Webwerf Foto's
Argiewe Netads
WEER » Kaapstad 17º / 24º | Worcester 15º / 28º | George 16º / 25º | Port Elizabeth 19º / 24º Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com
TUIS NUUS SPORT VIDEO FOTO'S SAKE24 OPINIE BRIEWE BLOGS
VERMAAK BOEKE SPOTPRENT PEILINGS NETNAWEEK MOTORS STYL REIS BY
LANDBOU LESERSFOTO'S WÊRELDBEKER 2010 VIND: MOTORS POSTE EIENDOM
VERSEKERING
Spaar by OUTsurance.  Kliek hier vir huisinhoud-, besigheids- en motorversekering.
By
Darwin: Die koring en die kaf
27/02/2009 04:20:48 PM - (SA)

Die mites en verdraaiings oor Charles Darwin die mens en sy werk is een van die grootste struikelblokke in die pad tot ingeligtheid, en selfs vyandigheid, jeens die evolusieleer. ELSABÉ BRITS het met ’n internasionaal bekende wetenskaphistorikus gepraat oor feite wat sommige mense dalk diep mag ontstel.

Diep binne-in mense wil hulle dalk glo hulle is uniek. Hulle wil glo hulle het niks gemeen met diere nie. Indien die mens nie spesiaal en eenkant staan van die res van lewe op aarde nie, wat is ons doel hier?

Dit is vanjaar die herdenking van Charles Darwin se 200ste verjaardag en prof. Peter Bowler, verbonde aan die Queen’s-universiteit in Belfast, Ierland, gesels met my by die Universiteit van Kaapstad oor Darwin en evolusie – sy spesialisgebiede as wetenskap-historikus.

“Indien die evolusieleer reg verstaan word, beteken dit ons is nie die eindproduk op ’n leer nie, maar net ’n enkele produk op een van die takke van ’n boom. Die mens is nie die groot, finale produk nie,” sê hy.

Omdat evolusie stelselmatig en oor ’n lang tydperk aan die hand van natuurlike seleksie plaasvind, beteken dit indien daar ’n ander groot gebeurtenis was (soos een van die groot massa-uitwissings), of een van die takke het anders ontwikkel, was die mens nie vandag hier nie. Die waarskynlikheid dat ons weer sou ontwikkel indien die gebeure sou herspeel, is klein.

“Maar mense het iewers ’n diep gevoel, hulle wil glo ons is bestem om hier te wees. Hulle vind dit diep ontstellend om te hoor hier is nie ’n welwillendheidsrede vir enige spesie se bestaan nie – die mens ingesluit.

“Ons is hier, alles wat leef, danksy natuurlike prosesse,” sê hy.

JJJ

Die Africa Genome Education Institute het ’n lesingreeks by die Universiteit van Kaapstad gereël ter viering van Darwin 200. Bowler het as een van die sprekers opgetree saam met prof. Mario di Gregorio van die Universiteit L’Aquila in Italië, ’n kenner in wetenskapgeskiedenis wat Darwin die afgelope 30 jaar bestudeer, asook die plaaslike emeritus professor Brian Warner, ’n astrofisikus.

Een van die onderwerpe wat bespreek is, is al die mites wat rondom Darwin en sy teorieë bestaan. Darwin is dan ook een van die wetenskaplikes waaroor die meeste bekend is, omdat hy omtrent alles oor sy lewe neergeskryf het.

Di Gregorio bestudeer spesifiek marginalia – die duisende kantaantekeninge wat Darwin in sy eie notas, boeke, briewe en selfs biblioteekboeke van die Cambridge-universiteit gemaak het.

“Ons weet basies alles oor hom en kan dit dateer danksy die kleur van die papier waarop dit geskryf is,” sê Di Gregorio.

WREEDHEID

Een van die groot mites oor Darwin is dat hy eerste aan evolusie gedink het, want daar was ander wat daaraan gedink het.

Darwin was egter die eerste mens wat in The Origin of Species verduidelik het dat evolusie (oor ’n lang tydperk) geskied suiwer aan die hand van natuurlike prosesse, én hy het talle bewyse daarvoor gelewer.

Die manier hoe een spesie in ’n ander spesie verander, het hy met die woord transmutasie beskryf. Die diversiteit van lewe is afkomstig van ’n vertakkende patroon van lewe (nie liniêr nie) en gemeenskaplike voorsate.

Evolusie en wat dit leer is wreed. Die natuur is wreed, maar die mens is deel daarvan. Hy staan nie daarbo nie, nie langs dit nie, maar midde-in dit.

Organismes se stryd om in die natuur te oorleef, volgens Darwin, het daarmee te doen dat daar altyd meer reproduksie is as wat die omgewing kan dra en as wat kan oorleef. Dit is die individue van elke populasie wat die beste aangepas is wat oorleef om weer nasate te laat. Tog is daar nie ’n planmatigheid aan natuurlike seleksie nie en gebeur evolusie nie om ’n spesifieke doel te bereik nie.

“Dit is die afgemetenheid van natuurlike seleksie, hoe hard die lewe is, wat Darwin besef het,” sê Bowler.

>>

AI TOG APE!

Die grootste verdraaiing van Darwin se werk, tien jaar nadat Origins verskyn het, is afkomstig van die Descent of Man: “As ons van ape afstam, hoekom is hier dan nog ape?”

Die mens stam nié van ape (of bobbejane!) af nie – dit is die eerste gruwelike fout. Die mens se voorsate en die groot primate (sjimpansees, oerang-oetangs, bonobo’s en gorillas) se voorsate deel ’n gemeenskaplike voorsaat. Dit beteken nié dat evolusie liniêr is en van minder na meer kompleks loop nie – die sketse van die aap wat op sy kneukels loop tot die man wat regop loop, is verkeerd! Dit moet in die vorm van ’n boom met vertakkings wees.

Die gemeenskaplike voorsaat is soos die dik stam en die verskillende hominiede en groot primate is soos takke wat uit die stam vertak (en doodgeloop het, soos die Neanderdalmense). Die gemeenskaplike primitiewe voorsaat is die sleutelpunt.

Ons takke wat na die moderne mens lei, het geskei van die sjimpansees se voorsaat sowat 5 tot 7 miljoen jaar gelede. Dié van die voorsaatgorilla af 2 miljoen jaar tevore en so gaan dit terug.

Maar onthou, die voorsate van die gorillas en sjimpansees was nie die diere wat ons vandag hier sien nie, dit was, wel, juis hul voorsate. Ná die skeiding het die groot primate ontwikkel tot wat hulle vandag is, ook aan die hand van evolusie.

Daarom is daar vandag groot en ander primate.

DARWIN SE STERFBED

Een van die grootste onwaarhede oor Darwin is seker mites oor sy geloof en ’n mite dat hy homself op sy sterfbed “bekeer” het.

“ ’n Aantal van Darwin se familielede was teenwoordig toe hy gesterf het. En daar bestaan talle briewe oor die gebeure. Daar is geen bewyse dat hy bekeer is of enigsins na God toe geroep het nie. Dit is totaal onwaar,” sê Bowler vieserig.

Hy sê die mite se oorsprong is nagevors. Darwin was ’n leiersfiguur in die dorpie Downe, Kent, en toe ’n Amerikaanse evangelis (Lady Hope) die dorpie besoek het, het sy kort-kort by hom aangedoen. Sy het later die storie versprei dat hy hom in haar teenwoordigheid bekeer het.

Niks kan seker duideliker wees as die brief van sy eie seun Francis Darwin nie.

“Lady Hope’s account of my father’s views on religion is quite untrue. I have publicly accused her of falsehood, but have not seen any reply. My father’s agnostic point of view is given in my ‘Life and Letters of Charles Darwin,’ Vol. I., pp. 304-317. You are at liberty to publish the above statement. Indeed, I shall be glad if you will do so. Yours faithfully, Francis Darwin. Brookthorpe, Gloucester. May 28, 1918.”

’n Leser het aan Die Burger genoem dat “Darwin vir ses weke siek was en elke dag na God geroep het”.

Bowler, wat jare lank Darwin se oorspronklike werk en notas in Cambridge bestudeer het, het gesê: “Darwin sou nooit dié tipe taal gebruik het nie, al was hy siek. Hy het geen bekering ondergaan nie. Mense lees nie sy werk nie.”

SY GELOOF

“Darwin het beslis sy geloof as Christen laat vaar. Hy het ’n agnostikus geword, beslis teen die tyd dat sy dogter, Annie, op tien jaar dood is. Dit kon bygedra het daartoe, maar daar was verskeie redes daarvoor,” sê Bowler.

Di Gregorio sê Darwin het aanvanklik soos baie ander natuurkundiges gedink adaptasie is perfek, soos wat intelligente ontwerpers vandag dink. Teen 1850 het hy nie meer so gedink nie, omdat hy verwys na die vreeslike pyn in die natuur en besef het natuurlike seleksie is voortdurend.

Hy was egter nie ’n ateïs of dogmaties nie en sy doel was nooit om godsdiens aan te val nie. Hy het die term agnostikus, soos bepaal deur sy vriend Thomas Henry Huxley, aanvaar.

SY TAALGEBRUIK

Di Gregorio sê dit is ’n mite dat die woord “creation”in Darwin se werk verwys na ’n Bybelse skepping. “Dit was Darwin se manier van beskryf hoe spesies vorm of tot stand kom, niks meer nie en niks minder nie.”

Bowler sê “creation” beteken vir Darwin die verskyning van lewe op aarde. Bowler sê Darwin se omskrywende Victoriaanse Engels word verkeerd gelees en te veel word daarin gelees.

Darwin skryf aan die einde van sy groot boek: “There is grandeur in this view of life, with its several powers, having been originally breathed into a few forms or into one; and that, whilst this planet has gone cycling on according to the fixed law of gravity, from so simple a beginning endless forms most beautiful and most wonderful have been, and are being, evolved.”

Hy was later spyt oor die gebruik van die frase “breathed into”, omdat mense daarin vasgestaar het sonder dat die boodskap van evolusie deurkom, sê Bowler.

RASSISME EN HITLER

Darwin se evolusieleer word veral deur sekere groepe verdraai en in propaganda teen hom genoem as die sogenaamde oorsaak van Hitler en die Nazi’s se rassistiese beleid, asook ander nasionalistiese en outokratiese leiers wat hom glo sou aanhang. Hy word dus gerieflik geteer en geveer as die oorsaak van die Joodse menseslagting omdat Hitler glo sy verwronge eugeniese idees by Darwin sou gekry het.

“Dit is eintlik lagwekkend, want dit was die evangelistiese kreasioniste van die dag wat verantwoordelik was vir rassisme en ongelykheid en nie Darwin nie.

“In die 1800’s het mense gedink wit en swart is nie gelyk nie – Darwin se teorie het presies die teenoorgestelde gesê. In Amerika is dit die Christelike evangeliste en eugeniste wat aangedring het op die verpligte sterilisasie van gestremdes, nie Darwin nie.

“Ek kan nie vir een oomblik dink dat Hitler (of enige rassis) van Darwin sou gehou het nie, want Darwin het gesê ons almal kom aanvanklik van Afrika af (dus swart) en deel ’n gemeenskaplike voorsaat met die groot primate. Ek glo nie vir een oomblik Hitler sou daarvan gehou het nie! Die Nazi’s sou Darwin gehaat het. Om Darwin met Hitler se eugenetiese denke te vergelyk is ’n blatante poging om eersgenoemde te diskrediteer,” sê Bowler.

Boonop was Darwin se familie betrokke by die pogings om slawerny af te skaf. Hy het in sy wêreldreis opgemerk hoe slawe op skepe behandel is en hy het ook daaroor geskryf.

Hy het opgemerk hoe sleg die plaaslike bevolking in Suid-Afrika, insluitend die Khoi, behandel word, al was slawerny hier al afgeskaf.

STUDIE

Darwin het aanvanklik, soos sy pa, medies gestudeer, maar dit gestaak omdat die lyding vir hom te erg was. Hy het toe aan die Christ College in Cambridge gestudeer om ’n Anglikaanse prediker te word.

Darwin het nié gestudeer vir ’n graad in teologie nie. En hy was nooit ’n predikant nie, hoewel dit die plan was, maar hy het daarteen besluit.

Sy studies was vir ’n graad soortgelyk aan vandag se geesteswetenskappe (’n BA-graad). Hy het onder meer geologie, botanie en gewerwelde dierkunde bestudeer. Daarna het hy op die HMS Beagle vertrek as “gentleman’s companion” om die kaptein geselskap te hou, maar hy het vinnig begin om ’n joernaal te hou en om hom te verdiep in natuurkunde en geologie.

DIE FIKSSTE

Charles Darwin het nie die term “survival of the fittest” uitgedink nie. Hy het dit eers in die vyfde uitgawe (1869) van sy groot boek gebruik en geleen van Herbert Spencer.

Dit beteken nie die sterkste sal oorleef nie. Dit is ’n ander manier om natuurlike seleksie te beskryf, maar mense verstaan dit geheel en al verkeerd.

Dit word verkeerd gesien as leeu-eet-leeu, terwyl Darwin eintlik bedoel leeu-eet-bok in sommige situasies. Natuurlike seleksie is ook nie ’n bewustelike proses met ’n bepaalde uitkomsgerigte doel nie.

“Feite maak deel uit van ’n teorie. Gravitasie is ’n teorie en ons aanvaar dit, al weet ons nie presies wat gravitasie is nie.

“Evolusie is ’n geskiedkundige wetenskap, omdat die fragmente van feite, van ’n proses wat oor miljoene jare heen geskied, saamsit in een teorie.

“Jy kán nie net na die hede kyk nie. Elke individuele stap maak saam ’n prentjie, en mites ontstaan omdat mense nie na die groter prentjie kyk nie,” sê Bowler en sug.

J Ekstra bronne: Dr. Charles Urbanowicz, Darwin Folklore; Aarhus-universiteit, Denemarke; New Scientist 16 April 2008; www.darwin-online.org.uk

SPESIALE TENTOONSTELLING

 Die Instituut vir Menslike Evolusie en die Origins Centre aan die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg het ’n spesiale tentoonstelling ter viering van Darwin se 200ste verjaardag saam­ge­stel wat vir die grootste deel van die jaar by die Wieg van die Mensdom in ­Maropeng, naby die Sterkfonteingrotte buite Johannesburg, te sien is. Oor naweke sal koffie en verjaardagkoek daar in die Darwin Café te koop wees.

    
VIND
Mediese Fonds
Reis & Verblyf
Kom ons kliek
Motors
Kontantlenings
Beligting
Eiendomsbelegging
Wegbreeknaweek
Musiekinstrumente
Eiendomme te huur
Leerprodukte
Buitelewe
Werksgeleenthede
Gesondheidsprodukte
Eiendomme te koop
ONS BEVEEL AAN
netNaweek
Nie seker wat om die naweek te doen nie? Kry elke Vrydag netNaweek.com, propvol nuus oor die lekkerste wat die Kaap het om te bied en wen hope pryse. Die gratis e-pos sluit inligting oor flieks, teater, restaurante, uitstallings, wegbreek-naweke en sommer enige iets wat pret is om die naweek te doen in.

Gaan na netNaweek om te registreer.
Inskrywingsvorm vir 2009 se LENTE Vakansieskole
Alle graad 10-, graad 11- en graad 12-Jippers kan uitsien na vanjaar se lenteskool. Skryf nou in vir Die Burger se Lenteskool in Port Elizabeth.
Kliek hier vir inskrywingsvorm
90 dae
tot afskop
2010
Wêreldbeker 2010
VIND
Mediese Fonds
Reis & Verblyf
Kom ons kliek
Motors
Kontantlenings
Beligting
Eiendomsbelegging
Wegbreeknaweek
Musiekinstrumente
Eiendomme te huur
Leerprodukte
Buitelewe
Werksgeleenthede
Gesondheidsprodukte
Eiendomme te koop
NETADS24
Soek ‘n advertensie

Algemeen
Loopbane
Motors
Eiendomme

VIND OU SKOOLVRIENDE
Kies jou skool se provinsie:
En klik op die eerste letter van jou skool:
ABCDEFGHIJKLMN
OPQRSTUVWXYZ
ONS BEVEEL AAN
netNaweek
Nie seker wat om die naweek te doen nie? Kry elke Vrydag netNaweek.com, propvol nuus oor die lekkerste wat die Kaap het om te bied en wen hope pryse. Die gratis e-pos sluit inligting oor flieks, teater, restaurante, uitstallings, wegbreek-naweke en sommer enige iets wat pret is om die naweek te doen in.

Gaan na netNaweek om te registreer.

       
 Kontak ons | Navrae | Teken in op ons nuusbrief | Vrae oor registrasie | Adverteer | gebruikersooreenkoms |