|
|||||||||||
|
| VIND: |
Boeke
Van skrik tot medelye - Zimbabwe 2009
28/06/2009 06:37:28 PM - (SA)
‘n Blanke Engels-onderwyser van in die sestig word wederregtelik uit sy pos by ’n hoërskool in Bulawayo ontslaan. Daarna stamp hy met sy (onversekerde) ou Ford Cortina per ongeluk die voorlamp van ’n splinternuwe Mercedes stukkend. Die spogmotor behoort aan een van die vele bywywe van ’n ZANU-PF-kabinetslid, die minister van “Kinderwelsyn, Lekkergoed en Koekies”.
Hulle skik buite die hof: me. Beauticious Nyamayakanuna (“Lekkervleis” . . . ) kry Mister George se huis, meubels, boekery, huisraad. Voortaan bly hy in die kaia agterop die werf en word hy haar kombuisjong. Sy spreek hom in Chilapalapa (die Zimbabwiese variant van Fanagalo) aan. Hy moet uniform dra: kort kakiebroek en hemp, tekkies en ’n rooi fes met ’n tossel aan. In die kombuis maak hy smulkos vir sy miesies; self kry hy ’n weeklikse rantsoen mieliemeel om buite op ’n vuurtjie stywepap mee te kook. Na hy met sy kombuiswerk klaar is, gee hy vir die Madam se kinders (gratis) les oor Macbeth en Othello.
Soms “leen” sy hom aan van haar vriendinne as chauffeur uit. Wanneer die hoof van die tronk ’n taak oor die letterkunde moet inlewer, laat hy George summier in hegtenis neem sodat laasgenoemde die opstel vir hom kan dikteer. En so meer.
Was dit alles nie so na aan die werklikheid nie, sou ’n mens geneig wees om te sê dis ’n klug. Allesbehalwe. Dit is, inteendeel, letterlik skrik-wekkend.
John Eppel is ’n bekroonde digter (wenner van die Ingrid Jonker-prys) en ’n satirikus van naam, maar waar sy vorige romans op meesal goedige wyse met die belaglikhede van (veral) Homo Zimbabwiensis die spot dryf, pak hy met hierdie jongste kort boek indringender temas aan en ontleed hy as ’t ware van binne af die paradoksale fenomeen van ’n blanke landsburger in die hedendaagse Zimbabwe.
Hoewel daar skerp gespot word met die nouveaux riches se na-apery van hul vorige koloniale meesters, is Eppel se bedoeling hier veel dieper en strek sy verwysingsveld oor feitlik die hele Engelse letterkunde heen. Veral die groot tragedies van Shakespeare tree sterk na vore: die ooreenkomste tussen die hoofkarakter en koning Lear is nie toevallig nie. Maar selfs die sinspeling op die groot raap wat niemand uit die grond kan uitpluk nie, het baie wyer betrekking as die kinderverhaaltjie waaraan dit ontleen word.
Waar ’n satirikus normaalweg geneig is om sy aandag sonder veel meer op blote beskrywing van ’n bepaalde sosiale bestel toe te spits, en dit uiteraard oppervlakkig te doen ten einde sy eie spesifieke uitgangspunt te staaf, kry die leser hier egter heel fyn karakterisering, verrassende intrige-ontwikkeling, onverwagte uitbeelding van opregte medemenslikheid en ’n deurgronde realisme wat die verhaal stewig binne ’n herkenbare werklikheidsfeer veranker.
Daardeur word die onafwendbare uiteinde eg tragies: die skrik gaan oor in hartverskeurende medelye. Die kringloop word volbring.
Daar is soveel meer wat ’n mens oor hierdie boek wil sê – oor die digte maar nooit verwarrende verstrengeling van temas, by voorbeeld, of die besonder akkurate dialoog, die afwisseling van skryfstyle – maar ruimtebeperkings laat dit net nie toe nie. Slegs ’n meesterverteller kan dit alles binne die bestek van 145 bladsye vermag. Ek sal wil aanbeveel dat elkeen die geleentheid aangryp om self deur hierdie boek aangegryp te word.
) Jacana Media, johannesburg. (sagteband, 145 bladsye, ISBN 9 781 77009 711 7.)
) malcolm hacksley is direkteur van NELM in grahamstad.
Fiksie
ABSENT - THE ENGLISH TEACHER
John Eppel
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |