep, selfs die Jode, vervolg is en word. Hulle glo in Europa tel hul donker velle teen hulle, maar eintlik lê die verklaring daarin dat mense agterdogtig word as ’n groep eksklusief wil bly en sy eie identiteit wil beskerm.
Van die mense met wie ek gesels het, glo die nie-Romani verstaan hulle nie en is daarom bang vir hulle. Deur die eeue kon mense nie verstaan waarom ’n groep so teensinnig was om hulself op een plek te vestig nie. Oor die tyd het heelparty mites oor die Romani ontstaan wat op etniese stereotipering uitgeloop het – soos dat hulle vuil, lui en skelm is.
Dit is net daar waar die Khoi-Khoin-klokkie by my gelui het. Hulle was ook ’n trotse groep mense wat ’n hoë waarde op hul taal en kultuur geplaas het. Hulle was ook nomadies en het ook vermenging met ander groepe ontmoedig. Die eerste Europeërs wat met hulle in aanraking gekom het, het hul taal vol klikgeluide en hul musiek en danse uiters vreemd gevind en was vir hulle bang, daarom het hulle ’n vernederende term (Hottentot) vir hulle uitgedink en hulle soos halfmense behandel.
Net soos die Romani kan spog dat hul musiek sterk invloede op groot komponiste soos Béla Bartók, Franz Liszt en Georges Enesco gehad het en dat Spaanse dans eintlik by Romani-dans begin het, so sou die Khoi-Khoin ook kon spog dat hul spiritualiteit, kultuur en tradisies ’n sterk spoor gelaat het op die mense wat na hulle gekom het.
Dit gaan nie oral goed met die Romani nie, maar ten minste bestaan hulle nog. Dis jammer ons kan dit nie ook van die Khoi-Khoin sê nie.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |