|
|||||||||||
|
![]() By
Liberale kanon
18/01/2008 10:17:52 PM - (SA)
DIE teoloog John Shelby Spong het al in sy lewe 16 doodsdreigemente gekry, wat van so ’n ernstige aard was dat die polisie dit moes opvolg.
Nie een van die dreigemente, vertel hy graag, was van ’n ateïs, ’n Moslem, ’n Boeddhis of ’n Hindoe nie. Almal was van Christene.
Spong is ’n voormalige biskop van die Amerikaanse Episkopaalse kerk. Sy navorsing oor Bybelgeskiedenis sluit baanbrekerswerk oor die historiese Judas in. Hy het twee eredoktorsgrade in die godgeleerdheid. Hy het al 19 boeke oor Christelike temas geskryf.
En tog is daar min figure met wie Christene meer graag baklei. ’n Boek met die naam Can a Bishop Be Wrong? Ten Scholars Challenge John Shelby Spong is al deur ’n groep teoloë gepubliseer met die uitsluitlike doel om hom verkeerd te bewys.
Die Anglikaanse aartsbiskop van Kantelberg, Rowan Williams, het al artikels teen hom geskryf. Die Evangeliese Inisiatief, ’n prominente groep oorwegend behoudende Afrikaanse teoloë, het hom in November in ’n persverklaring van “skokkende uitlatings oor Skrifgesag” beskuldig.
Wat maak Spong so ongewild?
In die VSA word hy as die groot kanon van die liberale teologie beskou. En hy is die man wat die term “Nuwe Hervorming” uitgedink het.
So lui ’n tipiese aanhaling uit Spong se jongste boek, Jesus for Non-Believers: “Ek glo die Christendom soos ons dit tradisioneel geken het, is besig om voor ons oë te sterf. Die tipe Christendom wat deesdae in die VSA en die Derde Wêreld veld wen, is iets waarmee ek niks te doen wil hê nie. Ek wil nie hoor van mense wat om die waarheid meeding of wat vol woede is nie. Ek wil nie ’n God aanbid wat ek nie kan uitdaag nie en ek wil nie getrou wees aan ’n tradisie wat van my vereis om my verstand af te skakel nie. Ek kan baie van die dinge wat nog altyd oor Jesus gesê is, nie meer ernstig opneem nie.”
En in dieselfde hoofstuk van dieselfde boek skryf hy: “Die tradisionele Christendom beeld Jesus uit as ’n hemelse besoeker wat van die God bokant die hemelruim gekom het, via ’n wonderbaarlike geboorte en wat, toe sy werk klaar was, deur die ruimte gevlieg het om na God terug te keer. Jesus se taak, sê die ortodoksie, was om ’n gevalle wêreld te red deur aan die kruis te sterf. Hierdie storie is op elke denkbare vlak vir my nie net letterlik nonsens nie, maar ook teologiese twak. En tog word dit Sondae in die meeste kerke herhaal. Ek gaan nie maak of sulke idees nog my respek waardig is nie.”
Met sulke uitsprake maak mens nie in die kerk veel vriende nie.
IN Oktober verlede jaar het Spong Suid-Afrika besoek, onder meer as gas van die Nuwe Hervorming Netwerk, ’n groep liberale Christene, eks-Christene en ander andersdenkendes wat gereeld in Gauteng bymekaarkom. Hy het ’n aantal praatjies gelewer, onder meer op 28 Oktober by Unisa.
Die 78-jarige Spong, ’n maer man met ’n Anglikaanse priestersboordjie, het agter die kateder sy plek ingeneem vir wat baie na ’n preek gelyk het. Sy tema was “Hoekom die Christendom moet verander of sterf”. Dit was nie bedoel om subtiel te wees nie.
Die tradisionele manier om die Christelike boodskap te verstaan – dat Jesus ’n goddelike sondeoffer was – moet vervang word, het Spong gesê. Dié manier van dink is daarop gemik om mense van hul eie sondigheid te oortuig (selfs die lied “Amazing Grace” verwys na gelowiges as “a wretch like me”). Dit lei tot geweldige self-haat onder Christene, en is die vernaamste oorsaak van al die geweld en woede wat godsdienstige twiste kenmerk. Dit is ook hoekom Christene tradisioneel soveel geweld teenoor andersdenkendes, slawe, Jode, vroue en vele ander gepleeg het.
“Is dit veronderstel om goeie nuus te wees dat Jesus vir jou sondes gesterf het?” het hy gevra. “Laat dit jou goed voel om te hoor jy het Jesus se dood veroorsaak?
“As ons die hele tyd aan Jesus as ’n redder dink, en aan onsself as diegene wat gered moet word, kan dit net tot nóg woede, nóg skuldgevoelens lei. Dit sal ons nooit bemagtig om die volheid van die beeld van Christus Jesus te word wat in elk van ons is nie.”
’n Beter manier om aan Jesus te dink, het Spong gesê, is as die Een wat ons kom help om skuldvrye en gesonde mense te word, nie om ons te kom red nie. Ook Charles Darwin se insigte oor evolusie kan ons hiermee help.
“Voor Darwin het ons gedink dat mense perfek in die beeld van God geskape is, maar later deur die sonde tot ’n val gebring is. Ná Darwin weet ons dat die lewe as eensel-organismes begin het en deur geleidelike evolusie tot menslike lewe ontwikkel het. Dalk is ons probleem nie dat ons gevalle sondaars is nie, maar eerder dat ons nog nie die ontwikkeling na volkome mensheid voltooi het nie. Die taak van Christus is nie om ons te red nie, maar om ons te bemagtig om volkome mens te word.”
WAT Spong se boeke lekker maak om te lees, is dat hy glad nie jok oor wat hy glo of die ongemaklike dele daarin probeer verdoesel nie. In Jesus for Non-Believers wy hy etlike hoofstukke daaraan om hom teen die letterlike interpretasie van die Bybel te verset. Jesus is nie regtig in Betlehem of van ’n maagd gebore nie, skryf hy. Die wonderwerke het nie een gebeur nie. Min van die evangeliste se beskrywings van die kruisigingverhaal is histories juis. En niks aangaande die opstanding het (in kontemporêre gereformeerde taal) “letterlik histories” gebeur nie.
As bydraer tot die Jesus-seminaar, ’n groep prominente internasionale Bybelkenners wat die historisiteit van die vier Bybelse evangelies ondersoek (en grotendeels bevraagteken), het Spong veral werk oor die verraaier-dissipel Judas gedoen. Judas het waarskynlik nie regtig bestaan nie, het hy bevind, en is later in die verhaal ingevoeg.
Hoekom op dees aarde, sal baie mense vra, noem Spong hom dan nog ’n Christen? In die boek neem hy kennis van dié vraag. Hy skryf:
“Baie mense dink as jy in die Christendom wil bly, moet jy heeltemal ophou dink, die postmoderne wetenskaplike wêreld ontken, die insigte van heelwat kontemporêre teologie ignoreer, en jou brein in ’n eerste eeuse pretzel knoop ten einde ’n Chris-
ten te bly. Ek is nie meer bereid om dié prys te betaal nie. Ek glo vas daar móét ’n manier wees om sowel ’n gelowige as ’n inwoner van die 21ste eeu te wees. Ek is oortuig dat ’n God wat deur die verstand verwerp word, nie ’n God kan wees wat die hart opreg liefhet nie. Ek stel nie belang in ’n geloof wat van my vra om ’n kind te bly of om kinderlik voor ’n vaderlike bonatuurlike god te staan nie.
“Desnieteenstaande beleef ek nog die lewe as iets heiligs. Ek glo steeds daar is ’n realiteit genaamd God agter dit alles. Ek glo egter nie dié God doen wonderwerke nie. Ek wil nie só ’n God hê nie. Ek wil nie in ’n wêreld leef waar God lukraak ingryp deur die natuurwette om te keer nie.
“Wanneer ek in die Bybel van wonderwerke lees, vra ek nie of hulle regtig gebeur het nie. Ek vra eerder: Wat was die belewenis wat my geloofsvoorvaders van Jesus van Nasaret gehad het sodat dit vir hulle gepas gevoel het om in bonatuurlike stories oor hom te praat? My reis neem my uit die literalisme van ’n premoderne wêreld om die realiteit te ontdek van ’n Christus wat my lewe telkens omvorm.”
Dié Jesus, skryf hy, was ’n historiese figuur wat die magstrukture van sy tyd uitgedaag het, wat hom teen onderdrukkende godsdienstige reëls en oordrewe groepdenke verset het, en wat mense kom wys het hoe jy volledig in God se liefde (waar oordeel en straf nie ’n rol speel nie) kan leef.
“Die godsdiens genaamd die Christendom is besig om te sterf, die slagoffer van ’n uitdyende wêreldbeeld. Die Godervaring in Jesus – die ervaring wat aan die wortel van die Christendom lê – word egter nou weer aan ons bekend en sal tot nuwe vorme lei waarin daardie visie kan leef. Wanneer Jesus van die tronk van godsdiens bevry is, sal ’n renaissance, ’n hervorming, moontlik wees.”
Nie ’n siening wat ooit baie gewild kan wees nie, maar een waarvan sowel sy denkgenote as sy teenstanders kennis moet neem.
“Wanneer Jesus van die tronk van godsdiens bevry is, sal ’n renaissance, ’n hervorming, moontlik wees . . . ”
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |