|
|||||||||||
|
![]() MICHAEL WALKER
By
Pinker, Popster van die wetenskap
25/01/2008 09:22:24 PM - (SA)
MET sy wilde bos krulhare en sterk gelaatstrekke is dié 53-jarige Johnstone Family-professor aan die departement sielkunde aan die Harvard-universiteit allermins ’n bleeksiel. Baie mense beskryf hom as die popster van die wetenskap.
Die mens se verstand en brein is die produk van evolusie en spesifiek van natuurlike seleksie – net soos die res van die liggaam, sê Pinker.
EB: Wat is die verhouding tussen die brein en die verstand (mind) of siel (soul)?
SP: Mense verkeer onder die misvatting dat die brein en sogenaamde siel (soul) twee entiteite is. Die brein en verstand (mind), soos ek verkies om daarna te verwys, is één. Daar is niks anders nie. Dit bestaan uit patrone van neurologiese energie wat vuur.
Daar bestaan ook die wanindruk dat die brein ’n klein persoonlike rekenaar van die spookverwerker-siel is – dat die brein soos ’n bykomstigheid is wat ons siel gebruik om inligting te verwerk. Dit is nie die geval nie.
Die moderne wetenskap het aan ons gewys dat daar nie ’n spook of gees is nie, maar dat daar neurologiese, elektriese energie is: Die verstand is die aktiwiteit in die brein.
Is taal net ’n manier om te kommunikeer?
Dit het geëvolueer as ’n manier om te kommunikeer, maar dit het veel meer as dít geword. Ons gebruik taal in ons geheue op vele maniere, in wiskunde en om van die wêreld sin te maak.
Wat was die katalisator van spraak?
Drie dinge – taal, tegnologie en geselligheid. Die mens moes gevorderd kommunikeer toe dit by die jag van diere gekom het. Hoe bespreek jy presies waarheen en hoe om ’n dier te agtervolg sonder gevorderde taal? Om die spore van diere te lees en uitvoering aan die jagproses te gee is baie abstrak. Dié tipe beredenering het komplekse taal vereis.
Die mens moes ook letterlik “on speaking terms” met mekaar gewees het om te oorleef. Om gunste met mekaar uit te ruil is die rede hoekom daar sosiale verbande tussen mense bestaan wat nie aan mekaar verwant is nie.
Is die mens van nature gewelddadig?
Ja. Ons wil graag die politiek korrekte antwoord gee en “nee” sê. Maar die mens is van nature gewelddadig – almal het gewelddadige impulse. Die mens geniet dit om flieks te kyk met geweld in, speletjies en video-speletjies te speel wat uiters gewelddadig is en sport te kyk en te speel wat geweld bevat. Komaan, ons hou van geweld, maar ons weier om dit te erken.
Die meerderheid, as ons eerlik moet antwoord, sou al in die een of ander stadium gefantaseer het om iemand te vermoor. Die verskil kom in of ons dit in gedrag oorsit of nie, en dít het met kultuur te doen.
Kinders kan geniepsig wees en geweld gebruik, van nature, nog voordat hulle dit leer. En daar ís mense wat van nature gewelddadiger as ander is.
So is gemeenskappe soms gewelddadiger as ander op bepaalde tyde. In die 1930’s en 1940’s was Japan en Duitsland baie gewelddadig, maar hulle is nie meer vandag nie. Nie omdat daar ’n biologiese verandering plaasgevind het nie, maar omdat die gemeenskap self verander het.
Wat dink jy van dr. James Watson se onlangse omstrede uitsprake? (Watson het verlede jaar onder meer gesê swart mense is minder intelligent as wit mense.)
Kognisie is oorerflik en individue se intelligensie verskil. Neurologies gesproke is ons meer dieselfde as verskillend. Maar ’n mens kan nie sê ’n totale groep verskil sus of so van ’n ander groep nie. Waar Watson verkeerd gegaan het, is dat hy ’n groep of groepe veralgemeen het.
Evolueer Homo sapiens steeds?
Jare gelede het ek gedink ons evolueer nie meer nie. Ek het gedink ons het sowat 70 000 jaar gelede gestop, maar ek het my mening verander nadat nuwe genetiese data na vore gekom het, soos die bewyse dat laktose-toleransie die afgelope 10 000 jaar ontwikkel het, asook verskeie genetiese seleksies soos velkleur en oogkleur.
Waarheen is ons ontwikkeling op pad?
Ons weet nie waar ons gaan wees nie en daarom is dit moeilik om te sê. Om te weet hoe ons gaan ontwikkel sou ’n mens byvoorbeeld mense iewers moes isoleer en die kultuur behou om ’n voorspelling te maak. Natuurlike seleksie in ’n groep moet bestendig oor ’n lang periode plaasvind, of daar moet beperkte geenvloei wees, om effektief te wees.
Waarom glo die mens in gode?
Dit is ’n historiese verskynsel en het verskeie redes in verskillende kulture. Dit kom die eerste keer voor in die argeologie met rituele begrafnisse. Dit het begin met animistiese gelowe, soos dat die berge en die bome ’n siel het. So het idole na vore getree en is ’n siel – iets wat vry van die liggaam kan beweeg – daaraan toegeken.
Die mens is instinktief dualisties. Ons sien die verstand en liggaam as twee verskillende entiteite. Dat ons vry van ons liggaam kan sweef. Wanneer iets vreemds of onverklaarbaars gebeur, skryf ons dit toe aan entiteite groter as ons wat ons nie kan sien nie. Dit is die mens se natuur om dit te doen wanneer ons iets nie kan verklaar nie. Ons soek doelgerigte verduidelikings vir alles.
Iets of iemand moet altyd vir ons in beheer wees; iets kan nie net vir ons wéés nie.
Ons kan verstaan dat ’n bottel water ontwerp is om water in te hou en die prop voorkom dat dit uitloop, maar wanneer dit by die berge en plante kom, wil ons dieselfde verduideliking van kreasionisme daarop toepas. Ons wil nie aanvaar dat dit natuurlik en spontaan net deur onder meer seleksie ontwikkel het nie.
Geloof is ook bevestig deur die mag en outoriteit wat die onderskeie gelowe deur die eeue gekry het. Hulle het hul outoriteit gebruik om mense te kry om te glo. Dit lyk dus of die pastoor of priester of wat ook al prestige het, dus glo ek maar sonder twyfel wat hy sê. Mense is baie liggelowig.
DIE taalgeleerdes wat Pinker na die derde internasionale simposium oor interkulturele kommunikasie en pragmatiek op Stellenbosch genooi het, wil hom graag as ’n taalwetenskaplike eien, en in vraetyd ná sy lesing betrek by haarkloof-debatte binne linguistiese kringe.
Maar dié man vee van die vrae weg as “pseudo-debatte” binne taalkringe, omdat mense “sommer iets soek om oor te debatteer elke keer as hulle ’n resultaat kry”.
In sy jongste boek, The stuff of thought: Language as a window into human nature, sê hy taal is ook die mens se manier om sin te maak van die wêreld om hom. Daarin ontleed hy ook hoekom ons vloek.
Die rits vloekwoorde wat Pinker uitryg, onder meer die tientalle alternatiewe woorde vir “f*k”, woorde oor honde, ma’s, ontlasting en dies meer laat die gehoor giggel.
Hy vertel ook sy persoonlike gunsteling wat in 1485 in onbruik verval het en sê hy hoop dit herrys uit die annale van persoonlike belediging: “Kiss the c**t of a cow.”
Met die lees hiervan is jy, die leser, waarskynlik kwaad omdat dit in die koerant verskyn. Hier is die rede:
“Vloekwoorde word outomaties in die brein verwerk. Dit is onwillekeurig en ’n mens kan nie kies om dit te hoor of te lees nie; die brein doen dit vanself. Dit is een van die redes hoekom taboe-woorde jou so ontstel,” sê hy.
’n Vloekwoord dwing ’n mens om ’n emosioneel belaaide gedagte aan te hoor. Dit aktiveer die regterhemisfeer van die brein in ’n area wat met negatiewe emosies geassosieer word.
Mense vloek om ’n punt oor te dra – om te sê: Luister na my; ek voel sterk en emosioneel oor iets.
Dit word ook opsetlik gedoen om iemand te verneder, te beledig, of in die gebruik van ’n eufemisme, en die idiomatiese gevloek waar iemand probeer om oulik te wees.
Mense vloek ook om katartiese redes om stoom af te blaas, maar die veel dieper rede van die katarsis is om aan ander te laat blyk dat jy in ’n sterk emosionele staat is. Dit is ’n manier van aandag vestig.
Volgens Pinker is vloek oor kulture heen in vyf groepe verdeel; en hoewel die inhoud verskil, is die onderwerpe universeel: die bonatuurlike; liggaamsvloeistowwe en die organe wat dit uitskei; siekte en dood; seksualiteit; en groepe en mense wat in onguns is.
IN van Pinker se boeke – The language instinct, How the mind works, The blank slate en The stuff of thought: Language as a window into human nature – is hy lief om te skryf oor mense se vrese vir iets wát nie 100% in die bestaande norm se vorm pas nie.
Dr. Craig Venter, die genetikus wat die menslike genoom ontrafel het, het onlangs in die Richard Dimbleby-lesing op die BBC ook oor die mens se vrees vir die wetenskap gepraat. Deel van die probleem wat die mens in die gesig staar rakende wetenskaplike vooruitgang, is vrees vir die onbekende – vrees wat baiekeer tot verwerping lei.
“Wetenskap is ’n onderwerp wat veroorsaak dat mense hul brein afskakel. Ek worstel daarmee dat wetenskap nie daarin geslaag het om mense opgewonde te maak nie. Daar is minstens twee redes voor: Dit word meestal swak aan mense geleer, baie keer as ’n verwyderde memorisering van komplekse feite en data, en dit is teenstellend met die instinkgedrewe manier waarop ons lewe en met ons wêreld in wisselwerking tree,” het Venter gesê.
In What is your dangerous idea skryf Pinker ook oor wát mense so vrees:
“Wanneer dit reg gedoen word, karakteriseer wetenskap (saam met ander waarheid- soekende institusies) die wêreld soos dit is, sonder agting vir wie se gevoelens seerkry. Die wetenskap was nog altyd ’n bron van kettery en vandag se vinnige vooruitgang in gevoelige areas soos genetika, evolusie en die omgewingswetenskappe sal verseker verontrustende moontlikhede na ons gooi.”
Net so verontrustend is die taboe-woorde.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |