|
|||||||||||
|
![]() By
‘Dit maak nie seer nie. Dit is verby.’
20/06/2008 08:09:06 PM - (SA)
MET ’n kennersoog bekyk Reinet Louw die enorme voorraad Suske en Wiskes by ’n stalletjie op die Amsterdamse Noordermarkt. Dis boekies waarmee sy grootgeword het en sy weet presies wat sy vir haar versameling in Johannesburg soek.
Van haar derde tot haar twaalfde jaar het sy immers in Amsterdam gewoon, Nederlands maklik en vlot gepraat en ’n plesierige Hollandse kinderlewe gehad. Die eerste drie jaar was sy op ’n Rudolf Steinerskool, maar is later, nes haar jonger broer, Peter, na ’n staatskool.
Reinet se vader, NP Van Wyk Louw, was van 1950 tot 1958 hoogleraar in Suid-Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Amsterdam. Ná hom was Merwe Scholtz van April 1959 tot Januarie 1963 hoogleraar.
Vanweë allerlei probleme en die kulturele boikot van Suid-Afrika is die pos dekades lank opgeskort totdat ek in 2002 as bijzonder hoogleraar Suid-Afrikaanse letterkunde benoem is – ’n posisie wat deur baie mense nog as die Van Wyk Louw-leerstoel beskryf word. Dit voel daarom op ’n manier “histories” om so saam met sy dogter op die Amsterdamse mark rond te loop. Dit is nou byna vyftig jaar nadat Reinet Louw Amsterdam saam met haar moeder, Truida, en haar broer verlaat het om hulle by haar pa in Johannesburg te gaan aansluit.
Reinet, ’n joernalis, was in Mei in Amsterdam met vakansie saam met haar man, die joernalis Franz Kemp. Daar was ook ander Suid-Afrikaanse vriende die oggend op die Noordermarkt, onder andere Louise Jordaan wat die foto van ons geneem het. Sy was in Amsterdam om ondersoek te doen na Nederlandse persepsies in verband met eutanasie-wetgewing. By die Noordermarkt se beroemde appeltert- en koffiewinkel het dit so jolig in Afrikaans gegaan dat die Amsterdamse terras-sitters verbaas toegekyk het.
DIE bekende biografiese besonderhede oor die Louws se verblyf in Amsterdam gaan deur my heen. Na baie wik en weeg het die 44-jarige Van Wyk Louw die posisie van hoogleraar Suid-Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Amsterdam aanvaar en op 20 Februarie 1950 uit Kaapstad in Amsterdam aangekom.
Twee maande later, op 18 April 1950, het hy sy vrou, Truida, en hul twee jong kinders by die hawe in Antwerpen gaan haal.
Ondanks die bitter feit dat daar in die tussenliggende maande ’n verhouding tussen Louw en Sheila Cussons in Amsterdam ontstaan en Truida dit onmiddellik agtergekom het, het sy en haar kinders in Amsterdam aangebly, onder meer omdat sy nie dadelik plek op ’n skip terug Suid-Afrika toe kon kry nie. Cussons was in daardie stadium nog met Stoffel Nienaber getroud.
Die jare in Amsterdam was moeilik, maar ook vol en ryk. Die gesin het baie jare lank in ’n groot en gerieflike huis aan die Tintorettostraat in Amsterdam-Zuid gewoon. Tintorettostraat 9 II was, volgens Louw in ’n brief aan sy moeder, ’n gerieflike huis oor twee verdiepings versprei met vier slaapkamers, drie enorme woonkamers en twee balkonne wat son kry.
Die gesin het ’n Ambonese huishoudster gehad, Martha Tahapary, wat saam met hulle in die huis gewoon het. Tydens haar besoek aan Amsterdam het Reinet weer in Tintorettostraat gaan rondloop en ook vir “Juffrou Martha” in Den Haag gaan opsoek. Sy is nou 93 jaar oud. Martha Tahapary was ná hul vertrek by die Louws in Suid-Afrika op besoek, het tot aan Truida se dood met haar gekorrespondeer en het steeds ’n noue band met Reinet en Peter.
BIOGRAFIESE besonderhede oor Reinet is op ’n boeiende manier vervleg in J.C. Steyn se tweedelige biografie Van Wyk Louw. ’n Lewensverhaal.Sy was die eerste kind van die beroemde digter en sy tweede vrou, Truida Pohl.
Steyn beskryf haar geboorte in Kaapstad op 12 Desember 1946 uitgebreid (ble. 456-457). Nadat sy vrou vroegoggend vir die bevalling in die kraaminrigting opgeneem is, het Van Wyk ’n groot deel van die dag by Dirk en Marié Opperman gaan wag. Die middag om halfvyf is hy aangesê om by die deur van die kraamkamer na die “nuwe geluid te gaan luister: ’n lae altstemmetjie”.
A. Roland Holst wat in dié tyd in Suid-Afrika op besoek was, het ’n klein paplepeltjie aan Reinet present gegee en op 27 Maart 1947 skryf Louw aan Jan Greshoff dat sy “darem die soetste dogtertjie in Suid-Afrika” is.
Sy is gebore op haar tante Rosa Louw-Nepgen se verjaardag en Rosa en haar man, Louw se broer W.E.G. Louw, was haar peetouers. Hoe heg die vriendskap tussen die Louws en ander skrywers in daardie jare was, blyk uit die feit dat Reinet (Elisabeth Reinet) na Elisabeth Eybers genoem is. Die Louws, Eybers en haar man, Albert Wessels, was goed bevriend.
Steyn skryf: “Hoewel hulle nie so dikwels met mekaar in aanraking was nie, het die Wesselse en Louws baie van mekaar gehou. Truida en Elisabeth Eybers was van hul eerste ontmoeting af goeie vriende, en die vriendskap het deur gereelde kuiers en gereelde briewe tot diep in hul tagtigerjare nog tot in 1998 voortgeduur. Albert en Elisabeth se seun, Bert, is ’n peetkind van Van Wyk en Truida.” (Steyn, bladsy 353)
Reinet was baie lief vir haar twee halfsusters, maar die ouer kinders het by hul moeder, Joan, agtergebly toe Louw die pos in Amsterdam aanvaar het. Steyn skryf dat Reinet goed kon teken en reeds op tweejarige leeftyd ’n tekening gemaak het van twee danseressies wat Louw in sy studeerkamer gehad het. Louw, geboei deur Reinet se tekenwerk, het in Amsterdam ’n “Ars poetica”-gedig geskryf wat daardeur geïnspireer is (nie te verwar met die een wat later in Tristia gepubliseer is nie).
Sheila Cussons was ook baie geïnteresseerd in Reinet se tekeninge.
“My pa het my ’n hele paar keer saamgeneem wanneer hy by haar gaan kuier het,” vertel sy. “Dan het hulle gesit en gesels terwyl ek plat op my
maag by hulle op die vloer gelê en teken het.”
IN baie opsigte het Reinet en haar broer, Peter, onkonvensioneel grootgeword, deels as gevolg van hul ouers se huweliksprobleme. Tussen November 1953 en April 1954 het Truida en die kinders ’n lang somervakansie in Suid-Afrika deurgebring. Steyn vertel dat Louw bang was dat Reinet in dié tyd baie van haar Nederlands sou vergeet. Hy het haar ondertussen leer lees (uit die Afrikaanse Kinderensiklopedie) en skryf.
“Ek was toe vir ’n paar maande op Graaff-Reinet in die laerskool en ek en ’n maatjie het dan pouses op die swartbord geteken. Die skoolhoof vra toe eendag: ‘Ek hoor jy teken so mooi. Wil jy nie vir die hele skool wys nie?’
“Met die selfvertroue van ’n sesjarige het ek na die swartbord in die saaltjie gestap en daar my hele oeuvre met groot aandag geteken. Dit was ’n vrou in ’n mooi pakkie, met hoed en handsak, ’n hond, en toe Adam en Eva. Met geen vyeblaar in sig nie. Ek het dan elke dag al die kunsboeke by ons aan huis gesien.
“Die skooltjie het na sy gesamentlike asem gesnak, maar die hoof het my geamuseerd bedank, almal uitgestuur – en glo toe onbedaarlik begin lag . . .”
’n Pragtige foto is van Louw en sy dogter op Trafalgar Square geneem toe hy saam Engeland toe is om hulle by Southampton af te sien. Reinet het aan Steyn vertel dat sy en die dogtertjie van haar pa se kollega W. Hellinga ’n week lank met hul professor-pa’s op die Friese-mere rondgevaar het.
“Die twee mans het vir die kos gesorg – en die twee kinders het vreeslik baie gebakte eiers op witbrood gekry.” (Steyn, bladsy 746)
In die somer van 1956 het Reinet, toe 9½, en Peter (6½) ook alleen met hul pa in Spanje gaan vakansie hou. Kort ná die vakansie het die Louws ’n klavier aangeskaf, hoofsaaklik ter wille van Reinet wat moes oefen vir haar lesse by Jan Bouws. Louw en Truida het toe ook albei weer begin klavierspeel.
Reinet onthou dat haar pa dikwels gaan rondsnuffel het by die beroemde antikwariaat Schumacher op die Geldersekade. As hy dan met ’n stapel boeke, soms prente en af en toe selfs ’n ou swaard of twee tuiskom, het hy en sy langs mekaar op die bank gaan sit en die interessante en selfs soms bloeddorstige prente van party boeke behoorlik bekyk.
“Vir Reinet was die saamlees met haar pa een van die vreugdes van haar jeug. Sy was op die grond aan sy voete, en terwyl hy liggies haar kop gevryf het, het hulle stapels en stapels beroemde kinderboeke deurgelees.” (Steyn, bladsy 809)
In Augustus 1957 is Reinet saam met haar pa, stiefsuster Ria en dié se man, Ampie Muller, met vakansie na Italië.
“Dit was asof jy ’n lewende, pratende ensiklopedie langs jou gehad het. Hy het van alles geweet en kon heerlik vertel. By die huis was dit anders. As ’n mens daar iets gevra het, was die antwoord: Lees dit in die ensiklopedie, of woordeboek of watter een ook al toepaslik was.”
)))
TOE die volgende semester in Amsterdam aanbreek, het ’n sielestryd vir Louw begin: Hy moes besluit of hy ná sy byna agtjarige verblyf in Nederland sou aansoek doen vir die hoofskap van die departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Witwatersrand.
Soos bekend het hy dit wel gedoen en is in Desember vir ’n maand Johannesburg toe vir ’n onderhoud by Wits. Na sy laaste Amsterdamse semester het hy moeilik afskeid geneem en op 17 Julie 1958 in Johannesburg geland. Hy het daar ontsettend na Truida en sy kinders verlang, maar sy gesin sou eers ses maande later na Suid-Afrika terugkeer.
Tydens die Amsterdamse jare het Truida Louw haar eie radiowerk en ander bedrywighede gehad en bowendien ’n ernstige verhouding met ’n Hilversumse radiojoernalis Hans Knap aangeknoop. Sy was aanvanklik nie van plan om terug te keer Suid-Afrika toe nie en Louw het maande lank by haar gepleit om te kom. Uiteindelik het sy ingewillig. Hans Knap en Juffrou Martha het Truida en die kinders na die lughawe Schiphol geneem en hulle het tot groot vreugde van Louw op 15 Januarie 1959 in Johannesburg aangekom.
“Na die lewe in Nederland het Louw en Truida nooit verwys nie,” skryf Steyn op bladsye 872-873. “Hulle het mekaar niks verwyt nie, die lewe daar nooit selfs genoem nie. Dit was soos in die mooi vers van Elisabeth Eybers: ‘Dit maak nie bly,/ dit maak nie seer,/ dit is verby.’ ”
Reinet Louw: “Tot aan die einde het hy elke aand met slapenstyd aan haar gesê: ‘Bokkie, je t’aime.’ ”
*. Dié artikel is gebaseer op mededelings deur Reinet Louw en verder ontleen aan gegewens in J.C. Steyn se tweedelige V an Wyk Louw. ’n Lewensverhaal (1998, Kaapstad: Tafelberg) en aan die argief van die Zuid-Afrika Huis, Keizersgracht 141, Amsterdam.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |