|
|||||||||||
|
| VIND: |
Die stilte ná die storm. Reaksiemaglede van die Indiese onlustepolisie het gister ’n wakende ogie gehou oor die gebied om die Taj Mahal-hotel, neffens blomme ter nagedagtenis aan gestorwenes. Foto: REUTERSDie historiese Taj Mahal-hotel gedurende die beleg. Foto: REUTERSIndiese vroue by ’n proteswaak in die strate van Moembaai. Foto: EPADie premier van Indië, mnr. Manmohan Singh, spreek die volk toe. Foto: reuters Foto:
Features
FORUM: Tyd vir introspeksie
01/12/2008 06:58:49 PM - (SA)
Moembaai, die stad wat nooit slaap nie, is deur ’n drie dae lange terreuroperasie tot stilstand geruk. JANNIE FERREIRA neem die gebeure in oënskou.
Indië en Pakistan was ses jaar gelede op die rand van ’n kernkonfrontasie ná ’n aanval deur Islamitiese militante op die Indiese parlement. Amerika het destyds ’n skikking bemiddel waarin Pakistan ooreengekom het om groter druk op Islamiste uit te oefen.
Dit was so byna die vierde oorlog die afgelope ses dekades tussen Indië en Pakistan.
Die terroriste-aanval in Moembaai verlede week behoort nie die spanning tot oorlogsdreigemente te laat verhewig nie, onder meer danksy vinnige en oordeelkundige uitsprake deur Pakistanse politici.
Pres. Asif Zardari se telefoonoproep ná die aanvalle aan die Indiese premier, mnr. Manmohan Singh, het heelwat gedoen om die plofbare politieke temperatuur af te koel.
Die Indiërs is uiteraard nou met introspeksie op verskeie terreine besig.
Behalwe dat die Moembaai-terroriste vanuit die Arabiese See ontplooi is, skryf die dagblad Times of India, is die feit dat hulle na Amerikaners, Britte en Israeli’s op soek was ’n aanduiding dat die groter oorlog teen terreur na Moembaai oorgespoel het.
Die aanval op Indië se finansiële hoofstad stuur die boodskap uit dat dit nie veilig is om in Indië sake te doen nie. Die Indiese ekonomie en sy bande met die buitewêreld is onder skoot.
Al-Kaïda was nog nie tevore onder soveel druk in sy Pakistanse skuilplekke nie weens die aanvalle deur Amerika en die Pakistanse regering; gevolglik word nuwe fronte gesoek.
En die Suid-Asiatiese grense is vol infiltrasiegapings. Ten einde terreur in Indië die stryd aan te sê, is dit dringend nodig dat Pakistan en Bangladesj, wat albei tevore deel van Indië was, gestabiliseer word.
En Indië behoort volgens die Times of India internasionale hulp te soek ten einde sy veiligheidsgemeenskap en sy veiligheidskultuur op te knap.
Ses Indiese stede het vanjaar reeds onder terroriste-aanvalle deurgeloop: Jaipur, Bangalore, Ahmedabad, Surat, Nieu-Delhi en Assam.
Sen. Barack Obama, aangewese president van Amerika, se tweede naam, Hussein, en sy gewildheid in Arabiese lande skep vir Al-Kaïda ’n lastigheid. In teenstelling met pres. George W. Bush is dit moeilik om Obama as ’n Amerikaanse heiden uit te beeld. Ayman al-Zawahiri, een van Al-Kaïda se grootbase, het in sy reaksie op die uitslag van die Amerikaanse presidentsverkiesing Obama ’n house negro genoem.
Die Duitse nuustydskrif Der Spiegel meen terroriste kan Obama uitdaag, sodat hy uiteindelik net so oorlogsugtig soos Bush vertoon.
Dit is die soort uitdaging wat ’n president nagte kan laat wakker lê. Obama het in ’n onderhoud met Barbara Walters gesê: “Daar is baie dinge wat my snags laat wakker lê.” Hy het verwys na die finansiële krisis, die krisis in die Amerikaanse motorbedryf en die energiekrisis. Nou het ’n buitelandse krisis bygekom.
Maar wat was Obama se presiese reaksie? “Hierdie gekoördineerde aanvalle op onskuldige burgerlikes demonstreer die ernstige en dringende bedreiging van terrorisme. Die Verenigde State moet voortgaan om sy betrekkinge met Indië te versterk, en met nasies die wêreld oor, ten einde terroriste-netwerke uit te roei en te vernietig.”
Obama het boonop Bush se minister van verdediging, mnr. Robert Gates – ’n Republikein met noue bande met die Bush-familie – gevra om vir minstens nog ’n jaar in dié pos aan te bly.
Dit het uiteraard ’n gemor in die linkervleuel van die Demokratiese Party afgegee, maar die Moembaai-aanvalle het gewys dat dit ’n wyse stap is. ’n Skielike verandering in veiligheidsbeleid te midde van die oorloë in Irak en Afganistan sal net te riskant wees.
Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, dr. Condoleezza Rice, se aankoms môre in Indië, is ’n aanduiding van hoe ernstig Amerika sy bande met Indië opneem. ’n FBI-ondersoekspan, asook Scotland Yard, is reeds in Moembaai aan die werk.
Die Pakistanse regering se aanvanklike reaksie dui op samewerking met Indië. Afgesien van Zardari se oproep aan Singh het die Pakistanse owerheid ingestem tot die Indiese versoek dat ’n Pakistanse intelligensie-afvaardiging Indië besoek om sy inligting oor die oorsprong van die aanvalle met die Indiërs te deel. Die Indiese regering sal op optrede deur die Pakistanse regering aandring, maar Pakistan kan volgens Strategic Forecasting vasgevang raak tussen buitelandse eise en binnelandse werklikhede.
’n Herhaling van ses jaar gelede se kernkonfrontasie moet vermy word; maar soos die sluipmoord op me. Benazir Bhutto gewys het, moet politieke leiers in Pakistan deurentyd ligloop, onder meer weens simpatiseerders met militante groepe binne die Pakistanse veiligheidsgemeenskap.
Amerikaanse intelligensie- en teenterrorisme-mense kyk toenemend na militante in die Kasjmir-gebied, veral die Pakistanse groep Lashkar-e-Taiba, skryf The New York Times. Amerikaanse en Indiese intelligensiedienste het in die verlede reeds Kasjmirse militante met behulp van onderskepte kommunikasie met terroriste-aanvalle verbind.
Die enigste Moembaai-terroris wat oorleef het en gevang is, het reeds laat blyk dat sy makkers Pakistani’s was. Hulle het ses maande lank opleiding hiervoor gekry, en die plan was volgens hom om minstens 5 000 mense te vermoor en minstens een gebou met ’n bom te pletter te skiet.
Die groep het gedurende die aanval boonop nie-Indiese selfone gebruik en oproepe van buite die land ontvang.
Lashkar-e-Taiba het in die verlede opleiding en logistieke steun van Pakistan se magtige spioenasiediens genaamd die ISI ontvang.
Die Pakistanse regering het hieroor in groot mate anderpad gekyk. Lashkar-e-Taiba word reeds jare in Amerikaanse en Indiese kringe aanspreeklik gehou vir geweld waarin prominente teikens in Indië aangeval word, onder meer die aanval in 2001 op die Indiese parlement in Nieu-Delhi.
Luidens ’n verslag van die Amerikaanse departement van buitelandse sake is Lashkar-e-Taiba “een van die grootste en doeltreffendste Kasjmirse militante groepe”.
Die groep word onder meer gefinansier deur ’n frontorganisasie genaamd Jamaat ud-Daawa, wat liefdadigheidswerk doen onder slagoffers van die aardskudding in 2006 in Kasjmir.
Prof. P.R. Kumaraswamy van die Jawaharlal Nehru-universiteit in Nieu-Delhi is erg krities oor sy land se veiligheidsgereedheid in die geval van terreur. Hoekom moes spesmaglede van Nieu-Delhi ingevlieg word na Moembaai, wat immers Indië se belangrikste kommersiële sentrum en die kwesbaarste teen terrorisme is? vra hy in ’n stuk wat deur die Universiteit van Pretoria se sentrum vir internasionale politieke studie elektronies gepubliseer is.
Die dagblad Daily News & Analysis doen ’n siedende aanval op politici en burokrate wat die sentrale regering en die deelstaatregerings bestuur.
Ondanks ontploffing op ontploffing lyk dit of niemand ’n benul het hoe hierdie bedreiging hokgeslaan kan word nie. Die ondersoeke is halfhartig uitgevoer met lukrake inhegtenisnemings, sonder dat by die ware beplanners van hierdie aanvalle uitgekom is.
“Dit is hoog tyd dat almal hul plig begin doen. Die regering moet ’n doeltreffende intelligensiemeganisme op die been bring en aan die polisie meer toerusting en magte gee om hierdie uitdagings te hanteer,” skryf die Daily News & Analysis.
Prof. Suketu Mehta, joernalistiekdosent aan die Universiteit van New York en skrywer van Maximum City – Bombay Lost and Found, skryf in The New York Times dat as die res van die wêreld wil help, hy reguit na die terreurtonele moet hardloop en geld daar moet bestee.
“Waar anders gaan jy veilig wees? New York? Londen? Madrid? Ek bespreek dus ’n vlug na Moembaai, waar ek dadelik ’n bier in die Leopold gaan drink . . .”
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |