Webwerf Foto's
Argiewe Netads
WEER » Kaapstad 13º / 24º | Worcester 8º / 25º | George 8º / 22º | Port Elizabeth 10º / 21º Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com
TUIS NUUS SPORT VIDEO FOTO'S SAKE24 OPINIE BRIEWE BLOGS
VERMAAK BOEKE SPOTPRENT PEILINGS NETNAWEEK MOTORS STYL REIS BY
LANDBOU LESERSFOTO'S WÊRELDBEKER 2010 VIND: MOTORS POSTE EIENDOM
VERSEKERING
Spaar by OUTsurance.  Kliek hier vir huisinhoud-, besigheids- en motorversekering.
By
In die ‘Agste Kleur’
05/12/2008 06:54:46 PM - (SA)

30 Nagte in Amsterdam is ’n hoogtepunt in Etienne van Heerden se oeuvre. WILLEMIEN BRÜMMER het met hom gepraat oor dié roman wat by sy ore ingeknetter gekom het:

“In Zoeloeland het ons altyd gesê dis so geil jy kan ’n besemstok plant, en as jy omdraai het hy blare.”

Etienne van Heerden lag rympies af. “Dis omtrent wat met 30 nagte in Amsterdam gebeur het. Ek het daai tuinhark van Asbesmiddag daar neergesit waarmee ek die akker van die akademie gehark het, en toe ek omdraai, was hy ’n rubberboom!”

Sy jongste meesterstuk was egter méér as ’n geil groeisel. Dit was ’n “Ratanga Junction rollercoaster”, wat hom vervoer het na “Die Agste Kleur”. En dit het hom nes een van die grand mal-aanvalle in sy boek gegryp en hom eers gelos toe “die Skuimbol” verby was.

Waar dié 54-jarige skrywer, akademikus en kuberkoning in sy “kantoor” in die Wijnhuis-restaurant in Stellenbosch sit, het hy nog die nagloed van die kreatiewe ekstase. Ten spyte van ’n sweempie post-natale hartseer, is hy steeds in die stroomversnelling van sy jongste storie. Laasgenoemde beslaan 441 bladsye, in skaars ’n jaar geskryf. Sy “vinnigste” roman nog.

Hy sit effe vorentoe langs die tafeltjie wat oor Andringastraat uitkyk, en sy siende linkeroog glinster. “Ná my anti-roman, Asbesmiddag, wou ek wys hoe kan ’n romanskrywer laat wáái. Ek wou so ’n bietjie vlerke aan die voete kry en vir die tegnieke van romanskryf stoom insit.”

Hy kry dit reg veral danksy die asemlose, seksverslaafde Tante Zan, volgens die skrywer André le Roux “een van die heerlikste karakters wat die Afrikaanse letterkunde soos ’n warrelwind ingewaai het”. Op die vooraand van ’n toeval verdwaal dié tante in haar woorde en haar sinne raak nóg kant nóg wal. Dit is dán wanneer “Die Kleur” oor als kom, soos sepia oor ’n foto.

Uiteindelik lei sy haar vaalseun-nefie, Henk Ekskuus, nie net na vrysinnige Amsterdam nie, maar na ’n nuwe besef van homself en die geskiedenis.

“Ek sê dikwels karakters stap by my in. Dan is dit gewoonlik ’n meer visuele indruk, ’n lyf wat inkom, en die beskrywing van die karakter groei daaruit,” vertel Etienne. “Maar Tante Zan het as taal, as sintaksis ingekom by my. Daai verwronge, omgekeerde woordorde, en in haar woorde die hele sediment van idiome en ou mites en mallighede.”

Hy lag. “Sy’s knettergek, nè. Sy’t so ingeknetter gekom by my ore en haar stem het my absoluut verslaaf.”

JJJ

Dié geknetter het letterlik begin toe hy in Junie verlede jaar in sy vriend Coen Stork se mooi huiskamer digby die Magere Brug in Amsterdam gestaan het en ’n soort sinestetiese ervaring gehad het.“Ek het gedink hel, ek wou nog altyd gewerk het met die spanning tussen Europa en Afrika, en skielik was daar hierdie twee figure: Henk en Tante Zan. Dit was interessant, want ek was besig met die bladsyproewe van Asbesmiddag, met al sy opsetlike tegnieke van onderbreking, en ook die hoofkarakter wat in baie opsigte frustrerend was omdat hy so ingehoue en neuroties is. Dit was ’n bietjie soos ’n akkedis wat sy vel los en hy gaan aan. Miskien het ek sommer my stert afgeskud, ek weet nie, maar toe kom hierdie ding, en ek dink dit was my eie kunstenaarskap wat amper op ’n hardnekkige wyse geprotesteer het teen Asbesmiddag.”

