|
|||||||||||
|
| VIND: |
By
Kwakoskoop: Noodsein vir onsinverklikkers
03/07/2009 06:01:57 PM - (SA)
Hoop. En vals hoop. Hoe onderskei ’n mens tussen die twee wanneer dit jou gesondheid raak?
Die afgelope maand of twee kry ek drie pamflette wat in Kaapstad, Stellenbosch en Somerset-Wes se strate aan die niksvermoedende en fopbare publiek uitgedeel word en wat elke moontlike gesondheidsprobleem glo kan oplos.
Al drie gee voor dat een of ander hooggeleerde doktor of professor jou kwale sal genees.
My kollega Willemien Brümmer, nie iemand wat haar maklik deur vreemde aansprake sal laat flous nie, gee my die pamflet van prof. A. Ben Kitwii van Namaqua-huis in Kaapstad wat vir ’n konsultasie van R50 diabetes, asma, velprobleme, hoë en lae bloeddruk, epilepsie en geestesversteurdheid kan genees (die bedrag is seker sonder die “medisyne” wat hy ook voorskryf). Boonop kan hy dan ook nog penisse vergroot, vaginas verklein, verlore liefdes herwin, slegte geluk verwyder en goeie geluk bring, jou ’n lekker werk laat losslaan, familieprobleme oplos en jou huis skoonmaak van “slegte” spoke (is daar dan goeies buiten Casper die vriendelike een?) en die tokkelossie.
Die Tower-professor belowe ook dat as jy jagoti van hom kry, jou vriend(in) beslis daardie ring aan jou vinger sal sit.
Toe stuur prof. Sophiè Reinecke, Stellenbosse kenner van biologiese merkers, my die brosjure van die Stellenbosch Herbal Clinic waar ene dr. Maazi beloftes maak wat wissel van astrologiese voorspellings tot gesondheidsoplossings tot hoe om die eksamen te slaag. Hy/sy kan jou al jou probleme meedeel voordat jy jou mond oopmaak, belowe hy/sy plegtig met drie uitroeptekens. Ook toeslaan op jou vyande deur hulle te toor. Of met jou afgestorwe geliefdes kommunikeer.
En in Somerset-Wes is daar prof. B. Rashid en dr. Hadija wat ook elke skeet kan genees en sommer ook MIV/vigs. Hul pamflet word in elke posbus in die dorp gesit in die hoop dat daar genoeg mense sal wees wat hul onsinverklikkers afgeskakel of reeds lankal verloor het.
JJJ
Ek sien al hoe sogenaamde geleerde mense hul koppe meewarig skud en lag omdat die liggelowiges hulle darem so maklik kan laat vang. Nie ons nie, dink hulle leedvermakerig. Maar dan vertoon M-Net ’n vyf minute lange promosieadvertensie van Homemark, duidelik gerig op hoër LSM-groepe. Tot vervelens toe herhaal die adverteerder die ou aansprake hoe hul detoksifiseringsvoetbad, die Pure Magic Spa, die gifstowwe uit jou liggaam vir net R1499,95 sal verwyder.
Die advertensie wemel van hoogs twyfelagtige “wetenskaplike” aansprake en getuienis van mense wat die produk ten hemele prys, alles om die oningeligte en verneukbare, selfs desperate kyker te vang. Soos gewoonlik beroep dié soort pseudowetenskaplike adverteerders hulle op “onafhanklike kliniese studies” wat die produk se doeltreffendheid “bewys”. Nooit en nêrens word melding gemaak watter kliniese studies dié bevindings gemaak en in watter portuurgeëvalueerde publikasie dit verskyn het nie. As jy die bemarkers daaroor uitvra, kry jy net vae antwoorde en Bryan Habana-pypkanne.
Homemark verkondig dat jou voete meer as 100 000 sweetgaatjies het en dat hul voetspa jou voete suurstof gee (“oxygenate”) en daardeur die gifstowwe uit elke porie laat ontsnap en die voetbad se water bruin laat verkleur.
Toetse deur wetenskaplikes het bevind die water verkleur bruin omdat doodgewone elektrolise plaasvind. Die yster-elektrodes in die voetspa(-bad) roes en die bruin roes verkleur die water om jou voete. Omdat die apparaat verkoop word met allerhande neweprodukte soos gewone sout, lei die reaksie wat in die water plaasvind tot die afskeiding van chloorgas.