Kort voor lank het hy begin om op sy Nokia notatjies te maak. Twee maande later is hy en sy doktersvrou, Kaia, weer na Nederland, en het hy vinnig, soos die “Agstekleurkekkel”, begin skryf. Die plek? In dieselfde woonstel op die Spui waarin Henk Ekskuus sy navorsing doen oor Cornelius van Gogh, die broer van Vincent en Theo wat in Suid-Afrika begrawe lê.

Die rede vir Van Heerden se verblyf in dié skrywersresidensie was vir navorsing oor dié einste Van Gogh-broer. Hy glimlag. “Ek wil nóg ’n boek oor hom skryf. Die boek se titel sal wees Die Onmerkwaardige Broer.”

Want vir hom het feit en fiksie nog altyd naatloos in mekaar gevloei. En as skrywer word hy as’t ware ’n “alternatiewe historiograaf”, wat die werklike geskiedenis ondermyn met duimsuigery.

Net soos in sy ander boeke wemel 30 Nagte in Amsterdam met verwysings na sy eie verlede. So hét die Van Heerdens ’n tuishuis gehad te Somersetstraat 82, Graaff Reinet, net soos die karakters in die boek. Sy eie pa is ook vir depressie behandel met LSD, en sy Engelssprekende ma se voorouers aan moederskant was eweneens Girds van St. Helena.

Die vraag oor die oorvleueling tussen waarheid en lieg is egter een waarmee hy reeds verveeld is. Hy hap ietwat geïrriteerd na woorde. “Ek glo nie in daai historical voraci­ty ding nie. Fiksie wil ’n ander waarheid bereik, en as jy die boek lees, moet dit vir jou irrelevant wees of dit nou regtig waar is dat so iemand geleef het destyds.”

Sy stem is afgemete: “Ek wil dit graag emfaties sê: dit is totaal fiksionele figure. Net soos wat ek nie Henk Ekskuus is nie, maar ek wórd al die karakters in die boek.”

En wat dan van die aanhaling “When a writer is born a family starts dying” waarop hy hom dikwels voor sy studente beroep?

Hy glimlag, dié keer minder gesteurd. “Met daardie aanhaling sê jy ook dat wanneer ’n skrywer begin skryf oor sy familieverlede, hy met sy fabulerings so ver kan gaan dat dit wat werklik gebeur het eintlik sterf. As jy na die Toorberg-verhaal kyk . . . daar’s baie van my familiemites daar ingeweef, maar wraggies, die werklikheid is totaal weg daarvan.”

JJJ

Met elke nuwe werk bou hy ’n ryker persoonlike mitologie op. En soos hy al dikwels gesê het, hy skryf nie net aan ’n boek nie, maar aan ’n oeuvre.

“Elkeen van my boeke herskryf ook al die vorige boeke. En dit relativeer ook die vraag na wat waar is. Die tante, byvoorbeeld, het nou al soveel gedaantes gehad in verskillende boeke. En die ou Engelsman in hierdie boek is byvoorbeeld die veteraan in Kikoejoe.

“Dit is egter vir my belangrik as ek bou aan ’n oeuvre om nie versigtige bousteentjies daar te sit wat op die ou end alles sin maak nie, maar om opposisies en spanning en teenstrydighede en paradokse te skep. Veral om heeltyd in te skryf téén.”

Hiervoor moet hy egter goed onderlê wees in die historiese feite: En vir sy jongste roman moes hy hom veral inwerk in die anti-apartheidsbeweging, waaraan Tante Zan eers in Suid-Afrika en toe in Amsterdam behoort het.

“Kyk, wat ek wou doen met haar, was om die struggle-mitologie te ondermyn. Daar is soveel boeke oor, verhale rondom die struggle. Een en almal is halleluja-liedere. Ek wou ’n apokriewe, alternatiewe kontra-struggle beskryf. Ek wou iets byna karnavalesk skep, iets eksentrieks, en daarmee ’n gesprek open oor hoe die ander kant van die struggle was.”

Hy skep asem, vertel hoe hy ook ’n ander greep wou kry “op wat die geskiedenis is”.

“Ek wou sê die geskiedenis is ’n reeks grand mal-aanvalle. Dis die Agste Kleur wat oor ’n land kom, en dan is daar stuipe in die vorm van ’n oorlog of ’n stryd. Die ontspanningsfase kom daarna, net soos wanneer Ouma Olivier Tante Zan se ledemate so aai.”

Hierdie kontra-struggle- verhaal is een wat hy nóú eers kon vertel. In die fase ná die “veilige opposisies waarin skrywers (voor 1994) vasgevang was”.

Hy verduidelik: “Kyk, jy skryf vanuit, jy skryf nie oor nie. Ek sien nie my werk as ’n afgebakende oeuvre waarom jy loop en dan soos van Wyk Louw kommentaar lewer ‘rondom eie werk’ nie. Ek sien dit as iets waarin jy absoluut vasgevang is. Jy praat uit die familie uit, soort van. En ek dink ons almal in Suid-Afrika is nou daar waar ons wil uitpraat. Selfs die ANC is op ’n plek waar hy gesplit het weens selfondersoek.”

JJJ

Die luukse om bloot storie te maak, het immers nog nooit vir hom bestaan nie. Reeds sedert sy eerste roman, Matoli , wat hy op 24 geskryf het. Altyd is daar die politieke bewussyn, die amper dokumentêre aard, die weiering om sy “keel te laat stiltrap”. Maar die reis wat hy tussen tóé en nou afgelê het, sê hy drogies, was “die lewe self”.

In dié tyd het hy nie net een van die voorste skrywers van sy generasie geword nie. Hy het bykans elke literêre prys in Suid-Afrika gewen, sy boeke is in dertien tale vertaal, en as Hofmeyr-professor, onder meer in die Kreatiewe Skryfkuns, het hy ’n hele generasie jonger skrywers tot publikasie gelei. As stigtersredakteur van LitNet het hy ’n virtuele tuiste geskep vir ’n bekkige gemeenskap van kultuurvrate, waar die verhewe en die banale moeiteloos deur dieselfde ruimte rank. Boonop was hy al prokureur, kopieskrywer, hondehanteerder en is hy pa van twee dogters.

Hy is immers ’n vroegopstaner wat gereeld “vaartversnellings kry”, en veral die koestering van skryf nodig het om hom teen ongedurigheid te beskerm. Hy verstel sy bril op sy neus.

“As ek ’n boek skryf, is daar ’n absolute verliefdheid, ’n verslingering daarmee, en as dit verskyn, is ek absoluut verlief op die fisieke objek. Dan eensklaps is dit verby, en is ek in daardie fase van post-natale oewerloosheid. Ek dink wat skryf vir my doen, is om dispariteite saam te trek. Soos ’n tregter. Ek gebruik my kreatiwiteit om myself vas te hou, en ek móét ’n volgende boek begin, because I’m at odds with myself.”

Ironies genoeg het die vierdubbele hartvatomleidings sewe jaar gelede hom selfs vinniger van boek tot boek gedryf.

“Kyk, ek het nie ’n joga-persoonlikheid nie. Ek kan nie sewe-uur in die oggend kruisbeen op Coetzenburg gaan sit en ohm nie. Jy sit nou maar met wie jy is, en ek is nie iemand wat kan afskaal nie.”

Hy dink na. “Die hartvatomleidings het gelei tot my mees kreatiewe periode. Binne agt jaar het ek vier romans geskryf, nè?

“Jy kyk ook maar bietjie anders na die lewe. Ons wil nie nou psycho-babble hier nie, dis nie my geaardheid nie, maar dit het tog baie nuwe dimensies gebring.”

Effe op sy hoede gaan hy voort, soos altyd wanneer dit oor sy persoonlike lewe gaan. “Ja, ja, kyk, my brein was ses uur lank afgekoel, né? Hulle koel mos jou hele liggaam af, en dis interessant watter effek dit ook op jóú het.”

’n Aarseling. “Maar as ’n ouer vroeg dood is, het jy in elk geval ’n doodsbesef. Jy kan sê dis ’n biologiese klok, of jy kan sê dis ’n psigiese klok, maar dis iets wat karakter bou, dis al wat ek vir jou kan sê.”

J JJ

Want sy pa se dood, toe hy slegs 14 jaar oud was, was die belangrikste rede hoekom hy begin skryf het. Op daardie oomblik het sy bekende wêreld gesterf. Hy en sy gesin moes ook die plaaslewe in die Oos-Kaapse Karoo verruil vir ’n totaal ander landskap in Stellenbosch. Die skryf was om sy verliese te verwerk en in sy boeke is die Karoo verseël tot geslote, mitologiese wêreld.

Hy antwoord vinnig, ietwat ontwykend, op die vraag of hy die Karoo al kon begin terugeien. “Ja, ek integreer nou beter. Die Karoo raak ’n meer werklike plek. Ek was die afgelope twee jaar al hoe meer terug, maar ek was nog nie onlangs weer terug na die familieplaas nie.”

JJ J

En toe staan hy op en stap vooruit na die huis in Louw­straat waar hy reeds sedert sy tienerjare woon. ’n Oomblik voel dit of ons die “regte wêreld” vaarwel toeroep en die geil ruimte van sy boeke betree.

Hy loop na die toonkas in sy studeerkamer en sy blik dwaal na die onderste vlak van die uitstalruimte. Agter slot en grendel is ’n hele eetservies in wit-en-blou porselein. Dieselfde Napoleonborde wat in 30 Nagte in Amsterdam deur die Gird-familie vanaf St. Helena gebring is: “Napoleon se dinner service, can you believe it.”

Etienne glimlag geheimsinnig, en eensklaps is ek nie eens seker of hy werklik of gefabuleer is nie.

“Ek weet nie hoe apokrief die verhaal is nie, maar hulle is hier in my studeerkamer en die Girds het daaruit geëet Sondae.”

Hy verstel weer sy bril, amper asof daar ’n geheime wêreld agter die lense skuil: “As ek eendag baie oud is, gaan ek nie meer kan onderskei tussen die lewendes en fiksie nie.”

>

    
VIND
Mediese Fonds
Reis & Verblyf
Kom ons kliek
Motors
Kontantlenings
Beligting
Eiendomsbelegging
Wegbreeknaweek
Musiekinstrumente
Eiendomme te huur
Leerprodukte
Buitelewe
Werksgeleenthede
Gesondheidsprodukte
Eiendomme te koop
ONS BEVEEL AAN
netNaweek
Nie seker wat om die naweek te doen nie? Kry elke Vrydag netNaweek.com, propvol nuus oor die lekkerste wat die Kaap het om te bied en wen hope pryse. Die gratis e-pos sluit inligting oor flieks, teater, restaurante, uitstallings, wegbreek-naweke en sommer enige iets wat pret is om die naweek te doen in.

Gaan na netNaweek om te registreer.
Inskrywingsvorm vir 2009 se LENTE Vakansieskole
Alle graad 10-, graad 11- en graad 12-Jippers kan uitsien na vanjaar se lenteskool. Skryf nou in vir Die Burger se Lenteskool in Port Elizabeth.
Kliek hier vir inskrywingsvorm
84 dae
tot afskop
2010
Wêreldbeker 2010
VIND
Mediese Fonds
Reis & Verblyf
Kom ons kliek
Motors
Kontantlenings
Beligting
Eiendomsbelegging
Wegbreeknaweek
Musiekinstrumente
Eiendomme te huur
Leerprodukte
Buitelewe
Werksgeleenthede
Gesondheidsprodukte
Eiendomme te koop
NETADS24
Soek ‘n advertensie

Algemeen
Loopbane
Motors
Eiendomme

VIND OU SKOOLVRIENDE
Kies jou skool se provinsie:
En klik op die eerste letter van jou skool:
ABCDEFGHIJKLMN
OPQRSTUVWXYZ
ONS BEVEEL AAN
netNaweek
Nie seker wat om die naweek te doen nie? Kry elke Vrydag netNaweek.com, propvol nuus oor die lekkerste wat die Kaap het om te bied en wen hope pryse. Die gratis e-pos sluit inligting oor flieks, teater, restaurante, uitstallings, wegbreek-naweke en sommer enige iets wat pret is om die naweek te doen in.

Gaan na netNaweek om te registreer.

       
 Kontak ons | Navrae | Teken in op ons nuusbrief | Vrae oor registrasie | Adverteer | gebruikersooreenkoms |