Mense wat vir dié reklametruuk val, het oor jare soveel slegte gewoontes opgebou (soos te veel rooiwyn, pille, rook, versotheid op ’n rusbank) dat hulle enigiets sal glo oor daardie “gifstowwe” wat uit hul liggaam ontsnap deur al daardie sweetholtes. Ruik hulle die chemikalieë wat deur die elektroliseproses afgeskei word, en sien hulle die bruin water, dan wéét hulle: die toksiese stowwe is verwyder en hul liggaam se balans is weer herstel. Want kyk, “Dit werk van binne af na buite toe!”
Wetenskaplike toetse het ook bevind die water bevat geen gifstowwe nie, net maar bruin roeswater. Lesers kan gerus Ben Goldacre, Britse mediese wetenskaplike en rubriekskrywer van The Guardian oor kwaksalwery, se humoristiese hoofstuk hieroor lees in sy hoogs vermaaklike boek Bad science.
Dit is insiggewend dat dié soort advertensies voortdurend terminologie gebruik soos “onafhanklike kliniese studies”, “bewese metodes”, “duisende tevrede verbruikers” of “antieke Chinese wetenskaplikes”. Die voetbadadverteerders is veral lief vir laasgenoemde en roem hulle daarop dat dié slim Chinese die ontdekkers was van daardie spesiale porieë waardeur die voete kan “asemhaal” en gifstowwe uitskei.
JJJ
Die Amerikaanse natuurkenner en -skrywer John Burroughs (1837-1921) het die mens se versotheid op die magiese en die hunkering na bonatuurlike verklarings vir doodgewone natuurwette en -verskynsels raak opgesom: “To treat your facts with imagination is one thing, to imagine your facts is another.”
Ons wíl tog so graag iets glo wat ’n kwak aan ons verkoop, of dit nou R50 of R1499,59 kos, solank dit ons kwaal – dikwels bloot ’n gewaande skeet – sal genees. Miskien is die rede hiervoor dat hoofstroom-medici daarvoor berug is dat hulle swak met hul pasiënte kommunikeer of te min moeite doen om die wese van die wetenskap en die onsekerheid rondom en oor ’n siekte te verduidelik.
Dit laat die deur oop vir kwakke wat juis die kuns ken om hul produkte en dienste aantreklik en aanloklik te smous, en dit oortuigend te laat klink soos wetenskap, al is dit so ver daarvan verwyder soos paddaboutjies van ’n Boerebraaivleis.
Sommige lesers neem my kwalik omdat ek in een van die vorige Kwakoskoop-rubrieke kruie en homeopatie in dieselfde asem genoem het. Dit is ’n wetenskaplike feit dat heelwat van die kruie wat vandag in ons tuine groei, gesond is en voordele inhou. Maar nie ál die kruievoordele waarop soveel kwakke roem (en dit sluit Antoinette Pienaar in die Karoo in) en wat toevallig in al drie die geagte “doktore/professore” se pamflette voorkom as die nuwe alfa en omega van gesondheid nie.
Om vandag ’n verstandige besluit te neem te midde van al die vreemde en dikwels absurde gesondheidsaansprake wat oordonderend en knaend in die media verkwansel word, vereis ingeligte en kundige navorsing wat elke leser met ’n bietjie oordeel en kennis self kan aanpak. Talle soorte kruie kan byvoorbeeld gevaar inhou indien dit saam met hoofstroom-medisyne gebruik word. Een voorbeeld: enige een van ginkgo biloba, ginseng, echinacea, Sint Janskruid en groot hompe knoffel kan toksies wees wanneer dit saam met trisikliese anti-depressante en triptan-medikasies wat vir migraine voorgeskryf word, gebruik word, het die Universiteit van Utah se mediese skool onlangs bevind.
In die 21ste eeu stel die bevindings van wetenskaplikes ons in staat om vinniger en deegliker die kaf van die koring te skei, maar ongelukkig verdryf die kaf wat in soveel pseudowetenskaplike aansprake voorkom, dikwels die koringkorrels wat staan tussen siekte en genesing. Die integriteit van wetenskap is geanker in die gewilligheid van wetenskaplikes om hul idees te toets en te laat toets, soos Robert Park dit stel in sy boek Voodoo science – the road from foolishness to fraud. Die wyse waarop kruiedokters en die voetspa-broederskap lang draaie loop om daardie toetse te vermy, vertel die verhaal van misleiding en dikwels doodgewone bedrog.
Intussen staan Jan en Sannie Publiek broos en weerloos teen die oortuigende oorredingsvermoë van kwaksalwers. Al verweer daarteen is om jou onsinverklikker aan te skakel, jou huiswerk te doen, en nie alles te glo wat in daardie bruin water te lees is nie.
George Claassen is ’n dosent in wetenskapjoernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch en president van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Wetenskapjoernaliste.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |